James Cameron kondig vier opvolgflieks vir ‘Avatar’ aan

Avatar. Foto: Facebook via Avatar

Avatar. Foto: Facebook via Avatar

James Cameron, vervaardiger van die gewilde wetenskapfiksie-fliek Avatar, het aangekondig aanhangers kan nou vier opvolgflieks in plaas van drie verwag.

Cameron het dié aankondiging verlede week tydens Fox se Cinemacon-bekendstelling in Las Vegas gemaak. Cinemacon is ʼn jaarlikse instelling waar die verskeie produksiehuise lusmakers van verskeie flieks vertoon en konferensies hou waar daar oor nuwe produksies gesels word.

Avatar is ʼn futuristiese liefdesverhaal wat afspeel te midde van konflik tussen mens en boaardse wesens gedurende ʼn “veraf” maand in die 22ste eeu.

Cameron het gesê hy het tydens die beplanningsfase van dié opvolgflieks besluit dat slegs drie flieks die storie te veel beperk. “Elkeen van die vier opvolgflieks sal ook op sy eie kan staan en steeds sin maak, maar die vier flieks saam gaan ʼn sage vorm.”

Die eerste aflewering, wat ongeveer vier jaar geneem het om te vervaardig en in 2009 bekendgestel is, is die fliek wat tot dusver nog die meeste ooit by die loket verdien het met ʼn algehele verdienste van meer as $2,7 miljard. Titanic staan in die tweede plek met ongeveer $2,2 miljard.

Cameron het gesê aanhangers kan verwag dat die opvolgflieks beter en groter gaan wees as die eerste een. “Ek werk die afgelope paar jaar saam met ʼn span topskrywers om Avatar vorentoe te ‘ontwerp’, met betrekking tot die karakters, die kulture, die wesens en die omgewing. Tot dusver is die kuns waarmee ons vorendag gekom het iets wat net in ’n mens se gedagtes kon leef, en baie groter en selfs meer indrukwekkend as die eerste fliek.”

Akteurs soos Sam Worthington en Zoe Saldana was in die eerste fliek te sien. Avatar 2 sal na verwagting in Desember 2018 vrygestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.