Jeugboekskrywer Christien Neser help Bethlehem-kinders hul skryfpotlode skerpmaak

Die leerders van Hoërskool Wittenberg by die kursus, saam met Christien Neser en hul Afrikaans-juffrou, Annelie Bredenkamp.

“I sound my barbaric yawp over the rooftops of the world.”

Met dié aanhaling van die Amerikaanse digter Walt Whitman het Christien Neser, jeugboekskrywer, ʼn groep leerders van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se verbeelding vroeg-vroeg vasgevang tydens Skryfnet se kreatiewe skryfkursus vir hoërskoolleerders wat op Dinsdag, 9 Augustus 2022 aangebied is.

Skryfnet, ʼn inisiatief van Maroela Media en Akademia, bied ʼn verskeidenheid kreatiewe skryfkursusse aan, waaronder dié eendagkursus vir hoërskoolleerders wat lief is vir skryf. Altesaam 21 leerders van die Hoërskool Witteberg het op die vakansiedag vroeg-vroeg by die skool aangemeld om onder Christien se leiding hul skryfvaardighede te slyp.

Tydens die kursus word die kinders gestimuleer om kreatief te dink oor daaglikse, doodgewone onderwerpe in hul eie leefwêreld wat inspirasie vir ʼn storie kan wees, waarna hulle toegerus word met ʼn verskeidenheid skryftegnieke en -geheime om dié stories die lig te laat sien.

Maar vir baie van dié kinders gaan dit oor veel meer as tegniese skryfvaardighede.

Skryfnet se kreatiewe skryfkursus vir hoërskoolleerders in Bethlehem (9 Augustus 2022)

“Ek het vandag geleer dat jy ʼn vuur in jouself het, en dat jy jou gebroke self kan vat en ʼn storie daarvan kan maak,” sê Ziyanda Ngozo, ʼn gr 9-leerder wat Afrikaans as huistaal neem, hoewel dit haar tweede taal is. “Ek hoop as ek dit gebruik, kan ek eendag my eie boek skryf en mense help wat dieselfde uitdagings as ek het.”

Deur die loop van die kursus is daar ook ruim geleentheid vir die kinders om hul nuwe skryfvaardighede in te oefen, waarna selfs die skaamste onder hulle hul verhale aan die res van die groep voorlees.

“Daar is soveel leerders wat soveel potensiaal het, en daarom is dit nodig om geleenthede soos dié te skep,” sê Annelie Bredenkamp, Afrikaans Huistaal-onderwyseres vir gr 10 tot 12 by Hoërskool Wittenberg, wat die skryfkursus van die skool se kant gekoördineer het. “Die waarde van Christien se aanbieding sal moontlik  eers heelwat later in  van ons leerders se lewe vergestalt, maar vir elkeen van hulle was die skryfskool die begin van die werking van woorde, sinne, stories; dalk eendag ‘n boek.

“Die inhoud is baie goed saamgestel, prakties, met ‘n duidelike verloop tot elke leerder self ‘n eie stuk met selfvertroue kon skryf. Christien se aanbieding is rustig, gelaai met skryf- en skrywerservaring, binne leerders se soms komplekse wêreld.

“Dit was so ‘n verrykende ervaring! Sy het ons Witteberg-leerders se harte gewen.”

Vir elke kind is daar ʼn ander rede waarom hulle kies om op ʼn vakansiedag meer te leer oor skryf.

“Skryf laat my ontspan,” sê Anelke Beneke, ʼn gr. 12-leerder wat die kursus bygewoon het.

Vir Simoné Venter in gr. 10 is skryf lekker, omdat dit haar help om van haar eie gedagtes te ontsnap. “Ek skryf nogal baie,” sê sy. “Ek lees ook baie van tannie Christien se boeke – so dit was vandag vir my baie spesiaal om by haar te leer.”

“Vir my was die interessantste om te leer hoe om jou karakter eers heeltemal te skep en vir hom of haar ʼn agtergrond te gee voor jy hom in jou storie gebruik,” sê Monique van der Merwe (gr 12).

Rika Schutte in gr 11 vertel weer vir haar was die waardevolste les baie eenvoudig: “Korter is beter.”

Maar kan ʼn mens werklik iemand binne ʼn dag leer skryf?

“Mens kan niemand leer skryf nie,” sê Christien. “Maar die proses van skryf raak makliker as jy vryheid het om binne ‘n veilige ruimte te waag. Dit was heerlik om saam met leerders van Witteberg die waagstuk van ‘n eie storie aan te pak. Hulle het met vlieënde vaandels geslaag. Hulle het asemrowende stories geskryf: van seer grootwordstories tot teer liefdesverhale. Ek salueer julle!”

  • Skryfnet bied ʼn verskeidenheid kreatiewe skryfkursusse vir volwassenes en kinders aanlyn, asook in kontaksessies aan. Besoek Skryfnet se webblad by co.za om te kyk watter kreatiewe skryfkursusse binnekort aangebied word, en om jou inligting te los sou jy van komende kursusse in kennis gestel wil word.
  • Of sluit aan by die Facebook-blad om op hoogte te bly van alle nuwe kursusse: https://www.facebook.com/skryfnetprojek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.