Jongman spring in om kinderhuiskinders se fietse te herstel

Christoff Jacobs (Foto: Verskaf)

ʼn Negentienjarige man van Brits in Noordwes het onlangs tientalle kinderhuiskinders se dag gemaak toe hy uit die bloute by hulle opgedaag het om hul fietse reg te maak.

Christoff Jacobs, wat ’n mobiele fietsherstelbesigheid genaamd On the Go Cycles het, het aan Maroela Media vertel dat hy aanvanklik nie beplan het om daardie dag na die Cornerstone-kinderhuis toe te gaan nie.

“Dit was regtig stil by die werk daardie dag en my ma het toe voorgestel ek gaan na die kinderhuis toe om hulle te help. Om eerlik te wees, wou ek nie gaan nie, omdat ek geweet het ek gaan nie almal se fietse kon regmaak nie. Ek het toe maar net moed bymekaargeskraap en gegaan,” het hy gesê.

Jacobs het gesê hy het gedink daar gaan net sowat tien fietse wees wat hy moet regmaak, maar toe hy daar kom, was daar meer as 20 kinders wat sy hulp nodig gehad het.

“Dit was baie emosioneel vir my om nie almal te kan help nie en om nie almal se fietse te kan saamvat nie. Dit is baie moeilik, ek het gehuil toe ek in die kar moes klim en wegry. Net om te weet daar is nog so baie kinders is erg, en wat gaan ek vir hulle sê? Hoekom kan ek nie hulle fietsies regmaak nie?” het hy gesê.

Jacobs moes basiese probleme soos remme, kettings, ratte en bande regmaak aan die fietsies. Hy het ook twee fietsloodse gemaak sodat die kinders ʼn plek het om hul fietse te bêre.

Jacobs het gesê hy sal graag meer wil doen vir die kinders, want elke kind verdien ʼn fiets.

“Ek wil graag meer doen sover ek kan, en kyk of ek eerder nuwe fietsies kan koop, eerder as om ʼn stokou fiets reg te maak. Ek wil ʼn spesiale fonds stig om dit te doen en om dan daardie fietse in stand te hou,” het hy gesê.

Jacobs het Woensdag reeds vier nuwe fietse na die kinderhuis gevat saam met die fietsloodse wat hy gemaak het.

“Ek dink nie ʼn kind kan grootword sonder ʼn fiets nie, dit is deel van ʼn mens se kinderjare. Elke kind verdien ʼn fiets. Daar is baie kinderhuise daarbuite met dieselfde probleem, en dit is moeilik om nie almal te kan help nie,” het hy gesê.

Indien jy vir Christoff wil help, kontak hom by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

nonnie ·

Christoff Jacobs, die mooiste gebaar ooit! Jy bewys so baie mense verkeerd wat altyd so kla oor vandag se jongmense. Jy is ‘n voorbeeld vir baie. Mag hierdie in veelvoud terugkom na jou.

GRIET ·

????BAIE DANKIE VIR JOU EN JOU MOEDER SE OMGEE,CHRISTOFF??? PRAGTIGE JESUSHARTE !
mag jou besigheid van krag tot krag gaan

Ella1 ·

Wat n lekker berig en wat n vindingryke jongman.
Baie geluk met jou onderneming en met jou inisiatief.
Jy verdien om gehelp te word. Vir jouself en kinders wat minder bevoorreg is.

RIEKS ·

Pragtig Christoff!! Jou ouers kan trots wees op jou.
Sterkte met jou besigheid. Die Here seën jou!

Mirinda ·

Ons is baie trots op jou Christoff, hierdie is beslis n goeie kind, met n hart van goud!!!

Jeremia ·

Wonderlik Christoff! Ek bewonder jou ondernemingsgees.
Met hierdie ingesteldheid behoort jy dit nog baie ver te bring in die lewe.
Jy verdien ondersteuning. Mag jou besigheid van krag tot krag gaan!

Carina ·

Wat ‘n lekker gevoel om hierdie berig te kon lees. Welgedaan jongeman en sy moeder vir hierdie gebaar. Kan net glo die opgewondenheid wat daar moes heers omdat hulle fietse herstel kon word. Dankie vir jou!

alida ·

Kinders en drie basiese goed nodig, Fiets, hond en sweets. En daarby twee betrokke ouers wat baie liefde gee en sorg vir ‘n vol maag en warm bed.

My mening ·

Besonderse jong man wat n voorbeeld vir ons almal stel. Mens kan sien sy ma moet ook n besonderse vrou wees.

Paja ·

Wonderlike nuus van n jongman ..God sal jou ryklik seen in jou werk vir jou onbaatsigtige diens aan minderbevooregtes…mooi so

Amy ·

So mooi om hierdie te lees. Jou Ma het jou reg groot gemaak. Jy is nou wragtig trou materiaal.

Eleanor ·

Christoff, wat n Wonderlike Gebaar. Begin uitkyk vir groter persele, julle sal nooit weer stil tye in julle besigheid ervaar nie. God gaan jou RYKLIK Seen. Niemand kan ontvang of gee met ‘n toe hand nie – julle hande was oop om ander te help sonder vergoeding. God laat NOOIT SULKE ONBAATSIGTE GOEDHEID ongesiens verby gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.