‘Jy het die reg om jou lewe te lei’

Sanette Smit. (Foto: Marike Herselman Photography)

Sanette Smit. (Foto: Marike Herselman Photography)

Stay Safe is ʼn geregistreerde niewinsgewende organisasie wat daarop toegespits is om vroue in gemeenskappe reg oor Suid-Afrika te bemagtig deur selfverdedigingswerksessies aan te bied.

Sanette Smit, stigter van Stay Safe, vertel dié organisasie het reeds meer as 200 000 meisies in laer-en hoërskole dwarsoor die land bemagtig deur hulle te help om vaardighede in algemene veiligheid en selfverdediging aan te leer.

In 2014 het die organisasie ʼn landswye toer van 18 maande onderneem waartydens sowat 1 800 vroue van alle ouderdomme uit behoeftige gebiede toegerus is met die vaardighede wat Smit sorgsaam, ná jare se navorsing, in ʼn selfverdedigingsillabus saamgestel het.

“Ek is al vir langer as 45 jaar by karate betrokke. In dié karateklasse wat ek aangebied het, het ek besef dat ek nie regtig veel weet van die aanvaller nie. Dit het my gepla dat ek nie vir my studente kon sê wat ʼn proaktiewe manier sou wees om gevaar te voorkom nie.”

Daarom het sy tydens haar derde swartgordelgradering ʼn eksta teoriemodule in verkragting gedoen sodat sy meer inligting oor dié onderwerp kon bekom. “Ek het ook begin gesels met mense wat verkrag is, veral vroue van alle ouderdomme. Ek het besef dit is ʼn probleem wat erger raak in Suid-Afrika. Ek het ook besef dat die gemiddelde vrou nie karate wil doen nie,” vertel sy.

“Ek wou vroue, ongeag of hulle sport doen of fiks is of oud of jonk is, bemagtig met vaardighede om hulself te kan verdedig wanneer ʼn krisissituasie opduik. Ek wou hulle leer dat daar opsies is,” sê sy.

Die klasse word gratis aangebied en alle vroue is welkom. Smit en haar span van agt bekwame selfverdediginginstrukteurs het al na die uithoeke van die land gereis om vroue van Beaufort-Wes tot George tot Worcester op te lei.

Sy vertel hulle het Bredasdorp meer as een keer besoek ter nagedagtenis aan die verkragte en vermoorde Bredasdorpse meisie, Anene Booysen. Booysen se liggaam is op 2 Februarie 2013 op ʼn konstruksieperseel in Bredasdorp opgespoor. Die tiener is verkrag en haar liggaam is geskend. Sy het later die dag in die hospitaal aan haar beserings beswyk.

“Ons het gewoonlik tussen 50 en 100 vroue op die vloer tydens die werksessies. Ons probeer om te fokus op behoeftige buurte waar die vroue nie die klasse kan bekostig nie. Dis sleg om sulke aannames te maak, maar dit is moeilik om in sommige dele van die land die armoede mis te kyk,” verduidelik Smit.

“Die vroue leer baie, soos hoe om paraat te wees, hoe om bewus te wees van jou omstandighede deur te kyk en te luister en te voel. Ons leer hulle byvoorbeeld hoe om om te sien dat iemand nie jou drankie dokter wanneer jy uitgaan nie. Dis baie keer goed waaraan die mense glad nie dink nie. Skooldogters veral is baie naïef.”

Sy vertel baie van die vroue vind ʼn soort kameraadskap tydens die klasse. “Die vroue geniet die klasse. Baie van hulle was slagoffers van geweld, soos verkragting, en kan hulle daarom met ander se situasies vereenselwig. Hulle voel veilig om hul stories te deel en dit beteken vir hulle baie dat hulle ander vroue kan waarsku.”

Dit is ook om hierdie rede dat mans nie by die werksessies toegelaat word nie. “Ons wil vir die vroue ʼn veilige hawe skep waar hulle nie bedreig hoef te voel deur enigiemand nie. Ons gee nie om om die klasse vir mans aan te bied nie, maar dit sal by ʼn ander geleentheid wees, en nie tydens een van hierdie werksessies nie.”

Die werksessies duur drie uur en begin met ʼn uur lange lesing waarin die fondasie vir die res van die klas gelê word. “Ek gesels met hulle oor wat alles belangrik is in ʼn aanvalsituasie. Ek herinner hulle ook daaraan dat jy as vrou die reg het om jou lewe te lei en dat dit nie jou skuld is as jy aangeval word nie.”

Daarna volg ʼn twee uur lange fisieke selfverdedigingsklas. “Ek leer die vroue ook die verskillende patrone van ʼn aanvaller en fokus op psigologiese aspekte. Ons leer hulle nie karate of gevegskuns nie, maar eerder tegnieke om hulself te verdedig. Die klasse fokus ook daarop om weer die vroue se selfvertroue op te bou,” sê Smit.

Enigiemand wat graag met Smit kontak wil maak oor Stay Safe se selfverdedigingswerksessies of wat enige ander inligting oor die organisasie wil bekom, kan die webwerf besoek of ʼn e-pos na [email protected] of [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Plan ·

Ek ook.
Miskien kan vervolg programme op MM gelaai
word, sodat vroue en hul dogters of vriendin
oefeninge self stap vir stap deurwerk en oefen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.