Juffrou en dapper muis sorg vir honderde heel hartjies

Nita Heyns (Foto: Maroela Media)

’n Klas met meer as dertig raserige negejariges wat gelyk aandag soek, vereis ’n juffrou wat so dapper is soos die Dapper Muis in die bekende liedjie – dít sal enige onderwyser kan beaam. Want daar is niks waarvoor ’n ervare juffrou skrik nie. Inteendeel, as jy mooi luister, hoor jy die storie ágter elke kind se stemmetjie.

So ’n juffrou is Nita Heyns, ’n onderwyseres van Laerskool Rooihuiskraal, wat vanjaar aftree ná ’n onderwysloopbaan van 34 jaar. Deur die jare het sy geleer om na elke stem in haar klas te luister. Sy wéét elke kind het ’n storie, en in haar loopbaan van meer as drie dekades het sy baie trane afgevee en drukkies gegee wanneer ’n kind haar vertel wat hom of haar werklik pla. Soms het sy gewens sy kan méér doen as net drukkies uitdeel om vir die kinders te wys dat sy verstaan. En só is die denkbeeldige karaktertjie Fênsie Muis gebore. Dié muis het haar in staat gestel om op ’n kreatiewe wyse kinders in haar klas deur die uitdagings in hul lewe te help.

Dit het sommerso spontaan gebeur, een oggend in die jaar 2000, toe die kinders almal op die mat in ’n kring om Juffrou sit en een vra: “Juffrou, vertel vir ons ’n storie…”

Nita moes vinnig dink, en het onthou hoe sy in haar jonger jare die muise op hul familieplaas dopgehou het. Fênsie Muis is gebore, en kort voor lank het die verhaal vlerke gekry.

“Ek gebruik vandag nog Fênsie muis se storie om kinders te motiveer, kreatiewe denke te leer en om waardes aan hulle oor te dra.”

Die muis kry kleintjies

Nita Heyns (Foto: Maroela Media)

Deur die jare, en met elke nuwe uitdaging in die klas of in ’n klasmaat se persoonlike lewe, is ’n nuwe karakter in Fênsie Muis se avonture ingebou. Karakters waarmee die kinders maklik kon assosieer en wat Nita gehelp het om selfs aktuele onderwerpe soos besoedeling, natuurrampe en boeliegedrag aan te spreek.

“Ek het begin met ’n muisgesin, Mamma Muis, Pappa Muis, en Boetie Muis, sodat die dogters en seuns albei ’n karakter kon hê om mee te identifiseer,” vertel Nita. Later het Ouma Muis en Oupa Muis bygekom toe Nita besef het dis tyd om die kinders waardes soos deernis en omgee vir mekaar te leer. En dan is daar natuurlik die Muisheks, sodat kinders kon besef alles in die lewe is nie net goed en mooi nie.

Sy vertel entoesiasties hoe ouers ook oor die jare ingekoop het in Fênsie Muis se verhale. “Een dogtertjie se ma, Anna-Marie Smit, het baie vinnig die draad van die storie opgetel en subtiel begin saamspeel. So is tannie Poeks van Marble Hall gebore. Sy het gereeld pakkies en briewe vir Fênsie Muis laat aflewer. Daar was uitrustings, muiskolwyntjies, feetjietowerstof en ander wonderlike goed wat die kinders se ogies laat blink het.”

En Fênsie Muis is glad nie ʼn outydse muis nie. Sy het selfs ’n geslote Facebookblad waar die ouers van kinders wat deur die jare onder Nita se hande deur is, hul kinders se eie ervaringe van die muis kan deel. Nita gebruik ook dié blad om die dosyne Fênsie Muis-prente wat die kinders in haar klas teken, met hul ouers te deel.

Nita sê sy het vinnig agtergekom hoe vatbaar die kinders vir die storie is.

“Die kinders was opgewonde daaroor om die waardes wat ek in Fênsie Muis se avonture ingebou het, self te probeer nastreef. Die kern hiervan is respek – respek vir jou ouers, vir jouself en vir jou maatjies.”

Hartseer verhale

Een van die kindertekeninge (gedeel op die geslote Facebook-blad vir Fênsie Muis)

Karakters het spontaan deel geword van die storie soos wat die behoefte onder die kinders ontstaan het. Toe daar eendag ’n duif voor Nita se klasdeur land en ewe mak bly sit, was die kinders in vervoering. Hulle het die duif vasgehou en vertroetel, want dit is mos die posduif! Kort hierna het Heyns ’n posbus in die klas gesit waar die kinders briewe vir Fênsie Muis kon pos. Heyns deel die briewe op Facebook, of soms, wanneer ’n kind sy hart uitstort, word sy weer herinner daaraan dat elke kind sy of haar eie storie het; dat daar hartseer en pyn skuil agter die skynbaar onnodige tranedal of die klasboelie se woede.

Nita vertel sy word, soos alle onderwysers, dikwels met die kinders se tragiese huisomstandighede gekonfronteer. Dit is dan dat sy probeer uitreik en begrip toon vir die kind se omstandighede. In sulke tye word Fênsie Muis dan meer as ’n karakter, maar ’n simbool van hoop. Nie net hoop in die kinders se harte nie, maar ook in Nita s’n.

Later, vertel sy, het vleimuise ook deel van die storie geword.

“Al die stoute goed wat kinders aangevang het en al die onaanvaarbare gedrag het ek om die nek van die vleimuise gehang: Fênsie Muise maak nie so nie, net vleimuise. En niemand wil ’n vleimuis wees nie. Dit het my soms weke geneem om van ’n vleimuis ʼn Fênsie Muis te maak!”

Sy het gereeld outjies in haar klas gehad wat haar kom vra het om hulle te help, want hulle wil nie vleimuise wees nie, sê sy. Fênsie Muis het talle briewe ontvang waarin kinders haar vra om hulle te help om ook soos sy te wees.

Die belangrike lesse

Een van die kindertekeninge (gedeel op die geslote Facebook-blad vir Fênsie Muis)

Nita se toewyding aan haar onderwysloopbaan was eenvoudig en eg: ’n Liefde vir kinders het haar gemotiveer haar om volle verantwoordelikheid vir haar roeping as onderwyser te neem. Volgens haar is dit ’n groot uitdaging om deesdae ’n onderwyser te wees. “Die departement van onderwys se vereistes wat die hele tyd verander, kry ’n mens somtyds onder,” sê sy.

Tog het sy elke dag met nuwe toewyding aangepak. “Ek het oor die jare baie dinge van menswees by die kinders geleer, soos om te lag – ’n mens kan nie altyd oor alles raas nie; somtyds moet ’n mens net die snaaks in ’n oomblik raaksien en dit geniet.”

Sy sê sy het ook geleer om te vergewe. “Gister se probleme kan maar by gister agterbly. Dit is belangrik dat kinders dit ook so ervaar. Ons begin elke dag op ’n nuwe bladsy.”

Totsiens

Nita tree binnekort af. Die trane lê vlak in haar oë en haar stem bewe terwyl sy daaroor praat. Elke kind se verhaal is verweef in die plooitjies om haar oë en die sagtheid van haar glimlag – ’n sagtheid wat die kinders maar te goed geweet het hulle nie moet probeer misbruik nie.

Miskien tree Fênsie Muis nie saam met haar af nie. Hieroor wil Nita nie nou al te veel verklap nie, maar sy glimlag geheimsinnig, asof sy weet dié storie se laaste hoofstuk is nog lank nie geskryf nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andrea ·

Fantasties! Dis nou n kosbare juffrou en n vrekoulike idee. Gelukkige kinders wat in haar klas was.

Suzette Geringer ·

So oulik. ‘n Aanwins vir die onderwys. Jammer sy tree binnekort af.
Welgedaan Juffrou Nita.

Goeie Juffrou ·

My kind was bd juffrou in die klas gewees PUIK juffrou- Jane-Mari

Marietjie ·

Dis n voorreg om te kan sê: ons was ook vir n paar jaar kollegas. In die kort rukkie het Nita se fyn sin vir humor en opregte omgee my n paar dinge van die lewe geleer. Dankie vir jou jy-wees Nita. Dit was van my lekkerste jare in die onderwys. Sterkte vir die jare wat voorlê en ons weet dis net die begin van jou oneindige kreatiwiteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.