Junior entrepreneurs kan vaardighede slyp in dié kompetisie

versorg-sanderien-van-der-walt-alta-strauss-en-leandie-brasler

Sanderien van der Walt, Alta Strauss en Leandie Brasler by die bekendstelling van die Besigebytjies-kompetisie vir jong entrepreneurs. Foto: Verskaf.

ʼn Splinternuwe kompetisie vir junior entrepreneurs is by Laerskool Roodekrans in Roodepoort bekendgestel.

AfriVriendelik, ʼn entrepreneursplatform vir Afrikaans-vriendelike ondernemings, en die burgerregte-organisasie AfriForum se afdeling vir onderwyssake het besluit om saam te werk om die kompetisie getiteld Besigheidsbytjies, amptelik op 25 April van stapel te stuur.

Die doel van dié kompetisie is om jong kinders se entrepreneuriese vaardighede van vroeg af te ontwikkel. Laerskoolleerders van oor die land heen sal om die beste produkidee en basiese vaardighede meeding om hul produk suksesvol te ontwikkel, bemark en verkoop. Die publiek sal aanlyn vir die deelnemers kan stem mits hulle aan die aanlyn kriteria voldoen. Daarna sal ’n paneel die wenners aanwys.

Laerskoolleerders kan in twee kategorieë inskryf: graad 1 tot 3 (7- tot 9-jariges) en graad 4 tot 7 (10- tot 13-jariges). Met hierdie entrepreneurskompetisie wil AfriForum kinders beloon wat wys dat hulle selfstandig kan werk en kreatief kan wees om idees in ’n onderneming te omskep.

“By AfriForum wil ons mense én kinders aanmoedig en inspireer om daar waar hulle is, ’n verskil in die gemeenskap te maak. Deur jou vaardighede as entrepreneur te ontwikkel, kan jy dalk eendag ’n werkgewer wees wat ’n verskil maak deur werk te skep. Jy leer ook om selfstandig en onafhanklik te wees van iemand wat vir jou werk moet gee. Ons wil hê kinders moet besef hulle kan eendag ‘die baas’ wees – mits hulle hard werk aan hul idees en die uitvoering daarvan,” sê Sanderien van der Walt, AfriForum se projekkoördineerder vir AfriVriendelik.

“AfriForum Onderwys glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms, en hulle kan hoop skep deur van jongs af aan hul toekoms te bou,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

“As sake-eienaar het ek eerstehandse ondervinding van hoe jou lewe verryk kan word deur ’n entrepreneur of sake-eienaar te wees. Deur my onderneming kry ek die geleentheid om ’n impak in ander se lewens te hê en dit is ongelooflik vervullend. Om jou eie onderneming te bedryf, leer jou ongelooflik baie van jouself, van mense en die lewe. Hoe vinniger ons kinders met hul talente kan woeker, hoe beter sal hulle toegerus wees om die lewe aan te durf,” sê Laetitia Dee, uitvoerende hoof van Laetus Life, wat die kinders by dié bekendstelling toegespreek het.

“Dit is van onskatbare waarde om leerders reeds op grondslagfase met entrepreneur­skapsvaardighede toe te rus. Dit bevorder vroeg in kinders se lewe hul vaardigheid om probleme op te los, proaktief te wees, integriteit en deursettingsvermoë aan die dag te lê… daarom is dit dan ook gevestig in hul menswees.

Ons het ’n verantwoordelikheid om in ons kinders te belê en hierdie inisiatief is nie net ’n aanwins vir die individu nie, maar vir ons land in geheel,” sê Alta Strauss, motiveringspreker en entrepreneur.

  • Leerders, ouers en onderwysers kan besigheidsbytjies.co.za besoek vir meer inligting of om nader aan die tyd in te skryf vir dié kompetisie. Stuur gerus ’n e-pos na [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mia ·

Dit is n baie goeie en belangrike projek want ons sal net onsself moet bemagtig al van jong dae af. Ek hoop alle skole neem deel, brei dit asseblief uit na alle skole en universiteite en die wat al werk of werkloos is sodat ons n nasie van entrepreneurs kan word. Dit het baie goed vir die Israelse volk gewerk.

Fanie Kemp ·

Baie dankie AfriForum vir die nuwe inisiatief wat weereens bewys dat julle positief wil Bou aan ‘n beter toekoms vir ons jeug en ons Land en nie net heeldag kla en kritiseer nie.
Ek sien hierdie as ‘n belegging in die toekoms van ons Jeug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.