Jakarandas: Die storie van Pretoria se pers blom

(Argieffoto: Riaan Cronje)

Die jakaranda is beslis Pretoria se bekendste simbool. Dit lok toeriste in Oktober, inspireer gedigte, liedjies, geboue en produkte, en kan volgens legende vir goeie eksamenuitslae sorg as ʼn blom op ʼn Tukkie se kop beland. Pretorianers raak liries oor dié pers blom en van oraloor prys mense sy prag.

Prof. Anton van Vollenhoven, argeoloog en geskiedkundige, vertel dat die oudste lewende jakarandaboom in Suid-Afrika in 1885 in Durban geplant is. Drie jaar later het dit ook die binneland bereik.

“Pretoria se eerste van vele jakarandas is uit Brasilië ingevoer en in 1888 deur Japie Cilliers in Sunnyside geplant, nadat hy twee saadjies by ʼn reisende handelaar gekoop het. Dié twee stamvaders oorleef vandag nog. Burgemeester Ben Swart het in 1939 ʼn plaatjie onthul op die plek waar die twee oorsponklike bome geplant is, om hierdie belangrike gebeurtenis in Pretoria se geskiedenis te herdenk,” vertel hy.

Talle bome het uit hierdie oorspronklike bome voortgespruit. Met die 51ste herdenking van Pretoria se stigting in 1906 het ene JD Clark 200 jakarandabome aan die stad geskenk. Sy rede vir dié skenking? “Omdat die bome pragtig is.”

Daarna is jakarandabome op groot skaal op Pretoria se sypaadjies geplant. Die eerstes is in Bosmanstraat, destyds Kochstraat, en in Arcadiapark geplant. ʼn Klomp van die eerstes het nie oorleef nie, maar is terstonds deur Clark vervang. Danksy sy passie vir dié pers bome het Clark die bynaam van Jakaranda Jim verwerf. Hoewel hy oorspronklik van Grahamstad was, het hy hom in Pretoria gevestig en is hy ook hier oorlede. Hy is ewe gepas onder ʼn jakarandaboom in die Heldeakker begrawe, met sy spesiale bynaam wat ook op sy grafsteen verskyn.

Nog ʼn belangrike karakter in Pretoria se jakaranda-storie was Frank Walton Jameson. Sy kwekery het baie jare lank jakarandabome aan Pretoria se stadsraad voorsien. Teen die tyd dat Jameson die stad in 1920 verlaat het, is minstens 6 000 jakarandabome reeds geplant. Teen 1939 was daar sowat 17 000 jakarandas in die stad en teen 1957 ʼn geraamde 25 000. Tans skat die kenners dat daar minstens 65 000 jakarandabome in Pretoria pryk, waarvan 37 000 die sypaadjies versier.

(Foto: Amanda en Morné Prinsloo)

Daar is ook 100 skaars wit jakarandas in Groenkloof en Wonderboompoort, wat as geskenk vanaf Amerika na Suid-Afrika gereis het.

Die bome het wel ook al vir omstredenheid gesorg, sê Van Vollenhoven. “In die 1970’s en ’80’s het omgewingsgroepe gevra dat die bome verwyder word omdat dit as ʼn bedreiging vir die omgewing beskou is. In 1983 is dit inderdaad as uitheemse plant verbied. Maar die teenkanting was so groot dat die wetgewing daaroor verander is en dit weer toegelaat is. Die kulturele en emosionele belang van jakarandas het op die ou end swaarder geweeg as die feit dat dit indringerplante is.”

Jakarandabome is gehard en pas goed by die plaaslike weerstoestande aan, al is dit uitheemse bome. Dit oorleef die winter se ryp en het nie veel besnoeiing nodig nie, wat die stad se parkeraad moeite spaar. Dit groei vinnig en is teen talle plantsiektes bestand.

Die stadsraad het in ʼn stadium twee jakarandabome geskenk vir elke inwoner wat bereid was om groot bome waarvan die wortels die rioolstelsel beskadig het, te verwyder. Dít is moontlik hoekom Pretoria se mense so ʼn positiewe gevoel teenoor hul persgeblomde bome het, sê Van Vollenhoven.

Die talle pogings om die hoofstad se jakarandas te beskerm, getuig van Pretorianers se liefde vir dié boom. Kunstenaars soos Pierneef en Battiss, wat die pers prag graag met verf vasgevang het, het ook hul stemme by die protes gevoeg wanneer jakarandas weens ontwikkeling verwyder is.

Vandag word jakarandabome wat ʼn natuurlike dood sterf, vervang en vir dié wat weens ontwikkeling en bouwerk verwyder word, word nuwes elders in die stad geplant. Só sorg die stadsraad dat hierdie belangrike kulturele erfenishulpbron van Pretoria in die strate, nes in die harte van die stad se mense, voortleef.

André Meyer beoefen fotografie as ʼn ernstige stokperdjie. “Landskapfoto’s is my gunsteling en ek is mal oor die Jakarandatyd.” Hy het hierdie foto met ʼn Canon 6D en ʼn 16-35 mm F4-lens laatmiddag op die universiteitskampus geneem. Vir meer van sy werk kan jy sy Instagram-rekening besoek. (Argieffoto)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delene ·

My trotse Hometown! Koester nog steeds my groot word jare in die pragtige Jakaranda Stad!

Harley Davidson ·

Die jakarandas het laat gebloei hierdie jaar ek is nie seker of die reën laat gekom het of die weer verander nie.

Ansie ·

Hulle is pragtig, maar as daai blommetjies op die pad lê en jy moet skielik rem …

Belinda ·

Tog spog JHB nogsteeds met die meeste Jacaranda bome maar dit lyk nie so siende dit wyd verspreid is.
Maar ek sal nie stry, die bome is darm maar pragtig in volle blom seisoen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.