Jong ontwerpers kry hupstoot met gesogte beurse

Gert-Johan Coetzee saam met Partick Ferguson en Yaaseen Pinetown (Foto: Verskaf)

Die modedrome van twee 19-jariges het onlangs waar geword toe hulle aangewys is as die ontvangers van die Gert-Johan Coetzee-beurse vir 2018 aan die Northwest School of Design (NWSD) in Klerksdorp.

Yaaseen Pinetown van Westonaria in Gauteng en Patric Ferguson van Howick in KwaZulu-Natal het elk ’n beurs ontvang. Die beurse is altesaam R345 000 werd.

Pinetown gaan Modekommunikasie en -aankope studeer, terwyl Ferguson ʼn Modeontwerpkursus gaan aanpak met sy beurs. Die aspirant-modemanne is deur Coetzee sélf by die NWSD se jaarlikse glansryke Platinum Modefees benoem.

Dié beurse sluit benewens alle klas- en studiegeld vir die drie jaar van die kursusse boonop ook Coetzee se persoonlike mentorskap in, sowel as die geleentheid om internskappe by sy ateljee deur te bring. Pinetown en Ferguson sal ook naaldwerkmasjiene van Bernina ontvang, ter waarde van R45 000. Wanneer hulle ná drie jaar kwalifiseer, kom hulle in aanmerking om in te skryf vir ’n lisensiaatskap in mode, wat die hoogste internasionaal-aanvaarde modekwalifikasie tans in Suid-Afrika is.

Volgens ʼn mediaverklaring is dit die tweede jaar dat Pinetown aansoek doen om dié beurs. “Yaaseen het ʼn kanniedood-houding wat behoorlik vrugte afgewerp het. Die jong Gautenger het in 2016 ook aansoek gedoen om die beurs, maar nie geslaag nie, en net eenvoudig besluit om aan te hou werk en weer vanjaar te probeer.”

Pinetown sê mode is waar hy hoort, en dat dit hom die geleentheid gee om met sy perspektief die wêreld te verander. “Mode is my ding al vandat ek net twee jaar oud was. My ma vertel graag die storie hoe ek soggens wanneer sy vir werk aangetrek het, haar skoene vir haar gekies het, asook watter lipstiffie en oogskaduwee sy moes dra. Ek was agt toe ek my eerste Herfs/Winter-versameling geskets het!”

Pinetown het al op die ouderdom van vyf begin naaldwerk doen en ontwerp sedert 2011 matriekafskeidrokke.

Coetzee was baie beïndruk deur die sigbare vordering in Pinetown se werk sedert sy vorige aansoek. “Dit was opmerklik dat hy moeite gedoen het om sy werk voortdurend te verbeter.”

Ferguson wou ook van jongs af ’n mode-ontwerper word. Sy eerste balrok het hy twee jaar gelede ontwerp en sedertdien verskeie matriekafskeidrokke vir meisies gemaak. “Ek glo ek het die vermoë om te voorspel wat mense wil dra, en ek het nog altyd in kleremaak en mode belanggestel.”

Coetzee is welbekend vir sy glanstapyt-skeppings wat gereeld deur plaaslike en internasionale sterre by glansgeleenthede gedra word, maar hy voel net so sterk oor sy betrokkenheid by opvoeding. Die 30-jarige ontwerper borg al sewe jaar lank jong ontwerptalent met sy beursprogram, en hy sê dat albei vanjaar se wenners hom aan die jong Gert-Johan herinner.

“Hulle is so honger vir sukses, en so gek na mode soos ek was, en hulle werk heeltyd daaraan om beter te raak met wat hulle doen.

“Die feit dat albei reeds vir klante rokke maak, wys hulle het daardie uiters belangrike sake-aanslag. Ek is vol vertroue dat hulle sal woeker met die kans wat hulle nou met die beurse kry, sodat hulle eendag ook hulle stempel kan afdruk op die modewêreld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marinda ·

Baie geluk, Yaaseen en Patrick. Dis ñ wonderlike geleentheid vir altwee van julle. Dankie ook aan Gert-Johan Coetzee, dis altyd so wonderlik om van sulke voel goed stories te lees. Van mense wat opgee vir ander en hulle talente.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.