Joernaalterapie vir vroue met kanker

Mariska Ford en Karien Basson, het besluit om ʼn kankerjoernaal, “Wilderness to Wellness – a journal”, vir vroue met kanker te skryf. (Foto: Verskaf)

ʼn Kankerdiagnose kan die mat onder jou voete uitruk. Talle vrae woed deur ʼn mens se gemoed, soos “Waarom ek?”, “Hoekom gebeur slegte goed met goeie mense?” en “Hoe lyk die pad vorentoe?”

Dit is uiters traumaties om met die groot K gekonfronteer te word, maar daar is maniere om jou reis op ʼn praktiese, emosionele en selfs kreatiewe vlak aan te pak.

Dit is die rede waarom twee vroue van Centurion, Mariska Ford en Karien Basson, besluit het om ʼn kankerjoernaal, Wilderness to Wellness – a journal, vir vroue met kanker te skryf.

Mariska het ʼn graad in sielkunde, ʼn diploma in joernalistiek en is ʼn opgeleide verpleegkundige. Sy is tans ʼn vryskutskrywer en eienaar van ʼn kreatiewe skryfskool.

Karien Basson is ʼn opgeleide prokureur met ʼn besondere belangstelling in vroue se gesondheid en welstand. Sy het ʼn passie daarvoor om vroue met emosionele eerstehulp by te staan wanneer hulle met traumatiese lewenservarings gekonfronteer word.

Albei het baie navorsing gedoen en kursusse in traumaberading voltooi.

Mariska sê hulle het besluit om die kankerjoernaal te skryf omdat hulle graag ʼn verskil wil maak. As skrywer besef sy ook hoe belangrik joernaalterapie is.

Party sielkundiges beskou dit ook as een van die beste soort terapieë wat ʼn pasiënt kan help.

“Die doel van die boek is om vroue met kanker op ʼn pad van heelmaking te lei deurdat sy haar gevoelens met pen en papier verwoord, en verder omdat kanker nie net ʼn fisieke ding is nie, maar ook emosioneel van aard is. As daar egter ʼn innerlike verbinding tussen jou hart en brein is, dan veg jy makliker,” sê Mariska.

Hulle het aanvanklik daaraan gedink om die joernaal vir Covid-voos mense te skryf. Karien se man is ʼn chirurg en hulle het gesien hoe uitgeput hospitaalwerkers aan die begin van die pandemie was. In hulle onmiddellike kringe was daar egter soveel hegte vriendinne en kennisse wat op ʼn traumatiese wyse deur ʼn kankerdiagnose geraak is dat hulle besef het dis ʼn stryd waarmee veral vroue sukkel en dat daar nie genoeg hulpmiddels vir hulle is nie.

Daarom het hulle besluit om “terapie in ʼn boekvorm” te skryf met die hoop dat dit ʼn veilige tuiste vir hierdie vroue word. Met die oorspronklike lynillustrasies deur die talentvolle Riana Mostert en die grafiese ontwerp deur Monja Viljoen van Deerly Studios, wou hulle ʼn gevoel van kalmte skep.

So word daar in die joernaal geskryf oor hoe om gesonde gewoontes op ʼn daaglikse basis toe te pas om ʼn beter fisieke en geestelike uitkoms te bied sodat dit die kankerstryder (skrywer Madelein Rust wat die boek Kanker Schmanker geskryf het en self ʼn stryd teen kanker voer se woord) meer vryheid en kennis kan bied. Selfsorg word benadruk.

Die joernaal bestaan uit 160 bladsye en uit twee dele. Die eerste deel bevat praktiese voorstelle soos asemhalingsoefeninge, om jou daaglikse uitdagings te hanteer en om jou prioriteite te bepaal sodat dit jou help om partykeer “nee” te sê.

Daar is ook bladsye waarop jy self kan skryf en teken wat met joernaalterapie help, om jou gedagtes te help orden asook om jou kreatiwiteit aan te wakker.

Die tweede deel van die joernaal lei die leser deur die kankerstryder se verstandelike, emosionele en geestelike reis.

“Om na jouself om te sien is belangrik. Dit is nie ʼn weelde nie, maar wel om weerstand teen stresfaktore op te bou. Verskillende maniere om selfsorg toe te pas word bespreek,” sê Mariska.

“Die gedagte is dat jy aan jou eie kant moet wees. Dit behels emosionele, praktiese, fisieke, sosiale en geestelike omsien na jouself.”

“Wilderness to Wellness – a journal” kan ‘n mens help om die chaos in jou brein uit te sorteer. (Foto: Verskaf)

Die skrywers glo dat kanker jou ʼn nuwe perspektief op die lewe gee en dat jy elke oomblik moet omarm omdat daar altyd hoop is en die lewe steeds mooi kan wees. Die boek word dan ook aan alle kankerstryders opgedra en moedig hulle aan om trots op hul “strydlittekens” te wees.

In die boek word die metafoor van die by gebruik wat prakties gesproke aërodinamies te groot vir sy vlerke is om te vlieg. Die by herinner aan wonderwerke.

Van die praktiese raad in die boek is om klein treë te neem, die skottelgoed in die wasbak te los as jy nie daarvoor lus voel nie, en om gerus maar twee dae lank in jou bed te bly. Moet ook nie sleg voel as jou gesin roosterbrood vir aandete kry nie.

ʼn Kankerdiagnose, skryf hulle, beteken nie dat jou ander prioriteite verdwyn nie, net dat jy jou doenlysie moet skommel om die kanker so hanteerbaar as moontlik te maak.

Die boek help jou om te beplan en te skeduleer en om jou vordering dop te hou. Daar is onder meer ʼn maandelikse beplanner om jou te help om jou lewe onder beheer te hou en bladsye waarop jy kan skryf of teken.

Selfvertroeteling is belangrik. Dit is nie selfsugtig nie, anders kan jy nie die beste van jouself of dit wat van jou oorbly aan die wêreld gee nie. Die joernaal help jou om te bepaal wat in jou lewe belangrik is.

Talle vrae word behandel, soos of jy self dokter toe wil gaan en of iemand jou moet vergesel. Jy moet ook besluit met wie jy wil kommunikeer en dat jy kan kies om nie oor sekere onderwerpe te praat nie. Dis belangrik om grense te stel en om dinge te doen waarvan jy hou, soos joga of om in die natuur te stap. Grense word nie gestel om te verdeel nie, maar om jou tuiste ʼn veilige hawe te maak.

Deur jou emosies neer te pen word die chaos in jou brein uitgesorteer. Hierdeur bepaal jy wat jou inspireer, wat jou kwaad asook wat jou hartseer maak.

Daar word in die boek na ʼn aanhaling deur dr. Viktor Frankl, ʼn Oostenrykse neuroloog, psigiater en filosoof verwys wat die gruwels van die Jodeslagting (Holocaust) onder haglike omstandighede oorleef het, en die boek se inhoud dalk net raak opsom. Hy het gesê alles kan van ʼn mens weggeneem word behalwe sy laaste vryheid. En dit is die vryheid om jou houding in enige gegewe omstandighede, en dus jou eie pad, te kies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.