Jong man begin karwas tydens inperking: ‘Nou is dit my toekoms’

Connor Michau (Foto: Verskaf)

Connor Michau (20), ʼn jong man van Vanderbijlpark in Gauteng, het aan die begin van die nasionale staat van afsondering lank tuis gesit omdat hy nie sy werk as paneelklopper kon doen nie. Hy het vinnig aan ʼn nuwe plan gedink om geld te verdien, wat só suksesvol geword het dat hy dit nou heeltyds gaan aanpak.

Michau vertel aan Maroela Media dat hy op skool ook motors vir ekstra geld gewas het, en dat hy dié werk weer aangepak het toe hy tydens inperking nie sy eintlike werk kon doen nie.

“Vir vier maande kon ek nie geld verdien nie, en toe dink ek: ‘As ʼn karwas daai tyd kon werk, kan dit mos nou ook werk.”

Michau het toe Connors Mobile Carwash begin waar hy van huis tot huis met sy fiets ry om mense se motors skoon te maak.

Connor Michau (Foto: Verskaf)

Hy het aanvanklik begin met ʼn stofsuiertjie in sy rugsak, ʼn emmer en ʼn paar skoonmaakmiddels, maar later het hy vir sy fiets ʼn waentjie gebou en nou het hy selfs iemand wat vir hom werk.

“Ek begin werk om 09:00 en maak so teen 17:00 of 18:00 klaar met werk, afhangend van die besprekings. Op ʼn goeie dag kan ons so 15 karre was – dit hang maar af hoe ver die mense uit mekaar bly.”

Michau vertel dat dit vir hom baie belangrik is om sy kliënte gelukkig te hou. Daarom het hy self een keerl 15 km met sy fiets gery om iemand se motor te gaan was.

Dié onderneming het vinnig suksesvol geraak en hy is nou reeds vir drie weke vooruit bespreek.

“My selfoon hou nie op met lui nie. Ek het selfs al iemand aangestel om vir my te werk, want ek kan nie meer self bybly met al die besprekings nie.”

Michau vertel dat hy gaande is daaroor om nuwe mense te ontmoet en dat die mense in Vanderbijlpark hom bo verwagting ondersteun.

“Ek het nie geweet sulke vriendelike mense bestaan nie. Dit is regtig die wonderlikste mense met wie ek in kontak kom en ontmoet. Dit is verbasend,” sê hy.

Die bekende renmotorbestuurder Gary Formato het Michau se inisiatief raakgesien en vir hom ʼn webwerf opgestel, wat sy onderneming nog meer laat groei het. Ander lede van die gemeenskap het ook skoonmaakmiddels aan hom geskenk om te help.

Connor’s Mobile Car was vra R40 vir die was van ʼn motor, R60 vir ʼn bakkie, R80 vir groter motors en R120 vir ʼn karavaan.

Michau sê hy verdien ʼn goeie inkomste met sy motorwassery en dat hy nou gaan aanhou om dit te doen.

“Hierdie is nou my werk, hierdie is my toekoms. Dit is die beste ding wat met my gebeur het. Daar is geen keer nie, ons kan so ver gaan soos ons wil, want mense kry nie self genoeg tyd om dit alles te doen nie.”

Hy het selfs al begin dink om die wassery uit te brei sodat hy ook mense se huisvensters kan was of na hul tuine kan omsien.

“Mense wil nie hierdie goed self doen nie, veral nie in die winter nie. So my doelstelling is: Alles wat mense nie hou van om te doen nie, sal ek vir hulle gaan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

katerinadiekat ·

Mooi so!! Mens moet mens self help in hierdie wereld, veral in hierdie land.

Ellie ·

Ek haal my hoed af vir die jong man! Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg!!

Snowball ·

Jong man, jy is ‘n man in die ware sin van die woord. Mag die Here jou so seën, dat jy net vorentoe sal kyk, want met jou lewenshouding gaan jy dit ver bring.!!

Niklaas ·

Goeie voorbeeld wat hy stel aan soveel ander jongmans wat nou net tuis by ma se woning op sy rug lê en heeldag selfoon speletjies speel. (Ek ken so ‘n paar van hulle….)

Francois Le Cochon ·

Mooi jong man. Ek hoop diegene wat heeldag in die son sit en “demand”, leer by jou. As jy wil werk is daar werk. Baie wil ‘n ” job” he^, maar nie werk nie.

Scalla ·

Knap gedaan Connor, waar daar n wil is, is daar n weg, hoop net die ander bakhand mense wil dit sien en implimenteer.

Jaco ·

Wow!!! Respek vir jou jong man!! Suid Afrika kort meer jong mense soos jy. Mag jy nog vele hoogdes bereik wat ek glo jy sal.

Jack ·

‘n Boer kan ‘n plan maak as hy moet. Jongman, doe szo voort!

Jaco ·

Hy vra te min. Eks bereid om R100 vir die was van my bakkie te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.