Jarelange endometriose-stryd lei na twee wonderwerk-babas

Recehlle saam met haar twee wonderwerk-baba’s (Foto: Verskaf)

Vir ses jaar het Rechelle en Victor Heldsinger gesukkel om swanger te raak, maar nou is hulle dolverlief op hul twee wonderwerk-babas. Rechelle wil nou ook ander vroue help wat deur dieselfde gaan.

Op die ouderdom van 14 is Heldsinger, van Meyerton in Gauteng, met endometriose gediagnoseer en reeds tóé het dokters gesê sy gaan moontlik sukkel om swanger te raak. Maar as ʼn tienermeisie het sy toe nie veel aandag daaraan gegee nie.

In 2009 het die paartjie besluit dat hulle wil probeer swanger raak, min wetend van die lang pad wat nog vir hulle voorlê.

“Tussen 2009 en 2016 was ek vir nege operasies vir endometriose. Dokters het eenmaal ook die endometriose afgebrand, maar binne drie maande was die pyn weer terug. Ek was in geweldige pyn en konstant op hormoonbehandeling.”

Heldsinger sê een van die groot probleme met haar endometriose-stryd was dokters wat nie na haar geluister het nie.

“Ek het al alles gehoor – van dokters wat my nie glo oor die pyn nie, tot dokters wat sê dit is alles in my kop, ek is ʼn sissie, dit is nie moontlik nie en ek sit aan. Ek het uiteindelik in 2015 ʼn endometriose-spesialis gaan sien en hy het my toe diagnoseer met fase 4-rekto-vaginale-endometriose,” vertel sy.

Heldsinger en haar man het toe in vitro-bevrugting (IVF) probeer wat haar op ʼn baie hoë dosis hormoonbehandeling geplaas het, hulle baie geld gekos het, en op die ou einde onsuksesvol was.

Sy vertel dat hulle ongelooflik hartseer was toe die IVF nie gewerk het nie.

Victor, Rechelle, Liam en Seth (Foto: Verskaf)

“Ek was so hartseer, dit was so ʼn groot negatiewe ervaring vir ons. Jy het nog daai een brokkie hoop waaraan jy vasklou, en dan werk dit óók nie.”

Heldsinger en haar man het later begin aanvaar dat kinders nie vir hulle beskore was nie en dat God ʼn ander plan met hulle het.

“Ek het gebid dat God my hart rustig maak daaroor en ons het aanvaar dit gaan nie werk nie. Ons het besluit om aan te beweeg. Toe het ons net begin fokus op pynverligting sodat ek nie meer so seer het nie.”

Heldsinger se dokter het haar aangeraai om ses maande af te neem van die behandeling voordat hulle weer enige operasies doen of hormone gee.

Wonderbaarlik het Heldsinger in daardie ses maande, sonder enige behandeling of hormone, swanger geraak met haar eerste seuntjie, Liam, wat op 21 Oktober 2016 gebore is.

“Ek kon dit nie glo nie; ek was seker die dokter bel my terug met die verkeerde mens se bloedtoetse. My man was ook verstom. Ons het op daardie stadium nie eens probeer nie. Dit was wonderlik.”

Na Liam se geboorte is Heldsinger se linkereierstok verwyder, wat sy beskryf as die “goeie eierstok”. Dit is die een wat die meeste eiertjies gemaak het en beter funksioneer het.

Liam en Seth (Foto: Verskaf)

Tog, te midde van dit alles, het sy slegs 13 maande na Liam se geboorte uitgevind sy is weer swanger en op 28 November 2018 is haar jongste, Seth, gebore.

Heldsinger sê hoewel haar verhaal mooi uitgedraai het, weet sy hoe moeilik dit is wanneer jy midde in die situasie is. Daarom het sy die Facebook-blad Endo Warriors SA gestig as ʼn ondersteuningsnetwerk vir vroue wat deur dieselfde gaan.

“Baie vroue sukkel om swanger te word. En ek wil vir hulle kom sê alles is moontlik – dalk nie altyd op ons tyd nie, maar baie keer eerder op God se tyd.

“Die groep is ook daar om vir mense te sê dat die regte dokter baie belangrik is. Jy ken jou liggaam, jy moet vir jouself kan opstaan. As jy nie gelukkig is by ʼn dokter nie, is dit jou reg om te gaan vir tweede en derde opinie.”

Heldsinger sê sy is dikwels deur haar stryd met endometriose uitgeput en het eensaam gevoel, en daarom wil sy ʼn netwerk van vroue op die Facebook-groep bymekaar bring wat mekaar kan ondersteun en bystaan.

Sy sê daar was al vroue op die groep wat selfmoord gepleeg het omdat die pyn so erg was, hulle was só eensaam, en dit het gevoel of die dokters hulle nie wou glo nie. Sy wil voorkom dat so iets weer gebeur.

“As jy soveel pyn het dat jy nie kan skool of werk toe gaan, of nie deel kan wees van buitemuurse aktiwiteite nie, is dit belangrik dat jy iemand gaan sien wat na jou sal luister.”

Heldsinger gee die volgende simptome van endometriose:

  • Besonder pynlike menstruasie
  • Swaar menstruasie
  • Pyn gedurende urinering
  • Pyn gedurende opelyf
  • Pyn gedurende ovulasie
  • Pynlike seks
  • Moegheid
  • Lae rugpyn
  • Infertiliteit

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vriendelike Frikkie

Ons is deur dieselfde hel. Na vyf jaar se behandelings en pille het ons moed opgegee. ‘n Jaar later is ons seun normaal gebore na ‘n normale swangerskap. Die nuus was toe dat hy ‘n gelukskoot was en dat daar nie nog sal wees nie. Ons het dit aanvaar maar 10 jaar later is ons dogter na ‘n normale swangerskap met ‘n keiser gebore. Sy was toe regtig die laaste. So my raad is moet nooit moed opgee nie, word net rustig daaroor, maar moenie moed opgee nie. Bly probeer.

Magda

Ai dit is absoluut wonderlik!! Ja ons behoort aan ‘n God van wonders. Geniet jou kiddies! Hulle is pragtig.????

Dries

Skitterend vir jou en julle. Dankbaar dit het so uitgewerk. En ja dankie vir die deel van die storie!