Jong mamma getuig van wonderwerke ná gru-ongeluk

Emily-Ann Rautenbach in die hospitaal. Foto: Verskaf

Woensdag 31 Oktober 2018 het vir Emily-Ann Rautenbach (29) begin soos enige ander dag.

Sy het haar agt maande oue dogtertjie, Esté, gegroet en koers gekies na die Hoërskool Bonnievale, waar sy ʼn Afrikaans- en Engels-onderwyseres is. Al wat anders was, is dat sy dié oggend met haar man, Corné, se bakkie van Ashton af na die buurdorp, Bonnievale, gery het, omdat sy dit wou laat skoonmaak nadat hulle die vorige naweek daarmee van die see af teruggekom het. Dié klein stukkie onbenullige detail sou later een van die talle wonderwerke wees wat Emily-Ann se lewensgetuienis sou word.

“Ek het sowat 90 km/h gery en wou by ʼn ander motor verbygaan,” vertel Emily-Ann. “Ek was in sy blindekol. Hy wou by ʼn ander motor verbygaan en het my nie gesien nie. Ek het uitgeswaai en die bakkie het gegly, gerol en op sy dak te lande gekom. Vir ʼn uur en ʼn half was ek daarin vasgekeer. As ek met my motor gery het, was ek waarskynlik op slag dood.”

Emily-Ann was besig om te luister na ʼn Hillsong-CD met aanbiddingsmusiek wat nog in die bakkie was sedert hul seevakansie. “Ek het myself die hele week herinner daaraan dat ek die CD moet uithaal en in my motor moet sit, maar nie sover gekom nie,” onthou sy. “Vir daardie uur en ʼn half wat ek in die wrak gelê het, het die CD kliphard gespeel. As jy kyk na foto’s van die wrak, sal jy nie glo dat ʼn CD nog kon speel nie. Die mense wat die wrak weggesleep het, kon nie die musiek stilkry nie en moes uiteindelik die battery ontkoppel. Veral een lied het my gedagtes oorgeneem: ‘Who You say I am’.”

I am chosen, not forsaken
I am who You say I am
You are for me, not against me
I am who You say I am …

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Toe sy besef sy was in ʼn motorongeluk, het sy dadelik ʼn dringendheid ervaar om haar sondes te bely – nie omdat sy gedink het sy is nie gered nie, maar omdat sy ervaar het die Heilige Gees het ʼn skoon kanaal nodig vir God om te werk, sê sy. En skielik het sy ʼn vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan.

“Soveel so dat toe die ambulansbestuurder sê: ‘Genade, hierdie vrou gaan vandag doodgaan, kyk hoe blou word sy …’ kon ek lewe spreek en haar antwoord: ‘Nee, ek gaan nie vandag sterf nie’,” sê Emily-Ann. “Toe my man op die toneel kom en vra of sy vrou nog lewe, kon ek die paniek in sy stem hoor. Vanuit die bakkie het ek hom geantwoord: ‘Ek lewe. Spreek jy lewe, en bid net.’ Ek het instinktief geweet ek moet niemand toelaat om dood te spreek nie, en dat net God my hierdeur gaan kry.”

Emily-Ann onthou dat sy doodkalm was, al het sy nie geweet waaraan sy hang of hoe ernstig sy beseer is nie. Albei haar arms was gebreek en haar regterarm vergruis; sy het ʼn kopbesering gehad wat veroorsaak het dat sy die helfte van haar liggaamsbloed verloor het. Maar ten spyte daarvan het sy geen pyn beleef nie, en elke detail ingeneem sodat dit later deel van haar getuienis sou kon word.

“En toe gebeur nog ʼn wonderwerk,” onthou Emily-Ann. “Ek het Jesus se voet in ʼn visioen sien verskyn. Dit was die mooiste voet! Dit het gelyk soos ʼn wit marmervoet wat van die enkel af ondertoe sigbaar geword het, reg voor die bakkie se wieldop waar ek dit kon sien. Ek het ook Jesus se kleed se soom gesien, met tossels en klokkies aan. Toe ek later uit my koma gekom het, was dit een van die eerste dinge wat ek vir my familie vertel het. In die Ou Testament het die priesters granaatpitte aan hul kleed se soom gedra wat as klokkies gedien het. In Hebreërs lees ons dat Jesus nou ons Hoëpriester is. Ek sal dit nooit vergeet nie … Jesus het my fisiek kom ontmoet in een van my swaarste oomblikke,” vertel sy.

Die wrak na die ongeluk. Foto: Verskaf

Omtrent ʼn uur ná die ongeluk, toe nooddienspersoneel vir Emily-Ann uit die bakkie wou knip, was sy nog genoeg by haar positiewe om vir hulle te kon sê: “Eina, julle knip my kop raak.” Haar man het toe sy hand oor haar kop gesit om dit te beskerm.

“Die Here het my man ook kalm gehou,” onthou sy. “Hy het gehelp om my uit die bakkie te lig terwyl hy kon sien die helfte van my kopvel is afgeskeur.”

Dokters se prognose was nie goed nie: Volgens hulle het Emily-Ann ʼn 90% kans op breinskade gehad. Hul aanvanklike voorspelling was dat sy tien dae in intensiewe sorg versorg sou moes word, waarna sy minstens drie weke in ʼn gewone saal sou moes wees voor sy na ʼn rehabilitasiekliniek oorgeplaas sou word.

Maar ná net drie dae in intensiewe sorg is sy verskuif na ʼn gewone saal, en ná tien dae is sy ontslaan. Sy is direk huis toe, sonder dat enige rehabilitasie nodig was.

“Die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie, maar in tye soos hierdie word jou geloof getoets en jou karakter gebou,” getuig Emily-Ann.

Op 6 Maart vanjaar het sy ʼn beenoorplanting in haar linkerarm ontvang. Skaars twee maande later het sy haar verhaal met een hand vir Maroela Media getik.

“Ek weet dat die Here ʼn plan het daarmee dat my arm nog nie volkome genees het nie; ek weet ook dat dit wel volkome sal genees, want God doen nie halwe werk nie,” sê sy.

Ná die ongeluk het die Here haar gelei om ʼn bediening te begin waarmee sy vroue wil motiveer om vas te byt ondanks hul omstandighede, en nie hul geloof in God te verloor nie, sê sy. “Ek het lank met die Here gestoei hieroor, want ʼn mens begin nie so ʼn bediening uit jou eie krag nie.

“Maar deur God se genade kry ek nou al vir ses maande die krag om nie moed te verloor omdat ek nie my dogtertjie kan vashou en versorg nie, of omdat ek nie ten volle vrou kan wees en voel nie. Daarom moet ek ander help wat soortgelyke trauma beleef het.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

59 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ria Maritz

Wat ‘n kosbare getuienis.

Blackie

God is so goed!

Christelle

Dit is so ‘wow’, so wonderlik. Ons dien ‘n Groot, Almagtige en Lewendige God!

Fran

Hoe groot is U!

My c

Ek het die getuienis vandag nodig. Ek is op n nie aangename plek in my lewe nie. Ek dank God vir wat Hy vir jou doen en gedoen het.