Jennifer Aniston oor swangerskap-gerugte, skinderpers

Jennifer Aniston. Foto: Facebook via Jennifer Aniston

Jennifer Aniston (Foto: Facebook)

Die Amerikaanse aktrise, Jennifer Aniston, het vir die eerste keer ooit in ʼn ope brief gepraat oor gerugte oor haar sogenaamde ‘swangerskap’, vroue wat ander veroordeel oor hul voorkoms en leuens in die media.

Die aktrise het in die ope brief, wat op The Huffington Post gepubliseer is, bevestig sy is nie swanger nie. “Wat ek wel is, is keelvol. Keelvol vir die veroordeling van ander mense se voorkoms onder die dekmantel van joernalistiek en nuus oor bekendes,” het sy geskryf.

Aniston het geskryf sy is moedeloos na dekades se teistering deur fotograwe wat ‘skokkende dinge sal doen om enige soort foto’ van haar en haar man, Justin Theroux, te neem.

“Die manier waarop die media vroue soos objekte laat voel en hanteer, is absurd en ontstellend. Die manier waarop ek in die media uitgebeeld word, is bloot ʼn weerspieëling van hoe vroue in die algemeen gemeet word teen verwronge standaarde van skoonheid.”

Die aktrise meen dié boodskap het ʼn groot invloed op vroue dwarsoor die wêreld. “Selfs nie net vroue nie. Dit begin reeds op ʼn jong ouderdom. Klein dogtertjies sien wat in die media aangaan en dink dis hoe dit hoort,” verduidelik sy.

“Dié dogtertjies glo hulle is nie mooi as hulle nie ongelooflik maer is nie. Hulle glo hulle verdien geen aandag nie tensy hulle soos ʼn aktrise op die voorblad van ʼn tydskrif, of soos ʼn model op ʼn loopplank, lyk. Dit is kondisionering wat jong meisies na hul vrouwees toe oordra en dit as volwasse vroue glo.”

Sy meen hoewel sy aanvanklik die skinderpers as “komiese tydskrifte” gesien het, is die gevolge van die stories ʼn werklikheid in haar lewe en die lewe van ander vroue.

“Ek ervaar daagliks mense se veroordeling eerstehands. Die afgelope maand het ek besef hoeveel waarde mense aan ʼn vrou heg na aanleiding van haar huweliks- of ouerstatus. Jy sou nie die groot hoeveelheid hulpbronne glo wat tans gebruik word om vas te stel of ek nou swanger is of nie. Dit dui op die voortsetting van die idee dat vroue nie volledig is, of onsuksesvol is, as hulle nie getroud is en kinders het nie.”

Aniston verduidelik sy gesels nou vir die eerste keer in die openbaar oor die kwessie om vroue te probeer bemagtig.

“Ons is volmaak met of sonder ʼn maat en met of sonder ʼn kind. Ons kan vir onsself besluit wat mooi is wanneer dit by ons liggame kom. Daardie besluit is ons sʼn en net ons sʼn. Kom ons wees ʼn voorbeeld vir jong meisies en besluit bewustelik oor ons liggame, sonder die geraas wat die skinderpers maak.

“Ja, ek gaan dalk eendag ʼn ma wees en as ek dit ooit doen, sal julle heel eerste van my hoor. Maar ek streef nie moederskap na omdat ek onvolledig voel weens die skindernuus nie. Ek neem aanstoot om te voel asof ek ‘minder is’ as enigiemand anders omdat my liggaam verander soos ek ouer word en omdat ek ʼn hamburger geëet het vir middagete. Skindernuus gaan nooit verander nie. Maar ons kan ons reaksie op die giftige boodskappe verander.”

Lees die oorspronklike brief op The Huffington Post.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jo Jacobs ·

Baie dankie vir die insiggewende artikels, resepte en algemene nuus. Ek vind Maroela Media se verslagdoening van alle sake as geloofwaardig en eerlik. Dankie vir julle voortreflike beriggewing. Jo Jacobs, Pretoria

Eliza-beth ·

Dis juishierdie wanpersepsie dat jy nie ‘n “vrou” is as jy nie ‘n man en/of kinders het wat maakd at sovele vroue sommer net trou om te kan trou. Ek het hoevele kollegas/vriendinne al oor die jare sien daai stupid fout maak. Wees gelukkig op jou eie – sou die regte man kom sal dit gebeur. Maar nee, nou trou hul met iemand wat hul al geslaan het of drink (hy sal na die huwelik verander/ek sal hom na die huwelik verander/met liefde sal hy verander – NEE!)of ‘n deurbringer is, maar hulle wil tog net kan sê hul is/het getroud. Daar is een oud kollega wat wraggies sê liewer skei en weet jy het darem getrou as om nooit ‘n man te kon hê nie! Selfde met kinders – party mense moet liefs nie kidners hê want hul mishandel hul fisiek of emosioneel en “kry” hulle net omdat hulle kan! Enigeen kan ‘n kind maak, jy kort net (spermselle en eierselle om dit eenvoudig te stel!) maar dit neem harde werk en baie dink en vooruit beplan om ‘n kind te kry en goed groot te maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.