Jeug knap Voortrekkermonument-terrein op

Studente en lede van jeugorganisasies het Vrydag ingespring om die Voortrekkermonument se terrein op te knap. (Foto: Tian Bezuidenhout)

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), Tuks Landbou en AfriForum Jeug het verlede week gehelp om gras te sny by die Voortrekkermonument. Die terrein is ook ontbos en onkruiddoder is by verskeie gedeeltes gegooi.

Van die fokusareas van die skoonmaakaksie was die amfiteater, Fort Schanskop en die koppie by die Voortrekkermonument self.

Tientalle studente van die Universiteit van Pretoria (UP) en die jeug het saam met die monument se terreinpersoneel hul hande vuilgemaak.

Die rande van die paaie by die monument is gesny en die stormwateraflope is ook skoongemaak.

Danie Dreyer, die monument se terreinbestuurder, het gesê dit is belangrik om dié gedeeltes se gras te sny en te ontbos omdat dit nou winter is en daar altyd ’n gevaar vir veldbrande is.

Dreyer is ook in sy noppies oor hoe die jeug inspring om die erfenisterrein te help bewaar.

“Ek het dit regtig nie verwag dat die jongspan so gretig is om in te spring om te help nie. Dit wys jou mense is nog baie trots op die monument en die terrein.

“Ons nooi sommer die publiek ook uit om hand by te sit. Ons personeel waardeer elke bietjie hulp wat hulle ontvang,” sê Dreyer.

Studente van Tuks sê dit is lekker om hul erfenis te help bewaar.

“Dit is heerlik om te kan help, en dit hou ons besig. Dit is ook lekker om in die buitelug te kan wees en ’n breek te vat van die studies af,” sê Tian Bezuidenhout, ’n derdejaarstudent in veekunde aan die UP.

Die volgende skoonmaakaksie by die Voortrekkermonument sal binnekort aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
M-woord

Mooi so jeug!

Danie

Skerp gedoen!!! Steeds hoop vir die toekoms!

Jasper

Het die monument dan nie werkers wat die terrein in stand hou nie?

Noels244

Welgedaan, jeug waarop ons kan trots wees