Ivor Swartz: Jou storie se einde word nie deur die begin bepaal

Ivor Swartz, skrywer van ‘Die verlore seun vannie Gaatjie’ (Foto: Ivor Swartz/Facebook)

Hy word as een van die belangrikste stemme in Suid-Afrika bestempel. Ivor Swartz is ’n brugbouer, iemand wat grense oorsteek en lewens aanraak. Hy het met Maretha Botes oor sy diep liefde vir mense, vaderskap en sy hart vir die land se jongmense gesels.

Dalk ken jy Ivor se storie. Laaitie uit die Gaatjie, die ghetto van Grabouw. Vaderloos op drie. Moordenaar en tronkvoël op vyftien. Die storie eindig egter nie hier nie. “Niémand se storie hoef te eindig soos dit begin het nie,” sê hy.

Vroeg verlede jaar is dié man as deel van NG Pretoria-Oosterlig se leraarspan bevestig. Noemenswaardig. Ook dié dat hy as brugbouer beskou word. Hy verduidelik: “Die kontras van waar ek kom en die omgewing waarin ek my nou bevind, is baie groot. Ek moes bereid wees om my grootwordjare, my konteks, agter te los en ’n grens oor te steek. Ek kan nie op die kantlyn bly staan en sê hoe probleme opgelos moet word nie. Vir Suid-Afrika om gesond te word, moet grense deur alle mense vanaf alle kante oorgesteek word. En binne dié spasie moet ons mekaar uitdaag, mekaar saamnooi en mekaar se kontekste begin verstaan.”

Sy grootwordjare wens hy vir geen kind toe nie. Sy pa is dood toe hy drie was. Hierna het sy ma hom en sy sibbe alleen grootgemaak en sy oudste broer, Deon, het ’n gesagsfiguur in die huis geword. Dié het kort voor lank in ʼn monster ontaard wat die gesin op elke moontlike manier geterroriseer het. Op vyftien verwek hy ’n dogtertjie by sy tienermeisie, maar wil niks van die ma óf kind weet nie (tot baie jare later). En nie lank hierna nie is Ivor tronk toe gestuur nadat hy en die bende waarvan hy lid was Deon geskiet het. Deon is ʼn paar dae later in die hospitaal oorlede. Na vyf jaar tronkstraf is Ivor vrygelaat en moes hy die wêreld in. Dit was ʼn angswekkende tyd in sy lewe. Hy was dikwels eensaam en bang, maar was oortuig dat hy enigiets kan face en oukei anderkant sal uitkom. Vandag is hy ’n vurige jeugleier, motiveringspreker, skrywer en ʼn pa van van twee. Ivor en Nadine se eersteling, Luther, is maar ’n paar weke oud. Oor sy dogter uit sy tienerjare sê hy dat hy besig is om ’n verhouding met haar te bou. “Ons (ek en my dogter) probeer bou aan ’n storie saam, al weet ons nie aldag hoe dit moet loop nie. Sy bou ook aan haar eie storie. Daarom wil ek nie haar storie beperk deur te veel oor haar te sê nie. Sy moet mettertyd haar eie storie skryf en vertel. Dit moet gekoppel wees aan wie God haar gemaak het,” sê Ivor. Sy boek, Die verlore seun vannie Gaatjie, is verlede jaar vrygestel waarin hy sy lewe met lesers deel. Hy beantwoord ʼn paar van Maretha se vrae:

Vaderloosheid het ʼn merkwaardige invloed op jou lewe gehad. Jy is egter self ʼn pa en gesagsfiguur. Hoe gebruik jy dit wat jy ervaar het nou in jou eie lewe?

Ivor Swartz se boek. (Foto: Facebook)

Ons sit met ’n tikkende tydbom rondom vaderloosheid. Een van my groot passies is om te help uit-figure hoe jy die kind wat sonder ʼn pa grootgeword het kry om nog steeds die storie te help skryf wat hy besig is om te leef. Die begin van ʼn mens se storie is nie noodwendig ’n aanduiding van die einde van jou storie nie. Om sonder ’n pa groot te word shape jou lewe op maniere wat ons nie noodwendig in ons samelewing erken nie, want ons glo daar is ’n gogo, daar is ’n ma, daar is anties. Altyd vroue, sterk vroue, wat allerlei rolle vertolk. Hulle is die dissiplineerders, hulle is die versorgers, maar hulle kan nie die rol speel wat veronderstel was om deur ʼn pa gespeel te word nie. My vaderloosheid bly vir my ’n letsel wat ek saamdra. Dis nie meer ʼn wond wat ek elke dag lek en vertroetel nie, maar dis ’n merk wat daar is en ek weet dit het bygedra tot die meeste van die groot verkeerde besluite wat ek in my lewe gemaak het. Die dag toe Nadine sê sy’s swanger het daar vrae by my ontstaan. Ek het gewonder – Gaan ek genoeg wees? Het ek wat nodig gaan wees – die nodige skills, waardes, empatie en deernis … Het ek wat dit vat om die kind die wêreld in te stuur? Dit dryf ʼn groot deel van hoe ek na Luther kyk. Hy’s nou maar eers ʼn paar weke oud. Ek skryf vir hom briewe in ʼn blou mole-skin journal, en daai twee vrae is die dryfkrag van alles wat ek vir hom skryf. Ek vat hom saam met my op die reis dat as hy eendag kan lees hy kan weet ek het nie geweet nie, en ek weet nog steeds nie hoe om dié ding te doen nie. Maar hy sal weet dat ek alles sal doen wat dit vat vir hom om gesond groot te word.

Wat is tans aan die gebeur onder die jeug. Waar staan hulle ten opsigte van kultuur, geloof en leierskap?

Ons sit met ’n generasie wat eerstens nie meer hulle cues, hulle manier van hoe om na die toekoms te kyk, by die tradisionele bronne kry nie (die kulturele stemme van ouds soos die skool, huis en kerk). Omdat die grense tussen alle mense op alle vlakke nou oop is, kry hulle hul cues van bekendes op sosiale media. Dit is ’n influencer-kultuur. En ek is in my bediening baie sterk daarop gefokus. Kinders verwar die rolle van hierdie influencers en rolmodelle met mekaar. Daar is ’n reuseverskil tussen die twee. ʼn Influencer is ’n kitsoplossing om ʼn gevoel te kry dat jy gewild is, dat jy iemand is en dat mense van jou hou. Dit gaan oor bemarkingstrategieë, hoe om vinnig likes en volgelinge te kry. By ’n rolmodel gaan dit oor die lang termyn, oor egtheid, waardes en karakter, iemand se foute, iemand waarin hy glo. En ek kan sien hoe hulle (die jongmense) elke keer meer na die influencer-kultuur gryp, want dit is ʼn kitsresep. Die ander groot ding wat ons wêreldwyd sien is die eensaamheid en depressie onder jongmense. En dit raak ál die kinders. Van die ooste van Pretoria, die Kaapse Vlaktes, die Vrystaat. Ek was onlangs by ʼn paar skole in verafgeleë gebiede in die Vrystaat. Die depressie, selfmoordneigings en eensaamheid onder die kinders daar het my diep geraak. Dit stem uit daai ding van daar’s nie ’n pa by die huis nie, nie leiding (deur ʼn gesagsfiguur) of kos nie. Hulle dink “ek weet ek gaan dit nie maak nie, ek weet daar is nie ʼn toekoms nie.” Ons dink die kinders is te dom om die goed wat in die wêreld aangaan te verstaan. Hulle voel dit aan hulle lywe, hulle sien dit op hulle fone. Vir die eerste keer sit ons met ʼn generasie wat vir hulself die feite gaan google. En jy weet wat? Hulle bom heeltemal uit. Voeg hierby ʼn klomp rassespanning en jy het ʼn kookpot wat met rampspoedige gevolge gaan ontplof.

Nadine en Ivor Swartz saam met hulle seuntjie Luther. (Foto: Facebook)

Wat kan ons hieraan doen?

Dit pla my in my diepste wese. Ek vat elke dag, aanmekaar, een gebed na God toe, en dit is: “Here, wys my wat ek met die gawes wat jy my gegee het kan doen, want ek weet nie meer nie.” Voor Covid het ek omtrent tagtig skole ʼn jaar gesien. In die laaste twee maande het ek ten minste 24 skole gaan besoek. En ek is onder geen illusie van my werk nie – dit is touch and go. Ek gaan in, ek inspireer die kinders, ek drop a few nuggets. Ek is nie naïef oor my rol nie. Ek besef ek krap net die oppervlak. ʼn Groot deel van my werk by skole is as ek met die kinders praat oor presies wat met my gebeur het, hier’s hoe ek daaruit gekom het, hier’s hoe ʼn onderwyser ʼn rol gespeel het. Ek is egter baie erg daaroor en plaas baie klem by jongmense daarop dat hulle móét praat. Gaan praat met die berader. Jy kan nie hierdie gewig alleen dra nie. Ons moet besef daar moet voltydse maatskaplike werkers by skole wees. Behalwe dít, het ons ’n ander aanslag nodig om kinders gemaklik te maak om met dié mense te gaan praat. Dit moet normaal wees en cool wees en heeltemal oukei wees om met so ʼn persoon te gesels. Dié ding dat die berader of maatskaplike werker iewers in ʼn donker gangetjie in ʼn klein kantoortjie weggesteek word maak die kinders huiwerig. Daar kleef ʼn stigma daaraan om te gaan praat. Ons jongmense het maar baie druk. Hulle het soveel naskoolse aktiwiteite, hulle moet presteer en daar’s nie tyd om net te wees nie. Dis nodig om weer balans en teenwoordigheid (van ouers) terug te bring. Nóg ʼn kopseer is die diskonneksie wat tussen die kind, gesin en kerk bestaan. Daar is ʼn leemte en dit is vir kinders moeilik om die skakels tussen die drie te vind.

Wat wil jy hê met Luther van jou verlede weet?

Hy moet besef die gebrokenheid van die lewe tref ons almal. Hy moet weet ek is ’n gebroke mens deur twee goed wat my gevorm het: ander mense se besluite en my eie besluite. Hy moet daaruit leer dat hy nooit teen seer en lyding en gebrokenheid gevrywaar sal word nie. Hy kan dit nie vryspring nie, maar hy kan verhoed dat die wydte en diepte van die gebrokenheid groot wonde los. Hy moet ook uit my storie leer dat God enige, enige vorm van swaarkry of vorm van verkeerde besluite kan herstel. Hy kan dit doen. Ek weet nie hoe hy na God gaan kyk nie. Hy gaan die beste prentjie, die mooiste prentjie en die sterkste prentjie van God deur my en Nadine se huwelik en ons uitbeelding van wie God is, kry. Maar hy moet kan sien alles is vir God herstelbaar. Daar is niks van ons stories wat by God verbygaan wat nie herstelbaar is nie. Die laaste ding wat hy moet weet, is dat ek deur ’n klomp verlorenheid in my lewe gegaan het, maar ek het myself daartoe verbind dat hy (Luther) nie alleen hoef te voel wanneer hy verlore voel nie. Hy sal altyd ʼn huis hê, hy sal altyd ʼn veilige hawe hê, hier by ons.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Vrijburger

Wens jou seen en voorspoed toe op jou ‘storie’ vorentoe.