Jong SA’ner wen internasionale fotografie-prys

Kgaugelo Neville Ngomane (Foto: Wild Shot Outreach via Ground Up)

Kgaugelo Neville Ngomane is werkloos en slegs 19 jaar oud, maar hy het pas ʼn internasionale fotografiekompetisie gewen met ʼn hartroerende foto van ʼn renoster wie se horing afgesny word.

Ngomane se indrukwekkende foto is getiteld “Desperate Measures” en is uit meer as 4 000 internasionale inskrywings as die wenfoto van hierdie kompetisie gekies. Die beoordelaars het dié foto vir sy storie-vertelling en fotografiese meriete geloof.

Die Young Environmental Photographer of the Year-toekenning word jaarliks deur die Internasionale Instituut vir Water en -omgewingsbestuur  toegeken. Vanjaar het dié toekenningsgeleentheid in die Nasionale Krugerwildtuin plaasgevind.

Ngomane, wat uit Bosbokrand in Mpumalanga kom, het gesê dit is ʼn groot eer om as die wenner van die kompetisie aangewys te word, maar dat dit vir hom oor veel meer as net wen gaan.

“Dit beteken vir my baie, want ek is lief vir fotografie. Maar ek wil nie net wen nie, ek wil ʼn verskil maak. Dit is nie maklik om te kyk hoe so ʼn ikoniese dier onthoring word nie. Ek hoop hierdie foto sal mense help om te sien wat ons moet doen om ons renosters te red, en om bewaring te ondersteun,” het hy aan Ground Up gesê.

Desperate Measures deur Kgaugelo Neville Ngomane (Foto: Wild Shot Outreach via Ground Up)

Ngomane is werkloos, maar hy het ʼn kursus voltooi by Wild Shots Outreach in Hoedspruit. Dit is ʼn niewinsgewende organisasie wat jong mense wat uit arm gemeenskappe kom, leer oor wildlewe-fotografie.

Die program se werksaamhede fokus daarop om fotografie vir hoërskoolleerders uit openbare skole en werklose jongmense in die omgewing van die Nasionale Krugerwildtuin te leer.

Hierdie mense woon reg langs die nasionale park, maar 99% van hulle het nie toegang tot hul natuurlike erfenis nie, en hulle het nog nooit self van Afrika se bekendste wildlewe gesien nie,” het Mike Kendrick, stigter van Wild Shots Outreach gesê.

“Die prys is ʼn fantastiese toekenning vir Neville, vir Wild Shot Outreach en vir die gemeenskap van jongmense saam met wie ek werk,” het Kendrick bygevoeg. “Hulle het trots geword op hul foto’s, hul stories, hulself én hul natuurlike erfenis – ʼn erfenis wat voorheen moeilik was vir hulle om toegang tot te kry.”

Kendrick sê Ngomane se foto was moontlik gemaak deur ʼn renosterbewaring-liefdadigheidsorganisasie, Rhino Revolution.

Hoewel dit ʼn onaangename ervaring is om te sien hoe ʼn renoster onthoring word, is dit soos vir ʼn mens om sy vingernaels te knip, die horing groei ook terug, sê Kendrick.

Desperate times call for desperate measures. Om ʼn renoster te onthoring is die laaste desperate poging om stropers weg te hou,” het Kendrick bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.