Jayvan se eerste toetse ‘skoon’

Die doktersbrief wat Carin op Facebook gelaai het (Foto: Facebook via Support for Jayvan Janse van Rensburg)

Die doktersbrief wat Carin op Facebook gelaai het (Foto: Facebook via Support for Jayvan Janse van Rensburg)

Jayvan Janse van Rensburg van Vereeniging, die driejarige seuntjie wat met kanker gediagnoseer is etlike maande nadat sy pa in ʼn rooftog dood is, se toetse ná ʼn spesialisoperasie het Dinsdag aangedui sy femur en omliggende weefsel is kankervry.

Maroela Media het vroeër berig die gesin kon Kaapstad toe vlieg vir Jayvan se operasie in die Vincent Pallotti-hospitaal nadat weldoeners op JakarandaFM se program, Good Morning Angels, groot skenkings gemaak het om die operasie moontlik te maak. Carin, Jayvan se ma, het daarna aan Maroela Media vertel die operasie het “goed” afgeloop.

“Dokters het gesê die femur en die omliggende weefsel is skoon en ons is baie dankbaar daarvoor. Jayvan se eerste vraag aan my was: ‘Mamma, het jy vir Liewe Jesus dankie gesê?’” het Carin vertel. “Ons bly egter op ons knieë omdat hy steeds nog ʼn paar sessies chemoterapie nodig het.”

Carin sê die dokters het egter die gesin gewaarsku om nog nie opgewonde te raak nie. “In my hart glo ek my kind is kankervry. Maar dokters het vir ons verduidelik dit kan wel mikroskopies versprei, daarom moet mens altyd die chemoterapie voltooi om te verseker alle spore van kanker, hoe mikroskopies ook al, word verwyder.”

Die gesin het die afgelope naweek die eerste Vadersdag sonder haar man gevier. Maroela Media het destyds berig Jayvan se pa, Anton (52), is op 12 Augustus naby sy huis in Drie Riviere, waar hy en sy gesin skaars twee weke tevore ingetrek het, deur gewapende rowers oorval en doodgeskiet.

“Alles was ongelooflik erg vir my kinders. My dogtertjie het die heeltyd gehuil en gevra waarom hulle haar pappa moes skiet en nie iemand anders nie. Maar toe die goeie nuus van Jayvan kom, het sy vir my gesê: ‘mamma, ons bid nie verniet nie,’” het Carin bygevoeg.

Sy sê Jayvan se storie het “derduisende” mense aangeraak. “Ek kan nie eers verduidelik hoeveel boodskappe ek van ouers kry wat sê hulle het ophou glo omdat hulle kinders dood is nie, maar nou weer kerk toe gaan of vir hulle gesin kan bid omdat hulle besef hoe die Here werk en dit deur Jayvan kan raaksien.”

ʼn Lang pad lê egter nog voor vir die gesin. Jayvan moet volgens protokol nog dertien rondes chemoterapie kry om te verseker mikroskopiese oorblyfsels van die kanker word doodgemaak.

“Ek weet dis ʼn slegte ding om te sê, maar ek verstaan hoekom al die goed moes gebeur. Die Here werk deur Jayvan met so baie mense. En ons almal bly op ons knieë, ek glo in my hart hy gaan een van die dae weer fietsry en hardloop. Hy is sy mamma se fighter.”

Besoek die Ondersteuning vir Jayvan Janse van Rensburg se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mel ·

Ag moeder, ek het sommer ‘n knop in my keel, dat so klein seuntjie weet van Jesus, baie bly saam julle dat di toetse Skoon is, ons moet net aanhou bly bid , ons moet di moontlike doen en God doen di onmoontlike!!!

charlene ·

Here hoe sê mens genoeg dankie?!? Vader U hand is oor die gesin, U hand is oor klein Jayvan. En sy mamma. Dankie Here dat U die gesin nog seer gespraar het, hulle het al soveel deur gemaak en so baie seer wat hulle moet dra. Maar ons almal glo saam die gesin dat die kanker weg is nie nie weer sal terug kom nie.

Rina Kotze ·

ALLE EER AAN ONS HEMELSE VADER.
Hy bly die GROOT Geneesheer!

Saam met julle bly en dankbaar, sit sommer en huil hier waar ek tik!
Ek vertrou saam met julle dat al die volgende uitslae “skoon” sal wees en dat hy heeltemal gesond sal wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.