Joernalis nou aktivis vir oues, weerloses

Virgina Keppler help deesdae haar gemeenskap as aktivis en vrywilliger. (Foto: Verskaf)

Toe ʼn ouma genadeloos met haar hande agter haar rug op ʼn staalbank in ʼn hospitaal se wagkamer vasgebind was, het sy dit aan die groot klok gehang. En toe ’n afgetrede verpleër se tweede hartaanval in die hospitaal geïgnoreer is, het sy haar stem dik gemaak. Sy het ʼn vergadering met die bestuur gereël en later is strafregtelike klagtes teen die hospitaal aanhangig gemaak.

Virginia Keppler (49) – ʼn bekende joernalis wat haar werk verloor het nadat sy ʼn ernstige besering aan diens opgedoen het, daarna byna haar been verloor het en ʼn jaar lank bedlêend was – span nou haar jarelange kontakte in om vergrype teen oues en weerloses aan te spreek.

Sy sukkel nie met middelbestuur nie maar gaan eerder reguit na die grootbase toe, en dan gebeur die dinge!

Virginia wat vir verskeie dagblaaie gewerk het, het in 2018 verslag gaan doen oor ʼn skietery tydens ʼn protesoptog oor swak dienslewering in Eersterust.

Sy moes tydens die oproer ʼn blitsbesluit neem om die koeëls vry te spring.

“Ek het nie geweet waarheen om te hardloop nie en spring toe van ʼn brug af. Ek het besef dit is gevaarliker om agtertoe as vorentoe te vlug.

“Met die val het ek my regterbeen en -enkel gebreek. My regterbeen was ingedraai en toe het ek gedink ek moet seker maar die been terugdraai. Toe verloor ek my bewussyn.”

Sy was nagenoeg ʼn jaar lank bedlêend omdat die enkel eers gesond moes word en die gips om die enkel verwyder moes word voordat hulle aan die knie kon opereer.

“My knie was aan skerwe en ek was so hulpeloos dat ek doeke moes dra en versorg moes word. In die stort het ek op ʼn plastiekstoel gesit. Ek was so bang om te val. Ek moet oor ʼn paar jaar ʼn knievervanging kry, maar ek kan darem nou loop.”

Haar pos by die koerant is na die voorval oorbodig verklaar.

Virginia by Ouma Martha Marais tuis in Eersterust, byna ‘n jaar na haar vernedering by die Mamelodi hospitaal toe sy aan ‘n bank vasgebind is. (Foto: Verskaf)

Virginia was altyd by haar gemeenskap betrokke en het geld uit haar eie sak daarvoor gebruik, maar deesdae doen sy heeltyds liefdadigheidwerk in Eersterust, East Lynne en die groter Gauteng. Die geld is maar skraps en sy benodig brandstof. Dis hoekom sy die niewinsgewende organisasie Rea Thusa/We Help gestig het.

Weens haar beserings kon sy aanvanklik nie veel doen nie.

“Ek het splinternuwe boeke van AfriForum gekry en waar ek eers ʼn biblioteek vanuit my motor se kattebak bedryf het, moes ek toe mense vra om dit by my huis te kom haal en vir ander te gee as hulle dit klaar gelees het.”

Virginia is bekommerd oor bejaardes wat in lang toue vir hul medikasie moet staan en wag. Dis soms ʼn daglange uitstappie en daar is dikwels nie eens stoele vir hulle om op te sit nie. “Ek is besig om ʼn netwerk van vrywilligers saam te stel wat hiermee kan help.”

Maatskaplike probleme is volop.

“Ek kry oproepe van mense wie se kinders dwelmslawe is en al hul geld uitgee. Hulle is te bang om dit by die polisie aan te meld.”

Toe die 76-jarige Martha Marais in 2019 vasgebind aan ʼn hospitaalbank aangetref is, het Virginia dit by die plaaslike LUR en die Menseregtekommissie (MRK) aangemeld. Sy het dit ook op al wat sosialemediaplatform is gedeel. Dit het wêreldwyd opslae gemaak en die probleem is gou opgelos. Die MRK het onderneem om Marais se familie in ʼn siviele saak te verteenwoordig totdat die familie ʼn kriminele aanklag teen die hospitaal by die Mamelodi-Oos polisiestasie aanhangig gemaak het.

Die voormalige LUR van gesondheid, Bandile Masuko (tweede van links), advokaat Buang Jones (derde van links) van die Suid-Afrikaanse menseregte kommissie, Virginia en Stephnie Marais (Martha Marais se dogter) tydens ‘n mediakonferensie in Eersterust oor Ouma Marais se beproewing. (Foto: Verskaf)

Virginia het gesê hulle wil seker maak dat dit wat met Marais gebeur het nooit weer met iemand sal gebeur nie. Twee dokters, ʼn verpleegster en ʼn veiligheidswag van die hospitaal is met spesiale verlof gestuur.

“Ek wil net die weerlose mense help. My fokus is op oumense en kinders,” sê Virginia, enkelma van vier kinders.

Sy vertel ook onder meer van ʼn vrou met gevorderde servikale kanker wat vir kort tydperke deur ʼn staatshospitaal opgeneem en dan weer ontslaan is, maar geen hulp aan haar wou gee nie. Dit het Virginia vyf minute en een WhatsApp na die bestuur gekos om die wiel te laat draai.

“Onthou net, dis nie die bestuur wat nie wil help nie.”

Virginia maak ook van haar kontakte by ambulanse gebruik wat in uitsonderlike gevalle help.

“Ek kan baie meer doen as ek net meer helpers aan boord kan kry. Dit is my doelwit om ʼn organisasie soos Rea Thusa in elke gemeenskap te kry.

“Bejaardes sowel as weerloses behoort met meer respek behandel te word.”

Een van die goeie dae toe hulle genoeg geld gehad het om groot potte kos vir behoeftige bejaardes en kinders in Eersterust te maak. Daar was ook roomys. (Foto: Verskaf)

Ongelukkig dink baie mense Virginia werk vir die staat. Party is moeilik. Sy moet ook seker maak dat alle klagtes geldig is.

Sy glo dat die skuldiges tot verantwoording geroep moet word, anders sal dinge nie verander nie en sal mense wat nog kon geleef het, steeds vanaf hospitale huis toe gestuur kon word. Dus tree sy as bemiddelaar op; vir slagoffers van alle rasse.

“Ek help almal. Ja, die mense hoog op ken my. Hulle is bly as hulle nie van my hoor nie.”

Virginia is ook betrokke by die uitdeel van kospakkies van geskenkte kos.

“Ek het ʼn paar keer, soos op Moedersdag, ʼn groot pot hoenderkerrie en rys in Eersterust gemaak, ʼn kennisgewing teen die heining gesit en almal genooi wat honger was.

“Die Here het net al die kos vermeerder. Ek het ʼn tafel in my oprit gesit en agterna het al die anties help skottelgoed was. Daardie bevrediging wat jy kry deur jou naaste te help, kan geld nie koop nie.”

Haar ma, Eva (74), is een van haar getrouste vrywilligers. Sy besoek dikwels eensame oumense wie se kinders hulle afgeskryf het.

Eva het Virginia met baie dissipline grootgemaak. Toe sy een keer teen die derde waarskuwing nie wou opstaan om vir haar matriekeksamen te leer nie, was ʼn beker yskoue water op haar kop haar voorland, lag sy. Só het sy matriek en ʼn graad in joernalistiek behaal.

Virginia wil Rea Thusa se netwerk verder uitbrei sodat sy ook op tuisgebaseerde gesondheidsorg, skoolvoedingskemas en fiksheidsprogramme kan fokus, en om die skakel tussen plaaslike klinieke, apteke, maatskaplike en gesondheidsdienste te wees en slagoffers van geslagsgeweld by te staan.

Hulle help ook met toiletware vir minderbevoorregte skoolkinders en het al gesorg dat twee jeugbendes ontbind word voordat bloedvergieting plaasgevind het nadat die ouers haar genader het.

Vir hierdie voorslag-, raakvat- en planmaakvrou is daar vir elke probleem ʼn oplossing.

So het sy sommer heel vindingryk in ʼn japtrap ses helpers, ʼn matras en ʼn bakkie gereël om ʼn bejaarde vrou in nood hospitaal toe te neem nadat die ambulans te lank gesloer het!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.