Jagters plaas armoede in visier

Verona Goslett van The Voice-faam het gesorg vir vermaak saam met Adam Tas. (Foto: Verskaf)

Verona Goslett van The Voice-faam het gesorg vir vermaak saam met Adam Tas. (Foto: Verskaf)

Sowat 300 jagliefhebbers van Gauteng en Limpopo het die afgelope naweek hul harte en beursies oopgemaak vir Solidariteit Helpende Hand se #HelpJag-veldtog. Dié veldtog poog om armoede en honger hok te slaan.

Volgens Margolé Riekert, Solidariteit Helpende Hand se koördineerder van #HelpJag, is nagenoeg R200 000 is verlede Vrydagaand tydens die #GaanBos-galageleentheid, ʼn eerste van sy soort, ten bate van #HelpJag ingesamel.

“Die gala-aand was die hoogtepunt van die afgelope naweek se gewilde Wild-, Jag- en Agri-ekspo wat by Castle de Wildt in Modimolle gehou is,” het Riekert in ʼn mediaverklaring gesê.

Bekendes soos Bakkies Botha en Adam Tas het saam met twee beroepsjagters, Jaco Kruger en Riaan Botha, aan ’n paneelgesprek deelgeneem en hul jagstaaltjies met die gaste gedeel. Tas en Verona Goslett van The Voice-faam het die gaste vermaak terwyl Hamilton Wessels as seremoniemeester opgetree het.

Die beroepsjagers Jaco Kruger (links) en Riaan Botha. (Foto: Verskaf)

Die beroepsjagers Jaco Kruger (links) en Riaan Botha. (Foto: Verskaf)

Tas het ook meer verklap oor ʼn nuwe televisiereeks, Byt en buskruit, wat hy binnekort saam met bekende gaste gaan opneem. Die reeks bestaan uit 13 episodes en beloof eindelose vermaak aan enige persoon wat van jag, visvang en avontuur hou.

Volgens Riekert is daar ook ʼn gelukkige trekking en ʼn veiling aangebied. “Een van die kunstenaars, Natalie Sutton, se gewilde Kobok-kunswerke is opgeveil en het ʼn bedrag van R40 000 gehaal,” het sy gesê.

Die Professional Hunter’s Association of South Africa (Phasa) se Conservation and Empowerment Fund het ook tydens die geleentheid ʼn ruim skenking van R50 000 aan #HelpJag gemaak.

Riekert het verduidelik dat #HelpJag saam met Helpende Hand se Kosblikkie-projek ook wildsvleis aan 6550 behoeftige kinders in 83 kleuterskole landswyd versprei.

Nagenoeg 300 jagliefhebbers van Gauteng en Limpopo het die geleentheid bygewoon. (Foto: Verskaf)

Nagenoeg 300 jagliefhebbers van Gauteng en Limpopo het die geleentheid bygewoon. (Foto: Verskaf)

“Vleispryse het só gestyg dat daar nie altyd geld vir ʼn gesonde bord kos, met vleis as deel van die spyskaart, is nie. Dit het vir ons duidelik geword dat daar baie jagters is wat graag ʼn bydrae wil lewer deur die vleis van ʼn bok wat hulle gejag het te skenk om ʼn behoeftige Afrikaner-kind se lewe makliker te maak,” het Riekert gesê.

“Vir baie van die kleuters is hierdie bord kos die enigste kos wat hulle daardie dag sal kry. Daarom is dit van kardinale belang dat hierdie bord kos voedsaam is. Die aanwesigheid van ’n hoë-proteïen dieet, soos wildsvleis, verbeter die kleuter se kanse om gesond te ontwikkel en dra by tot verhoogde konsentrasie en prestasie op skool,” het sy bygevoeg.

Om by #HelpJag betrokke te raak, SMS die woord JAG na 39950. SMS’e kos R2. Vir meer inligting, besoek www.helpjag.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bossie ·

Fantasties. Dankbaar. Prysenswaardig. Ons salueer hierdie inisiatief en die stigters daarvan. Hierdie gaan groot raak. Ek sê nog altyd dat daar geen hart soos ‘n Afrikaner hart is nie…

Phillip Bruwer ·

Dankie vir die positiewe gesindheid Bossie, ons hier by Helpende Hand voel dieselfde.

Vriendelike groete
Phillip, nms. Helpende Hand

Gemaskerde Sopbeen ·

En Maroela Media sal NIE my kommentaar plaas nie……….en dis hulle goeie reg. Die waarheid is egter dat aksies soos hierdie, en ons plaaslike sangers se “stop honger” die boodskap aan Afrika oordra “You breed them, we feed them”!!! Nêrens in Suid of selfs Afrika is daar ‘n aksie wat mense inlig oor die voordele van geboortebeperking, en die nadele van oorbevolking nie……………wat in 90% verantwoordelik is vir die “hongeres” wat nou gevoer moet word met dooie bokke se vleis want hulle ouers kan hulle nie bekostig nie!!! Jy verlig nie armoede deur te bly gee nie en versorg nie……..jy beperk armoede deur minder armoediges te kweek!!!

Jagter ·

Sopbeen, wil jy nou he ons moet die kinders laat dood gaan van honger oor hulle ouers se foute. As jy mooi lees is dit vir Afrikaanse kinders gedoen. Die regering skenk niks aan enige Afrikaanse instelling nie. Indien jy betrokke is by so voorkomings organisasie, laat weet my asb, dan raak ek ook betrokke. Maar nie 1 van daai wat net kondome by die skool uit deel nie. Maar ek sal vandag n weddenskap aan gaan daat jy by niks betrokke is nie en slegs voor jou rekenaar sit en redes uit dink om mense te kritiseer

Bossie ·

Dit word opreg bedoel Phillip. Dankie vir wat julle vir hierdie kinders doen. Ons bid vir God se Hand oor julle hartlikheid en daarmee ook alle se seën hiermee toe. Groete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.