JacarandaFM se waterprojek wil Kaapstad help

JacarandaFM sal eersdaags poog om die Loftus Versveld-stadion in Pretoria tot kapasiteit te vul tydens die Superrugby-kragmeting tussen die Vodacom Blue Bulls en die DHL Stormers op 31 Maart.

Luidens ʼn persverklaring van JacarandaFM, sal dié radiostasie se “Project Waterdrop” spesifiek fokus op die installering van boorgate met sonkragpompe by skole in die Wes-Kaap wat die swaarste geraak is, teen ʼn geraamde minimumkoste van R50 000 elk.

Dit is gerat om ʼn dag van rugby en vermaak deur kunstenaars soos Dewald Wasserfall, Jack Parow en Martin Bester te wees.

“Nadat ons gevra is hoe ons dink die Hoofstad die Moederstad kan help, het JacarandaFM se luisteraars gesê hulle soek ʼn plan wat volhoubare, betekenisvolle en koste-doeltreffende hulp verleen aan kwesbare mense wat in Kaapstad woonagtig is,” het Kevin Fine, algemene bestuurder van die stasie, gesê.

“Die Kaapstadse Waterkrisiskomitee het bevestig dat landelike skoolgemeenskappe in hierdie geval die mees kwesbare is. Sonder water kan die ablusiefasiliteite by hierdie skole nie gebruik word nie. So in kort: Geen water, geen skool,” het Fine bygevoeg.

Volgens Fine het JacarandaFM se luisteraars in 2016 nagenoeg twee miljoen liter water oor drie provinsies in Suid-Afrika geskenk, in ʼn verbysterende tyd van net 48 uur. “Ons weet ons het die mees vrygewige luisteraarsgemeenskap in Suid-Afrika.”

Verder sê hy: “Of jy nou die Vodacom Blue Bulls of die DHL Stormers ondersteun, enige ander rugbyspan ondersteun of geen rugbyspan ondersteun nie, ons doen ʼn beroep op jou om asseblief die wedstryd op 31 Maart by te woon om jou ondersteuning te wys. Saam kan ons ʼn praktiese en volhoubare impak maak op die skole in die Wes-Kaap wat desperaat is vir hulp met hul waterinfrastruktuur.”

Individue kan “Project Waterdrop” op vier maniere ondersteun:

  • Deur die Wedstryd op die 31ste Maart by te woon om hulle ondersteuning te toon en op die dag ʼn geldelike bydrae te maak.
  • Om by te dra via die “2018 Project Waterdrop”-blad van die Ticketpros-webtuiste, waar donasies in R20-inkremente gemaak kan word.
  • Deur ʼn donasie direk aan Jacaranda FM se Good Morning Angels te maak: FNB-rekening, takkode 255005, rekeningnommer 62411883590 met “ProjectWaterDrop” as verwysing.
  • Deur te help om die woord oor hierdie inisiatief op sosiale media te versprei met die hutsteken #ProjectWaterDrop en #CC4CT (Capital City for Cape Town).

Maatskappye en individue kan ook kies om ʼn skool, of skole, aan te neem deur die volle R50 000 per skool te dek. Hulle kan dit doen deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected] met “Project Waterdrop Adopt A School” as onderwerp en die besonderhede van hulle bydrae in die e-pos.

“Hierdie projek pas perfek by die hart van die stasie,” het Fine bygevoeg. “Ons is die stasie wat streef daarna om ʼn betekenisvolle en blywende impak op Suid-Afrikaanse gemeenskappe te maak, terwyl ons ʼn stem gee aan passievolle Suid-Afrikaners wat in staat en gewillig is om ander in nood, in hulle tyd van nood, te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Koos1 ·

Hoe nou Jacaranda? Nadat julle ‘n sekere bevolkingsgroep so te sê verjaag het van julle stasie, wil julle nou hê dat hulle moet help om julle naam weer op te bou?

Koos ·

‘Tsek Jacaranda! Hulle probeer ons gebruik om hulle beeld te poets. Jammer, daar is talle ander inisiatiewe vir wie ek my waterdonasie sal gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.