Jakaranda-kinderhuis se liggies skyn steeds vanjaar

Die Jakaranda-kinderhuis se liggiefees word vanjaar saam met EnterActive Productions by Greenlyn Village-sentrum aangebied. (Foto: Verskaf)

Die Jakaranda-kinderhuis in Pretoria se bekende jaarlikse liggiefees word nou wel vanjaar in ’n ander formaat aangebied weens talle Covid-19-regulasies, maar dié fees gaan ondanks talle uitdagings voort.

Die liggiefees word vanjaar by die Greenlyn Village Centre se Greenlyn-kersmark aangebied, waar liggies van alle grotes en kleure die publiek sal betower in ʼn poging om geld ten bate van die kinderhuis in te samel. EnterActive Productions is die organiseerders en gasheer van die fees en GROOTfm 90.5 is die amptelike mediavennoot.

Charlene Grobler, hoof van die Jakaranda-kinderhuis, sê dit gaan steeds ʼn fees vir die oog wees en ʼn geleentheid wat jonk en oud sal geniet.

Pragtige, kleurvolle stalletjies met ʼn Kerstema en vriendelike handelaars sal tydens die nagmark onder andere handgemaakte geskenke en watertand gebak te koop aanbied.

“Selfs al gebeur daar iets wat veroorsaak dat ons liggies vir ʼn oomblik afgeskakel moet word, gaan die stalletjies by die mark steeds voort. ʼn Gedeelte van elke kaartjie wat verkoop word aan ʼn nagmarkganger, gaan ook net so na die kinderhuis toe. Dus gaan ons steeds daaruit baat,” verduidelik Grobler.

“Dit beloof om ʼn merkwaardige ervaring te wees vir die hele gesin.”

Die liggies word eers vanaf 4 Desember opgesit en op 10 Desember kry die kinders wat in die kinderhuis tuisgaan die geleentheid om die liggies te sien voordat nagmarkgangers die liggies vanaf 11 Desember kan besigtig.

“Toe ons ʼn dekade gelede met die liggiefees begin het, was dit nie om geld in te samel nie, maar eerder om vir die kinders in ons kinderhuis wat nie die geleentheid kry om weg te gaan vir die vakansie nie, die boodskap en ʼn atmosfeer van Kersfees te skep,” verduidelik Grobler.

“Die liggiefees wat ons vir die kinders van ons kinderhuis op 10 Desember aanbied, is deel van hulle vakansiebeplanning en hulle sien nou al verskriklik uit daarna.”

(Foto: Verskaf)

Sy sê dit is vir die kinderhuis, waar daar tans 239 kinders tuisgaan, belangrik dat die publiek gehalte gesinstyd saam by die liggiefees moet geniet.

“Mense kan die stalletjies en iets om te eet geniet terwyl hulle deur ons liggieuitstallings betower word.”

Die liggiefees vind van Saterdag 11 Desember tot Sondag 19 Desember by die Greenlyn Village Centre, hoek van Mackenziestraat en Thomas Edison-weg in Menlopark, Pretoria, plaas.

Weens Covid-regulasies is dit in drie sessies ingedeel: die eerste sessie vanaf 17:30 tot 19:00, die tweede sessie vanaf 19:00 tot 20:30 en die laaste sessie vanaf 20:30 tot 22:00.

Kaartjies is by Tixsa beskikbaar: https://tickets.tixsa.co.za/event/jakaranda-liggiefees-at-greenlyn-market

Vir meer inligting oor die fees en hoe om betrokke te raak by die kinderhuis, besoek die Facebook-blad of die webwerf.

Sakeondernemings of individue wat betrokke wil raak by die stalletjies, kan met Dulinda Taljaard kontak maak by 082 467 7434 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.