Jong aardwolf terug in die natuur

(Foto: Sarah Kempen/Johannesburg Wildlife-dierehospitaal)

Maple, die skattige klein aardwolfwelpie wat mense se harte in 2020 gesteel het, is terug in die natuur vrygelaat.

Die Johannesburg Wildlife-dierehospitaal in Midrand het die aardwolfwelpie met die hand grootgemaak. Die hospitaal beskik oor ʼn span veeartsenykundige spesialiste wat hulle dienste gratis aanbied om inheemse spesies in Suid-Afrika te red en rehabiliteer. Hulle poog ook om al hulle pasiënte na behandeling weer terug in die natuur vry te laat.

Maroela Media het in November berig oor die jong aardwolfwelpie wat ʼn Skotse skaaphond aan die buitewyke van ʼn plaas in Noordwes gevind het. Nadat drie nagte sonder enige sukses na haar lêplek en ma gesoek is, is die span by die hospitaal gevra om haar versorging oor te neem.

“Sy was ondergewig en gedehidreer toe sy by ons aangekom het. Ons het onmiddellik daarop gefokus om haar deur die eerste paar dae te trek en haar te kry om melk te drink,” het Lauren Beckley van dié dierehospitaal gesê.

Haar oppassers het haar Maple gedoop en sy het vinnig begin floreer, gewig opgetel en ʼn dieet met die verskeidenheid geëet wat sy in die natuur sou vind.

Volgens Beckley het Maple dadelik van krieke gehou, maar moes eers gewoond raak aan die wurms wat hulle vir haar voorgesit het.

Teen Desember het sy na ʼn omheinde gebied buite verhuis en is sy verrykingstake gegee om haar te leer hoe om self in ʼn natuurlike habitat te oorleef.

The Dodo, ʼn mediaplatform wat diereverhale op video vasvang en die kollig op diereregte plaas, het ʼn video van Maple se verhaal gemaak en wil sodoende die trots Suid-Afrikaanse dierehospitaal help om nog geld vir hulle waardige saak in te samel. Dié video oor Maple is reeds 2,7 miljoen keer op Facebook gekyk.

“Alhoewel Maple se plekkie nou leeg is, is ons einddoel altyd om die wilde diere te rehabiliteer sodat hulle weer vrygelaat word, en dit gee ʼn mens ʼn ongelooflike gevoel van vervulling,” het Beckley bygevoeg.

Min Suid-Afrikaners kan sê hulle het al die skugter aardwolf (Proteles cristata) self in lewende lywe in die natuur gesien. Die insekvretende soogdiere kom natuurlik in die grasvlaktes van Oos- en Suid-Afrika voor en word soms ook die maanhaarjakkals genoem. Hulle is aan die hiëna verwant, wat beteken hulle is nagdiere en besonder skaam.

Aardwolwe, wat as volwasse dier net onder 8 kg weeg, kan tot 300 000 termiete in een maaltyd verslind. Die dier gebruik sy lang, taai tong om die miere op te lek.

Alhoewel die diere gewoonlik alleenlopers is, maak die mannetjies en wyfies hul werpsel van twee tot vier welpies saam groot. Hulle word as skadelose karnivore beskou.

Besoek die Johannesburg Wildlife-dierehospitaal se webwerf of Facebook-blad om hulle werksaamhede te ondersteun.

  • Kyk hier na The Dodo se video oor Maple:

'Mini Hyena' Thanks Her Rescuer Before Running To The Wild

"Mini hyena" looks back to thank her rescuer before she runs back to the wild ????

Posted by Little But Fierce by The Dodo on Thursday, July 15, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PietervB ·

Ongelooflik en baie dankie wat julle vir ons natuur doen. As julle kan, hou ons op hoogte hoe dit met haar(Maple) gaan. Baie dankie weereens.

Welgeluksalig ·

So dankbaar vir die pragtige storie! Johannesburg Wildlife dierehospitaal doen asemrowende werk vir die diere, voëls en reptiele en soveel meer wat so dikwels vergeet word omdat hulle nie groot is nie!
Ek onthou toe hulle die eerste foto van die ou lyfie gewys het!
So mooi! Nog nooit ‘n baba aardwolf gesien nie!
Dankie dankie dankie!!!
Ondersteun asseblief Johannesburg Wildlife dierehospitaal! Hulle het dit so nodig!
Dankie Maroela Media vir die mooi storie!

Sandra ·

So ‘n oulike ou klein dingetjie. So bly hulle het haar gevind en haar gehelp om na die volgende hoofstuk in haar lewe te gaan .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.