Só bou die Virseker Trust aan jou taal en toekoms

 Studente_gradeplegtigheid_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Elke kind het ʼn droom. Elke jongmens streef na sukses. Dink maar aan die dogtertjie wat haar siek pop dokter – sy kan eendag lewens red. Kyk na die knapie wat sy blokkies noukeurig op mekaar rangskik totdat die toring omtuimel, en dan van voor af begin – hy gaan eendag brûe bou, letterlik én figuurlik. Sien hoe straal die hoërskoolkind op die verhoog, blinkoog met ʼn prestasiebeker in die hand en ʼn lied in die hart.

Wat is hul toekoms werd? Hoe meet jy die waarde van hul volgende paar dekades? Van elke asemteug, elke hartklop, elke Afrikaanse woord wat oor hul lippe rol, elke tree wat hulle neem op hul pad na ʼn onbekende toekoms? Hoe sorg jy nóú vir ʼn goeie toekoms in jou geliefde land Suid-Afrika?

Die Virseker Trust glo dat opleiding die antwoord op al hierdie vrae is. Vir jongmense om ʼn toekoms in Suid-Afrika te hê, moet daar in jongmense se toekoms belê word. Dié toekoms-gerigte trust is juis gestig om vir Virseker, Suid-Afrika se eerste korttermynversekeringsproduk wat eksklusief in Afrikaans beskikbaar is, se polishouers die geleentheid te gee om daadwerklik ‘n verskil te maak met opleidingsprojekte wat die Afrikaanse gemeenskap so na aan ons harte lê.

Dirk Hermann, voorsitter van die Virseker Trust, verduidelik: “ʼn Gedeelte van die premie van elke Virseker-polishouer word aan die Virseker Trust geskenk, wat dus beteken dat alle Virseker-polishouers saam aan ʼn Afrikaanse toekoms bou. Deur die baie bietjies van Virseker-polishouers kan groot projekte aangepak word. Virseker-polisse is dus die boustene waarmee Afrikaanse onderwysinstellings gebou en jongmense ondersteun word.”

Hy glo vas dat jongmense in staat gestel moet word om hulle eie toekoms te bou. “Die beste manier om dit reg te kry is deur die vaslegging van kennis. Kennis kan nie oorgedra word as daar nie Afrikaanse instellings is nie en daarom belê ons daarin om Afrikaanse instellings te bou en bied studiehulp aan talle jongmense. Die Virseker Trust het reeds meer as R32 miljoen in Afrikaanse onderrig belê.”

Een van die grootste projekte van die Virseker Trust is die bou van ʼn Afrikaanse universiteit, Akademia. “Ons glo dit is belangrik vir ʼn volwasse taal om wetenskap tot op die hoogste vlak te kan beoefen. Elke Virseker-polishouer help dus bou aan ʼn nuwe universiteit, polis-vir-polis. Behalwe vir Akademia se dertien landswye sentrums, word daar ook beplan om ʼn volledige kampus met koshuise te bou. Akademia beplan om in 2019 30 nuwe grade vir akkreditasie in te dien en die Virseker Trust help graag bou aan dié groot projek,” sê Hermann.

Wiskunde is vir baie jongmense ʼn deurgang tot beroepe. Daarom help die Virseker Trust ook om Wiskunde-onderwys in Afrikaanse skole te bevorder deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum te ondersteun met ʼn spesifieke fokus op die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde-onderwysers.

Dus, Sannie van Sannieshof én Walter van Waterkloof kan by die Virseker Trust se inisiatiewe baat. Die Virseker Trust help graag Afrikaanse jongmense oor ʼn wye spektrum. Deur onder meer die Wolkskool van die Solidariteit Skoleondersteuningstelsel, kan hoë gehalte-onderwys in die platteland deur die nuutste tegnologie aangebied word. Behoeftige Afrikaanse jongmense kan ook toegang tot studies kry en deur Akademia se landswye sentrums is universiteitsopleiding vir baie meer Afrikaanse jongmense toeganklik. Met die nuwe kampus wat gebou gaan word sal Afrikaanse jongmense weer ʼn gesonde studentelewe kan geniet.

Behalwe die belegging in opleidingsinstellings wil die Virseker Trust ook in ʼn Afrikaanse lewensruimte belê. Saam met Virseker is die trust betrokke by borgskappe soos Afrikaanse is Groot en TV-programme, en moedig hulle as hoofborg van die skolerugbytoernooi, die Virseker-beker, ook ʼn gebalanseerde leefstyl onder kinders aan.

Afrikaans is nie net ʼn praat-taal nie. Dit is ʼn droom-taal, ʼn leef-taal en ʼn dóén-taal. Dit is die taal waarin gedokter word, gebou word, geleer word, presteer word – ʼn taal waarin gefloreer word. ʼn Belegging in Afrikaans is dus ook ʼn belegging in jou eie toekoms en dié van jou gemeenskap. Die Virseker Trust belê graag in ons mense, in ons taal en in ons jongmense se toekoms.

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ‘n bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ‘n kans om ‘n bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

Lees nog promosieartikels van Virseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.