Jong meisie leef passie vir dieselwerktuigkunde uit

Kayla Hildebrandt. (Foto: Verskaf)

Kayla Hildebrandt, ʼn 20-jarige boorling van Rustenburg en dieselwerktuigkundestudent aan Sol-Tech,  het in haar jonger dae soms skelm uitgeglip om aan mense se motors te werk en só te leer hoe ʼn enjin werk en die verskillende dele saamwerk.

“Elke dag het my net meer passievol gemaak, en met my klein handjies kon ek plekke bereik waar mans nie kon inkom nie – en dit het my meer motivering gegee. Elke komponent het ʼn ander funksie en werk op sy unieke manier, iets wat ʼn mens in diepte kan bestudeer,” sê sy.

Sy het in 2019 by Electro Diesel in Rustenburg gewerk om ondervinding op te doen, en dit is hier waar haar passie en ywer vermeerder het en sy die funksie van elke motorenjindeeltjie begin bestudeer het.

Sy wou sien hoe elke deeltjie lyk en hoe dit in stand gehou word. Sy vertel dat daar nie ʼn enkele dag verbygegaan het waarin sy nie iets geleer het nie.

“Ek het vier weke lank elke dag ʼn alternator en aanskakelaar uitmekaargehaal en weer aanmekaargesit, sodat ek elke deeltjie uit my kop kon leer ken en benoem en weet hoe dit werk.”

Haar passie vir motors en die werking daarvan is een wat sy en haar pa gedeel het. Ná haar pa se dood het Hildebrandt en haar ma finansiële uitdagings ervaar en was daar nie geld vir tersiêre studie nie.

Sy het egter nie moed verloor nie. “Dit is ʼn passie wat ek met my pa gedeel het en waarmee ek hom wil trots maak en wys dat ek sterk genoeg is om dit te voltooi.”

Hildebrandt het in 2020 van die Helpende Hand Studie Trust (HHST) te hore gekom, en sy het met groot opgewondenheid vir ʼn rentevrye studielening aansoek gedoen. Danksy dié rentevrye studielening kon sy vanjaar haar studie by Sol-Tech afskop.

“Dieselwerktuigkunde is iets heel anders vir my, ek raak opgewonde net om daarvoor te leer en te weet dat ek eendag self dieselmotors sal kan herstel. Ek wil elke oggend wakker word en weet – ek gaan werk toe, en ek gaan aan motors werk. Dieselwerktuigkunde is meer as net ʼn kwalifikasie, dit is my passie.”

Die HHST is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat sedert 2009 al meer as 6 300 behoeftige Afrikaanse studente se tersiêre studie moontlik gemaak het.

Jy kan help om ʼn behoeftige Afrikaanse student se studie moontlik te maak deur ʼn eenmalige of maandelikse skenking aan die HHST te maak.

Besoek https://helpendehand.co.za/borg-n-behoeftige-student/ vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Knap gedaan, wys net dit kan gedoen word, waar n wil is, is daar n weg.

jou gewete ·

let wel: sy wil werk, nie werk toe gaan om salaris te kry nie. Daar is n verskil. Hou so aan, jy sal voor uitkom

Erika ·

Mooi Meisie -Jy wys dat Vrou dit Kan doen en steeds vroulik wees

Belinda ·

Trots op jong mense wat nog hul drome wil bereik. Wel gedaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.