Jasper het groot planne vir die toekoms

Jasper Jooste

Jasper Jooste van Hoёrskool Menlopark het 8 A’s ingeoes in die afgelope nasionale matriekeindeksamen. Dié slimkop van Lynnwood, Pretoria, het uitgeblink in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, ingenieursgrafika en -ontwerp, fisiese wetenskap, geskiedenis en geografie.

Cornelia en Gerhard is Jasper se trotse ouers. Sy pa is ʼn besturende direkteur by Pro Admin.

Jasper het ook twee sussies, Corneli, ’n bedryfsingenieur, en Debbie, ʼn chemiese ingenieur.

Ná ’n blaaskans in Plettenbergbaai beoog Jasper om in sy susters se voetspore te volg en meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer.

Hy is ook ’n kranige sportman. Hy het hokkie vir die eerstespan gespeel – dié span wat verlede jaar die wenner was van die Noordvaal-kampioenskap. Verder het hy krieket gespeel en in atletiek die interhoërspan gehaal. Hy hou van fietsry, speel kitaar en lees graag.

Jasper het drie jaar lank as leier gedien op die skool se Parkieraad en verlede jaar was hy op die matriekraad.

Jasper se lewensfilosofie is dat daar altyd lig is aan die einde van die tonnel. Nietemin meen hy sy swakste eienskap is dat hy baie sinies is. Hy glo aan harde werk, toewyding, deursettingsvermoë, maar ook baie geluk. Op die vraag wie sy grootste rolmodel is, antwoord hy: “Albert Einstein – hy was ’n geniale man wat vir baie meer as sy werk onthou word.”

Jasper som homself op as ʼn logiese denker wat hou van probleemoplossing. Sy beste eienskap is sy deursettingsvermoë. “Ek is ʼn groot dromer,” sê hy, “… met groot planne vir die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.