Jong man wil gee, nié ontvang, op 21ste verjaardag

Moleboheng Mokoatle, Mandla Shabangu, Eunice Themba en Samkelisiwe Mlambo (Foto: Verskaf)

Mandla Shabangu wou nie ʼn uitspattige partytjie of ʼn duur motor vir sy 21ste verjaardag hê nie. Dié jong man se grootste wens was om soveel komberse en kos moontlik in te samel om aan die Daggakraal-kinderhuis, een van Suid-Afrika se armste weeshuise, te skenk. Dít sou sý geskenk wees.

Shabangu wat pas ʼn leierskapsprogram by Columba Leadership in Johannesburg voltooi het, het maande voor sy 21ste verjaardag die #Being21-veldtog begin met die doel om skenkings vir dié kinderhuis in Mpumalanga te kry.

Hoewel hy dié veldtog wou voltooi ná sy verjaardag, is hy deur onder meer Nedbank en Nestlé aangemoedig om die veldtog as ʼn niewinsgewende organisasie te registreer om sodoende ander mense in nood ook daarmee te help.

Meer as 125 komberse en ʼn vrag kos is ná Shabangu se verjaardag aan die kinderhuis geskenk.

“Ek het besluit om eerder iets vir iemand anders te doen as om self geskenke te ontvang. Jy word net een keer in jou lewe 21. Ons wil mense aanmoedig om anders te dink oor hoe jy jou 21ste verjaardag vier. Ons reik dus uit na mense wat nog 21 moet word om eerder dié geleentheid te gebruik om ander se lewe te verander,” sê hy.

ʼn Bykomende 100 komberse en nóg ʼn vrag kos is intussen aan die gemeenskap in en om Volksrust geskenk.

“Ons eerste groot projek is pas afgehandel. Ons het baie foute gemaak en daar was heelwat hekkies om te oorkom. Ons gebruik die waardes wat ons by Columba aangeleer het om voort te gaan. Columba het ons van begin tot einde ondersteun. Dit is wonderlik om ʼn verskil in ʼn ander mens se lewe te maak.”

Tracy Hackland, uitvoerende hoof van Columba Leadership, sê dié organisasie glo daar is goedheid in elkeen wat net ontgin moet word. “Praktiese take en ondervinding stel ons leerders in staat om ná hul opleiding op hul eie voete te staan. Die program gaan nie oor liefdadigheid nie – dit gaan daaroor om mense in staat te stel om hul eie lewe te verander,” sê sy.

Shabangu beplan om minstens 250 pare skoolskoene en 250 skooltasse bymekaar te maak om te skenk aan behoeftige kinders in Lusikisiki.

Vir meer inligting oor #Being21 kontak Shabangu deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] of bel hom by 084 668 1940.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leeu ·

Niemand kan meer deesdae iets goeds doen sonder kameras en te wys hoe goed jy is nie.

JC ·

Mooi man! Soos die spreekwoordelike naald in die hooimied, is sy gebaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.