Jeug op fietse help bejaardes tydens afsondering

Cloudy Deliveries (Foto: Facebook)

Colin Mkosi, ’n 22-jarige student aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het ʼn sakeonderneming begin wat bejaardes help met hul inkopies tydens afsondering, en waarby die jeug van Langa terselfdertyd baat vind.

Mkosi is ʼn regstudent in sy finale jaar en het in 2019 die konsep vir die afleweringsdiens Cloudy Deliveries begin formuleer. In Februarie vanjaar, net voor die nasionale staat van afsondering ingestel is, het hy en sy span die strate van Langa op hul fietse ingevaar om die lewe vir mense te vergemaklik.

“Ek wou iets doen vir mense wat in inperking is en wat nie self winkel toe kan gaan nie. Ek het 11 tweedehandse fietse gekoop en jong mense van die gemeenskap betrek om die aflewerings te doen,” vertel Mkosi aan Maroela Media.

Die jong mans wat die aflewerings doen is almal 19 of 20 en die meerderheid van hulle is nog op skool.

Calvin Mkosi (Foto: Facebook)

“Ek wou die gemeenskap help en bevorder. In ander plekke is ontwikkeling soos hierdie al lank aan die gang, maar in townships is dit stadig en moeilik. Ek wou waarde toevoeg tot die jong mans se lewens,” sê Mkosi.

Cloudy Deliveries werk só dat mense inskakel om ʼn bestelling te plaas en ʼn adres te verskaf. Aangesien die mans almal in Langa grootgeword het, is hulle vertroud met die omgewing en strate en kan hulle dadelik die adres opspoor.

Hulle ry per fiets na die adres, kry die geld om die goedere te koop, doen die inkopies en kom laai dit weer per fiets by die kliënte af. Cloudy Deliveries vra ʼn klein fooi van R9 vir aflewerings en die jong mans kry ʼn gedeelte van die geld.

Cloudy Deliveries het ook hande gevat met van die plaaslike restaurante in die omgewing en hulle hanteer ook van die aflewering vir dié ondernemings.

Cloudy Deliveries (Foto: Facebook)

Mkosi vertel dat die gemeenskap hulle goed ondersteun en dat van die lede van die gemeenskap selfs maskers en reinigingsmiddels vir die jong mans geskenk het.

“Mense ondersteun ons so baie en hulle is positief oor die diens. Dit dra alles by tot die sukses en bevordering van die gemeenskap.”

Vir meer inligting oor Cloudy Deliveries, besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

En dit wil voorkom hulle is eerlik. Dit is positief. Mooi so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.