Jong vrywilliger doen 1 000 diensure by NSRI

Die 21-jarige Jamie Potgieter doen al ses jaar lank vrywillige dienswerk by die NSRI (Foto: Verskaf)

Die 21-jarige Jamie Potgieter doen al ses jaar lank vrywillige dienswerk by die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI). Sedertdien het sy bykans 1 000 uur se dienswerk by dié instituut gedoen, insluitend haar opleidingswerk en praktiese ure.

“Toe ek vyf was, het my pa begin om vrywilligheidswerk vir die NSRI te doen,” vertel Potgieter. “Ek het op diensstasies grootgeword. Om ʼn vrywilliger te wees, is eintlik in my bloed,” skerts sy.

Potgieter werk by Stasie 27 wat in Benoni, Gauteng, geleë is. Dit is een van die vyf binnelandse stasies wat rondom damme en riviere werk met die doel om verdrinking met reddings-, opvoedkundige en voorkomingsinisiatiewe te voorkom.

Behalwe dat sy by waterveiligheidstasies tydens geleenthede soos kanovaart en visvangkompetisies help, is sy ook verantwoordelik vir die opleiding van voornemende vrywilligers en die ontwikkeling van ʼn volgende generasie reddingswerkers.

“Ons jeug is die toekoms van Suid-Afrika, so ek glo dat ons almal moet saamstaan ​​om die land ʼn beter plek te maak,” sê sy.

Potgieter is passievol oor haar betrokkenheid by die NSRI. Haar droom vir die toekoms is om voort te bou op die rol as opvoeder en ʼn verskil in kinders se lewens te maak.

Jivan Shunmoogam het in 2015 by die NSRI aangesluit en werk hoofsaaklik in die reddingspan (Foto: Verskaf)

“Ek werk tans in die verkoopafdeling, maar ek hoop om eendag onderwys te studeer. Dit is my passie om met kinders werk,” vertel sy.

Hoewel daar soms ook maar moeilike dae is, put Potgieter groot vervulling uit haar werk. Wanneer sy nie besig is met vrywilligheidswerk nie, bring sy graag tyd saam met familie en vriende deur, of sy is op haar perd, Charlie, of ʼn vierwielmotorfiets.

Nog ʼn jong vrywilliger, Jivan Shunmoogam, werk saam met Potgieter by Stasie 27. Shunmoogam het in 2015 by die organisasie aangesluit en werk hoofsaaklik in die reddingspan.

Hy beskou sy betrokkenheid as ‘n manier om fiks te bly en ʼn verskil in die gemeenskap te maak.

“Ek glo dat die jeug van Suid-Afrika aktief in hul gemeenskappe moet wees, en daarom hou ek daarvan om vrywilligheidswerk te doen en ander te help,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.