Jong man groet sosiale media: ‘Dit was ’n verslawing’

(Foto: Verskaf)

Deur Maretha Botes

Gesondheidskenners meen om vir lang tye te sit, is deesdae byna net so sleg soos rook. Wat egter net so kommerwekkend is, is dit wat ons doen terwyl ons sit: onnadenkend blaai ons deur sosiale media terwyl die minute en later ure op die horlosie aftik. Nie die beste gewoontes wanneer dit by ons geestesgesondheid kom nie.

Die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie het lank reeds gewaarsku oor die potensiële negatiewe invloed van sosiale media op jong kinders en tieners. Dit sluit kuberboelies en ʼn soort “Facebook-depressie” in. Dieselfde gevare geld vir volwassenes, sê die akademie.

Johan (Bardie) Badenhorst (32) van Quberha (Port Elizabeth) het besluit om sy rug op alle sosialemediaplatforms te draai toe hy besef het sy geesteswelstand ly onder die hoeveelheid tyd en moeite wat hy daarop spandeer.

Bardie het op ʼn stadium drie profiele op Instagram gehad waarop hy persoonlike oomblikke asook foto’s gelaai het. Sy fotoblad se naam was @thestrangerthings en foto’s wat hiér gedeel is, was afkomstig van ou filmkameras wat hy deur die jare versamel het, waarvan die films nooit ontwikkel is nie. “Ek het gevoel die wêreld moet dit sien,” sê hy.

Bardie het aanvanklik fotografie op Stellenbosch studeer. “Ek het vinnig besef ek sou ʼn tweede rigting moes kies, want skielik kon elke ou op straat ʼn ‘fotograaf’ wees toe Instagram met al sy fotofilters gewild geraak het.”

Só het hy besluit om argitektuur te studeer. Tussendeur het hy meer en meer tyd op sy Instagram spandeer. “Ek het in die lokval beland om opgewonde te raak en plesier te put uit ‘likes’ en volgelinge. Dit was soos ʼn verslawing.”

Bardie het mettertyd al hoe meer geborgde bladsye met aanhalings wat hom depressief maak opgemerk op die blaaie en profiele wat hy besoek. Hy het self depressief begin raak. Hy het deur ʼn donker tyd gegaan, was gespanne en het baie stres ervaar. “Ek was aanmekaar met my foon in die hand en dit het my net meer hartseer en depressief laat voel, maar ek kon nie uit die donker wegkom nie,” sê hy. “En hoe meer depressief ek was, hoe meer inhoud het ek ontvang wat soort van die depressie uitgelok of vererger het. Dit was ʼn kringloop.”

Bardie vertel hy het homself onbewustelik ook met ander mense vergelyk op sosiale media. “ʼn Mens sien slegs die mooi (van ander mense se lewens) op sosiale media. Jy vergeet van die verwonde weergawe – die realiteit – wat hulle nie deel nie. Foto’s wat nie ‘mooi genoeg’ is nie word nie gedeel nie.

(Foto: Verskaf)

“Ek het ook ʼn geweldige klomp tyd verloor elke dag. ʼn Mens sê so maklik, sjoe, maar die tyd vlieg! Maar dink ʼn bietjie: as jy elke dag twee tot vier ure op sosiale media spandeer sal die tyd vir jou vlieg. Dit is ook wat met my gebeur het. Ek het bloot gesit en sonder nadenke deur al die profiele en foto’s geblaai. Jy sien dalk drie foto’s of video’s waarvan jy hou, maar blaai deur dertig omdat jy glo daar is dalk iets wat jou nog meer sal interesseer.”

In Mei verlede jaar het Bardie besluit genoeg is genoeg en die app van sy foon af uitgevee. Hy het steeds sy profiele, maar gebruik dit nie.

Hy erken dit was aan die begin moeilik om die versoeking om te gaan loer te weerstaan. “Dit is tog maar ʼn verslawing in sy eie aard,” sê hy. “Maar sodra jy die dopamien-detoks gedoen het en jy jou dopamien weer op die natuurlike manier kry, kyk jy nie sommer terug nie. Ek voel baie vars, wat beteken ek het weer krag en energie om te oefen. Ek slaap beter, want ek het nie die blou skerm in my gesig voor en na ek geslaap het nie.”

Sy twee aanneem Pitbulls, Yuki en Irie, is vol energie en hy spandeer daagliks tyd om saam met hulle te oefen. Hy op sy skaatsplank en die honde aan ʼn leiband. Andersins neem hy hulle vir ʼn uitstappie see toe.

“Ek het ook nou tyd vir my vriende – in persoon. Om nié op sosiale media te wees nie het wondere vir opregtheid en ware kommunikasie gedoen. Op ʼn dag loop ek ʼn ou skoolvriend raak, en nog ʼn pêl kom en wens hom geluk. Ek kon opreg-nuuskierig vra hoekom? Hy en sy vrou het ʼn baba verwag. Vir my was dit werklik goeie en nuwe nuus. Ek kon dus ʼn opregte reaksie gee. In die verlede sou ek dalk gesê het dat ek so iets op sosiale media gelees het, en die gesprek sou kort daarna doodloop. Nou kan ek vrae vra oor die nuus wat ek nog nie weet nie ek kon ook sien dat dit vir my vriend heerlik was om te deel.”

Bardie sal nie sommer weer teruggaan na sy sosialemediagewoontes nie. “Ek het gedink ek gaan sukkel om dit te los en dat ek dit nodig het vir my werk. Ek het gevoel dit is ʼn plek waar ek my idees kan stoor en inspirasie kan kry op ander blaaie oor ontwerp. Maar ek het ook besef dit is ʼn manier om my verslaaf te hou aan iets wat nie goed is vir my. Ek is nou meer kreatief en kan vinniger op my voete dink en met nuwe idees vorendag kom.”

Bardie sê hy glo sosiale media is wat jy daarvan maak. “Dit moet jou nie beïnvloed nie, want jy moet in staat wees om as onafhanklike, unieke individu te funksioneer,” sê hy.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Weldeurdagte besluit geneem oor ‘n baie ontstellende tendens! Baie goeie artikel waaruit ons almal inspirasie kan put. BALANS bly maar altyd die wagwoord wanneer dit kom by ons TYD waarop ander mense en dinge graag aanspraak maak. Leef wakker!

Diepoppie ·

Ekt self verlede jaar besluit om weg te kom van dit. Dit raak rerig soos n dwelm verslawing en mense kraak mekaar vreeslik af! Ek voel vandat ek dit gedoen het ligter en vry!

Amelia ·

Baie goeie besluit en welgedaan dat jy dit reggekry het! Ek het twee leuses wat ek ontwikkel het deur ook soos jy eers in ‘n strik te trap. Hulle is 1) Jy kan nooit weer die tyd terugkry wat jy op nonsens verloor het nie, so wees beskermend oor jou tyd en 2) Jy kan nooit iets ‘ont’-sien wat jy reeds gesien het nie of iets ‘ont’-hoor wat jy reeds gehoor het nie. Hierdie tweede een het te make met die invloed wat sekere inligting of media op jou geestesgesondheid het. Hoe dikwels sien ‘n mens nie iets ontstellends raak wat jy eintlik nie wou gesien het nie. Daardie goed kom naderhand by jou spook en daar is nie ‘n wisser waarmee jy dit kan uitvee uit jou brein uit nie. So moenie net op nonsens kliek nie want jy weet nie wat die inhoud daarvan gaan wees of die effek wat dit op jou gaan he nie.

LIEZL ·

Gelukkig het ek nog nooit die sosiale media platforms gevolg of nagejaag nie. En ek is baie gelukkig en tevrede…maar Maroela is ‘n verslawing..haha

Eclectus ·

Wetenskaplikes verwys deesdae na sosiale media as die nuwe nikotien. Ek het dit 7 jaar gelede vaarwel geroep. Die eerste 4 maande was hel maar dit het 2 jaar geneem om heeltemal oor dit te kom. Ek raak erg geïrriteerd as mense nie hul digitale fopspene vir 5 minute kan uitlos nie. Ek noem hulle smombies – “smartphone zombies”. My foon word 99% van die tyd nie gebruik nie. Ek doen nie eens WhatsApp nie. Ek bel en gesels, en as jy regtig iets vir my te sê het doen asb. dieselfde. Ek is tans op soek na ‘n kort afstand seinblokker vir my onthaalarea en ja ek weet dis onwettig, maar ek is so moeg vir die digitale besmetting wanneer ons veronderstel is om net lekker te kuier. Elke 2 minute moet iemand iets gewys word, maar die ergste is wanneer oproepe op luidspreker geplaas word en almal word gedwing om deel van die gesprek te wees.

Erika ·

Sosiale media gaan beslis nie my lewe oorneem nie, ek het wel FB, en whatsapp, en dit is meer as genoeg vir my dankie. Ook is ek nie vas ge-glue” aan my foon nie. My foon los ek juis bedags by die huis, want ek is by werk, om te werk, nie om op my foon te loer elke 5 minute nie. My eie Goue Reël aan vir myself vir myself is, ek raak nie aan my foon, as ek in middae by huis kom, voor ek nie eers kos gemaak het nie, huis skoon gemaak het nie, na aandete, sodra alles klaar is, en ek klaar gebad het, sal ek vir die eerste keer my foon optel, om te kyk wat op foon aangaan. Meeste van my FB post doen ek vroeg oggende as ek nie kan slaap nie. Naweke, is my foon op silent, en binne my kas, ek maak eers my plekkie binne en buite skoon, gee aandag aan my diere, waarna ek as alles klaar is, bietjie sal FB en whatsapp boodskappe lees. Wat my, die meeste irreteer, is die jong klomp wat gaan uiteet, almal sit om daardie tafel en is op hulle fone doenig, pleks van deel te neem aan die gesprek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.