Ja, tweedehandse onderklere kan ’n verskil maak!

Jeanette Kruger is die stigter van die ZABRA – AfreeBra-inisiatief. (Foto: Verskaf)

Deur Maretha Botes

Dink twee keer voordat jy jou ongebruikte onderklere wegsmyt of in ʼn donker hoekie wegbêre. Duisende vroue en jong meisies wêreldwyd ken nie die luukse van ʼn bra of broekie nie. Deur jou ongebruikte items te skenk, kan jy ʼn baie groot impak op ʼn vrou of meisie se lewe maak.

Ek dink nie twee keer wanneer ek soggens my bra vasknip of die nodige ondergoedjies aanglip nie. Vir my is dit ʼn vanselfsprekende deel van my daaglikse roetine. Redelik onlangs kon ek ook my dogter met haar eerste bra bederf. Dis deel van die lewe. In die donker hoek van my kas lê daar selfs ʼn paar ondergoedjies wat een keer gebruik is en nie heeltemal gemaklik gesit het nie. Gooi ek dit weg? Géé ek dit weg? Na my gesprek met Jeanette Kruger, stigter van ZABRA – AfreeBra-inisiatief (soos in “a free bra”) – gaan dié goedjies beslis na iemand wat nog nooit die luukse van ʼn bra of broekie geniet het nie.

Jeanette, wat al amper twintig jaar in Londen woon, het in 2015 vier splinternuwe bra’s gehad – etikette steeds aan – wat nie gepas het nie. Sy kon dit nie terugneem winkel toe of omruil nie, want die teruggeetyd het toe reeds verstryk. Die meeste liefdadigheidswinkels by wie sy was om die bra’s te skenk, het gesê hulle gooi tweedehandse onderklere in die “blik”. ʼn Vierde winkel het genoem hulle het ʼn herwinningsbeleid vir sulke klere. Dit beteken bloot die onderklere wat splinternuut is, met ʼn etiket steeds aan, word saam met die res aan herwinningsorganisasies verkoop. Dié organisasies stuur die beste kwaliteit na Derdewêreldlande waar dit ook maar verkoop word. In baie gevalle beland dit op die ashoop, of word dit in ander produkte verwerk. Baie eindig steeds maar net in die blik.

Jeanette besluit toe om haar ongebruikte bra’s met haar volgende kuier in Suid-Afrika saam te bring. Geselsies met vriendinne oor haar bra-planne, het vinnig daartoe gelei dat sy met nóg 36 bra’s sit. Dié, het sy geglo, is haar eerste en laaste insameling en het by liefdadigheidsorganisasies in Suid-Afrika beland. “Ek het besef hoe groot die nood is, en dat ek eintlik nie kan ophou om bra’s in te samel nie,” sê sy. “Baie van die organisasies met wie ek begin kontak maak het, het gesê hulle benodig bra’s, maar ook onderbroekies. Hulle kry skenkings van sanitêre doekies, maar die dogters en vroue het nie broekies om dit in te dra nie; ʼn reuse-uitdaging.”

ZABRA is vandag ʼn internasionale vrywilligersnetwerk wat gebruikte en nuwe bra’s en onderbroekies vir vroue insamel wat nie hul eie kan bekostig nie. “As ʼn vrou tussen onderklere vir haarself of kos vir haar kinders moet kies, gaan sy beslis laasgenoemde kies. Ons wil ʼn verskil in daardie vrou se lewe maak,” sê Jeanette. Ons werk direk met die organisasies wat ʼn verskil aan hierdie vroue se lewens maak. Vrywilligers in lande soos Suid-Afrika, die VSA, Nederland, Engeland, Duitsland, Frankryk, Italië en die Verenigde Emirate sorg dat geskenkte bra’s hul pad na liefdadigheidsorganisasies in Suid-Afrika, Botswana, Ghana, Namibië, Zimbabwe en ander Afrika-lande, asook verskeie vlugtelingkampe in die Midde-Ooste, saam met mense wat na dié lande reis, vind. Dit is gratis om bra’s op dié manier te stuur, maar as jy dit apart verskeep, is daar papierwerk en kostes aan verbonde.

‘n Berg van onderklere wat ZABRA ingesamel het vir mense wat nog nooit die luukse van ‘n bra of broekie geniet het nie. (Foto: Verskaf)

ZABRA het sedert sy bestaan meer as 100 000 items na meer as 30 lande gestuur. Op dié manier het hulle 6 500 kg (ongeveer sewe ton) perfekte, bruikbare items uit die ashope gehou.

Terugvoer van vroue en meisies wat vir die eerste keer in hul lewe ʼn bra of broekie kry om aan te trek, is hartroerend.

“Ons kry gereeld organisasies wat noem dat hulle ʼn bra aan ʼn bejaarde vrou kon gee wat nog nooit in haar lewe die voorreg gehad het om een aan te trek nie. Skoolhoofde laat weet dat hul skooldogters nou uiteindelik aan sport kan deelneem danksy hierdie bra’s. Nog ʼn organisasie het laat weet hulle kan uiteindelik sanitêre doekies uitdeel, want nou is daar broekies om dit in te sit,” sê Jeanette.

“Ek het in ʼn stadium teruggedeins vir die idee om ʼn gebruikte broekie aan iemand anders te skenk. Toe ʼn organisasie egter aan my noem dat, as dit skoon en in ʼn goeie toestand is, meisies wat dit nodig het dit steeds kan gebruik, het my idee hieroor verander.”

ʼn Paar jaar terug het ʼn man van Ghana Jeanette kom help om bra’s vir ʼn welsynsorganisasie in dié land te sorteer. Sy vertel: “Ek het ʼn stelsel wat my help om die produksielyn te laat vloei. ʼn Boks vir ‘glad nie’ (bra’s wat ek dink nie bruikbaar is nie), ‘miskien’, en ‘ja!’. Dié man het op ʼn stadium deur die ‘miskien’-boks gegaan en byna al die bra’s uitgehaal. Hy het ook uit die ‘glad nie’-boks ʼn hele spul gehaal. My mond het oopgeval. Hulle het ʼn naaldwerkprojek waarmee al hierdie ‘onbruikbare’ bra’s uitmekaar gehaal word en die materiaal, kant, hakies en ogies vir ander dinge gebruik word. Oor die ‘miskien’-bra’s het hy gesê ʼn vrou sal liewer ʼn bra vir drie maande gebruik as om glad nie een te hê nie.” Toe ʼn vriendin van Jeanette haar huishulp vra of sy ʼn bra het, het dié geantwoord sy het twee. Een wat sy werk toe dra, en een wat sy Sondae kerk toe dra. “Ek het dadelik vir haar bra’s uit ons bokse gaan haal. Dié vroue word gehelp,” sê Jeanette.

Skoolhoofde laat weet dat hul skooldogters nou uiteindelik aan sport kan deelneem danksy hierdie bra’s. (Foto: Verskaf)

Vir ZABRA gaan dit daaroor om meisies en vroue hul selfwaarde terug te gee, om selfvertroue te help bou en ʼn verskil in mense se lewens te maak.

Jeanette staan dikwels verstom oor die algemene publiek se onkunde oor die nood aan onderklere onder vroue. “Só dikwels hoor ek vroue sê hulle weet nie wat om met hulle gebruikte onderklere te doen nie. Hulle wil dit nie dra nie, maar wil dit nie weggee nie. Ons het nodig om ʼn bewustheid te kweek oor hoe groot die nood is, en dat ons elkeen kan help. Jou onderklere kan iemand se lewe verander.”

Wil jy skenk?

Broekies en bra’s is intieme items. Daarom is daar een of twee dinge wat jy moet weet voordat jy skenk:

  • Broekies moet in ʼn goeie toestand wees, skoon gewas en sonder vlekke.
  • Bra’s moet in ʼn goeie toestand wees. Dit moet verkieslik nie uitgerek wees nie, en as die drade begin uitsteek, trek dit uit sodat die bra drabaar is.

Daar is reeds versamelpunte in Richardsbaai, Durban, Johannesburg, Pretoria en Kaapstad. As jy nie naby een van dié sentra is nie, kan jy vir Jeanette kontak en sy sal ʼn plan maak.

Jeanette kan by [email protected] of deur hulle Facebook-blad gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.