Jong eko-kampioen wil kosbare seevoëls red

Romario hou sy skildery van ʼn albatros en ʼn stormvoël vas. (Foto verskaf)

Romario Valentine is nog nie eers ʼn ware tiener nie, maar hy is reeds ʼn veteraan‑omgewingsaktivis. Die 12-jarige natuurliefhebber van Umhlanga in Durban beskryf homself as ʼn ornitofiel, iemand wat lief is vir voëls, en vanjaar voeg hy weer daad by woord met ʼn spesiale Kersprojek waar hy alles in die stryd werp om die voëllewe van Marion-eiland te bewaar.

Maroela Media het vroeër berig oor dié projek, waar die voorste wetenskaplikes en kundiges saam staan om talle seevoëlspesies van Marion-eiland, ʼn sub-Antarktiese eiland suidoos van Kaapstad, te bewaar teen knaagdiere.

Muise − miljoene van hulle − is besig om nie net eiers en kuikens van albatrosse en stormvoëls op te vreet nie, maar ook Kleinskedebek-voëls se voedselbronne, wat hoofsaaklik uit ongewerweldes bestaan, drasties te verlaag. Met die verlaging in ongewerweldes, het die muise ander proteïenbronne begin soek. Seevoëls verdedig hulself nie teen die knaagdiere nie, want hulle is nie roofdiere op die eilande gewoond nie, daarom is die slagting so groot.

Die albatros-, dwaal-, roet-, gryskop- en stormvoëlbevolkings is vinnig besig om te daal weens die indringermuise wat deur 19de-eeuse robbejagters en walvisjagters ingebring is. Buiten die aanslag van die muise, staar die uitdagings van klimaatsverandering en indringende menslike aktiwiteit op hul habitat ook die voëls in die gesig.

Verlede jaar het Romario se Kersveldtog, wat hy telkens saam met BirdLife Suid-Afrika aanpak, gehelp om 20 hektaar op Marion-eiland vry van knaagdiere te hou. Vanjaar is hy egter vasbeslote om in sy bewaringspogings vol te hou deur nog R20 000 in te samel om ‘n bykomende 20 hektaar se skoonmaak te borg.

Romarion het verlede jaar ‘n sertifikaat van erkenning van die Mouse-Free Marion-projek ontvang vir sy ondersteuning aan die eiland se voëls. (Foto verskaf)

Elke R1 000 wat deur sy BackaBuddy-veldtog ingesamel word, sal bydra tot die onderhoud van ’n hektaar, wat uiteindelik bydra tot die bewaring van die 30 000 hektaar op Marion-eiland wat tuiste aan twee miljoen voëlspesies bied.

Romario moedig almal aan om deel te wees van hierdie omgewingserfenis. “Wanneer ons vir die natuur sorg, sorg ons vir onsself,” het hy gesê.

Bewaringsprojekte word ingeryg en uitgerol

BirdLife Suid-Afrika het in 2022 die Owlet-prys aan Romario toegeken ter erkenning van sy werk om plaaslike voëlspesies te bewaar. Hy het onlangs ook die titel van die jongste ambassadeur vir Ocean Sole ontvang. Dit is ʼn Keniaanse maatskappy wat spesialiseer in die herwinning van plastiek plakkies wat op die strand uitspoel. Verder het hy Suid-Afrika al verteenwoordig by ʼn konvensie van die Verenigde Nasies (VN) waar daar na strategieë gekyk is om gronderosie en woestynvorming te bekamp.

Romario se passie vir die natuur het amptelik reeds op die ouderdom van ses begin, en sedertdien neem hy aktief deel aan talle bewaringsprojekte, strandskoonmaakaksies en boomplantinisiatiewe.

Romario ontvang die Owlet-prys van BirdLife SA in 2022 vir sy bewaringsprojekte. (Foto: BirdLife SA Facebook-blad)

Sedert die ouderdom van agt het hy reeds op eie houtjie R76 000 op die skarebefondsingsplatform BackaBuddy vir omgewingsake ingesamel. Sy ma, Delsha Moodley, ondersteun hom darem met die opstel van sy veldtogte. Onder die projekte wat hy al gedryf het, tel 250 strandskoonmaakaksies en die borgskap van die aanplanting van 455 bome in 31 verskillende lande.

In September verlede jaar het Romario sy boek getiteld Protect our Planet – Take Action with Romario uitgereik, wat daarop gemik is om die volgende generasie natuurliefhebbers te inspireer. Die boek dek verskeie omgewingsonderwerpe, waaronder herwinning, herbebossing, besoedelingsoplossings en klimaatsverandering.

Romario se bewaringsprojekte het al gesorg dat hy op natuurprogramme en in tydskrifte soos 50/50, National Geographic Kids en by die Global Citizen‑toekenningsgeleentheid verskyn het.

Die voorblad van Romario se boek wat hoop om die volgende generasie natuurliefhebbers te inspireer. (Foto: Romario Valentine/X)

“Ons by BackaBuddy is oor die afgelope vier jaar geïnspireer deur Romario se onwrikbare verbintenis tot omgewingsbewaring. Sy passie, tesame met die onwrikbare ondersteuning van sy vrygewige skenkers, het ’n kragtige rimpeleffek van positiewe verandering geskep. Saam het hulle nie net geld ingesamel nie, maar integrale bydraers geword tot die breër bewaring van ons planeet. Romario bewys dat jy nooit te jonk is om ’n verskil te maak nie,” het Monique Weich, skenkerkoördineerder by BackaBuddy, gesê.

Besoek BackaBuddy hier om Romario se Kersgeskenkveltog vir die seevoëls van Marion-eiland te ondersteun. Skenkings kan tot die einde van Januarie 2024 op die bladsy gedoen word. Volg Romario op X (voorheen Twitter) om meer oor sy jongste natuurbewaringsprojek uit te vind.

Meer oor Marion-eiland

Die Mouse-Free Marion-projek is ʼn geregistreerde nie-winsgerigte maatskappy in Suid-Afrika wat gestig is om die indringermuise op Marion-eiland in die Suidelike Oseaan uit te roei. Die projek is deur BirdLife Suid-Afrika en die plaaslike departement van bosbou, vissery en omgewingsake begin. Die suksesvolle voltooiing van die projek beoog om die broeihabitat van meer as twee miljoen seevoëls, wat dikwels bedreigde spesies is, te herstel en die eiland teen klimaatsverandering te verskans. Vir meer inligting oor die projek besoek mousefreemarion.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.