Jý kan ʼn erfeniskampioen wees

Die Voortrekkermonument in Pretoria. Foto: Carla van der Spuy

Historiese geboue en strukture, monumente en erfenisterreine, kulturele praktyke, kunswerke, argiewe, begraafplase en grafte – dit vorm alles deel van ons erfenisskatte. Dit is tasbare uitdrukkings van identiteit. Maar dit word bedreig, hetsy deur verval en vandalisme, gebrek aan befondsing of politiese afsydigheid.

Die WAT definieer “erfenis” as alle hoedanighede wat van ‘n vroeër geslag of uit ‘n vroeër tyd op die nageslag oorgedra is; dit wat deur een geslag of liggaam op ‘n ander oorgedra word.

Is dié erfenis vandag ʼn klip in die skoen van die nuwe Suid-Afrika, of kan daardie klippie tot ʼn diamant geslyp word om ʼn oplossing vir sommige van die land se uitdagings te bied?

Historiese geboue en ou terreine wêreldwyd lok toeriste en dra op dié manier onteenseglik tot ʼn land se ekonomie by. Dink maar aan Rome, Egipte, selfs plaaslike monumente soos die Kasteel in Kaapstad en die Voortrekkermonument in Pretoria.

Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) is in 1999 in die lewe geroep om die ou Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede te vervang en aan terreine of geboue erfenisstatus te gee.

Maar Jacques Stoltz, voorsitter van die Heritage Association of South Africa (die ou Simon van der Stel-stigting) glo dat erfenisbewaring ook ʼn belangrike rol in ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling kan speel.

“Die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne moedig gemeenskappe aan om hul nalatenskap te koester en vir die volgende generasies te bewaar. Dit verklaar dat alle erfenis uniek, kosbaar en onvervangbaar is. Dit sê dat erfenis in staat is om die nasie te bou en ons nasionale karakter te vorm. Die inhoud van hierdie wet kan beslis tot samehorigheid en vooruitgang in Suid-Afrika lei, maar dan moet die regering dit implementeer en toepas, wat nie tans gebeur nie.”

Die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument. Foto: Carla van der Spuy

Die skakels in die bewaringsketting

Terwyl die regering se erfenisplanne goed lyk op papier en daar welaf individue en privaat maatskappye is wat sekere bewaringsprojekte befonds, is die gemeenskap se proaktiewe betrokkenheid die belangrikste skakel in die bewaringsketting.

“ ʼn Dorp se inwoners is deurslaggewend wanneer dit by erfenisbewaring kom,” glo Hennie Taljaard van Ceres se munisipaliteit. Hy het noue bande met die Boland se erfenisorganisasies om die goue middeweg tussen die ideale ingenieursoplossings en erfenisbewaring te vind wanneer dit by stadsbeplanning kom.

“Om ʼn passie vir jou plek se geskiedenis te hê, is die belangrikste. Kwalifikasies en titels kom sekondêr,” sê hy.

Stoltz meen die hoofbestanddeel in ʼn goeie erfenisresep is ʼn plaaslike erfeniskampioen. Dit kan ʼn organisasie of selfs ʼn individu wees wat nou saam met die plaaslike gemeenskap werk om vennootskappe tussen die openbare sektor, die privaat sektor, die media en die gemeenskap te bou.

Nog drie bestanddele sorg in Stoltz se ervaring vir ʼn suksesvolle bewaringsresep: “Eerstens is dit belangrik dat die gemeenskap bewus is van hul eie erfenis. Daarom moet daar ʼn volledige inventaris van elke dorp se erfenisskatte saamgestel word. Tweedens moet die navorsing wat vir die inventaris gedoen is, aan die munisipaliteit beskikbaar gestel word sodat dit deel van die stadsbeplanning kan vorm. Derdens is dit belangrik dat die gemeenskap hul oë oop en ore gespits moet hou om owerhede op hul tone te hou en te sorg dat daar by die wetgewing gehou word.”

Jenna Lavin, direkteur by die konsultasiemaatskappy CTS Heritage, moedig gemeenskappe ook aan om moeite met ʼn behoorlike inventaris te doen. “Op dié manier doen jy proaktiewe bewaring, eerder as om knaend reaktief op te tree. Stellenbosch het onlangs ʼn omvattende, elektroniese inventaris voltooi wat as model vir die res van die land kan dien.”

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Erfenisstigting, sê bewusmaking en opvoeding speel ʼn baie belangrike rol in erfenisbewaring.

“Eers as mens die geskiedenis verstaan word sekere terreine, gebeure en mense belangrik en kan bewaring makliker plaasvind.”

Die Erfenisstigting het met ʼn landwye erfenisbewaringsnetwerk begin, waarvolgens hulle plaaslike vrywillige komitees met opleiding en kundigheid bemagtig om ʼn verskil in erfenisbewaring te maak. Dié komitees is ʼn vars briesie in plaaslike erfenisbewaring, omdat dit mense is wat dit regtig wíl doen.

“Die wil is uiters belangrik, want waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg!”

Tulbagh se hoofstraat met die Winterhoek-berge in die agtergrond Foto: Andres de Wet, Wikimedia Commons

Nuwe verwikkelinge te midde van verval

Hoewel talle erfenisorganisasies hulle dikwels in burokratiese mure vasloop, blus dit nie hul entoesiasme nie. Bewaringsinisiatiewe word onverpoosd van stapel gestuur in stede soos Johannesburg en dorpe soos Tulbagh, terwyl toere, navorsing en opknappingsprojekte met ywer deur vrywilligers aangepak word.

Buiten die bestendige vloei van kleiner bewaringsstroompies, wag daar ook ʼn paar verfrissende reënbuie om die erfenispoel te voed. Middelburg in Mpumalanga doen baanbrekerswerk met die plan om in 2020 ’n museum vir die gemeenskapspers oop te maak. Die museum gaan in die geskiedkundige Frewin-gebou, waar die sogenaamde Vader van die Gemeenskapspers, Oscar Henry Frewin, gewerk het, huisves. Tobie van den Bergh dryf die inisiatief en vertel dat OH Frewin Drukkers, wat kort ná die Anglo-Boereoorlog gestig is, steeds op Middelburg bestaan.

“Omdat koerante uit drukkerye ontstaan het, sal die beoogde museum bestaan uit die geskiedenis van die drukkersbedryf met verskeie ou drukkersmasjiene en toerusting wat vroeër jare gebruik is. Dit sal ’n werkende museum wees, met ’n ou drukkersmasjien wat gerestoureer is om aan besoekers ’n aandenking te druk om huis toe te neem,” sê Van den Bergh.

Die Vrystaat het ook die vooruitsig van ʼn nuwe museum. Dít is die droom van Twin Mosia, ‘n boorling van Petrus Steyn. Vir die afgelope vyf jaar reeds beywer Mosia hom daarvoor om ʼn ou stasiegebou op die dorp in ʼn museum en toeristesentrum te omskep.

“Dit was tot dusver ʼn gesukkel om ʼn ooreenkoms met Transnet aan te gaan, maar ek glo dat my droom met genoeg passie en geduld bewaarheid sal word.”

Die beoogde museum gaan die omgewing se geskiedenis vertel, met temas soos die Steentydperk, die Basoeto’s, die Anglo-Boereoorlog en die rol wat die spoorweg gespeel het.

“Landbou is ʼn belangrike aktiwiteit in Petrus Steyn se omgewing, dus sal dit ook in die museum weerspieël word. Verder hoop ons om ʼn kunsgalery en boekwinkel by die museum oop te maak.”

Befondsing is dikwels ʼn struikelblok vir dié soort projekte, maar Mosia het reeds ʼn paar maatskappye wat hom ondersteun, soos die VBK.

“Die regering praat baie van hulp, maar gaan nie oor tot aksie nie. As ek êrens wil kom, maak ek liewer op die gemeenskap staat.”

Mosia hoop om erfenis en geskiedenis te gebruik om versoening en nasiebou te bewerkstellig.

“Ons behoort trots te wees op ons land, sy mense en ons erfenis. Dit is jammer dat politici erfenisbewaring so moeilik maak, maar ek is positief dat ons op die regte pad is.

“Dalk sien ons, wat nou ons moue vir erfenisbewaring oprol, nie die groot suksesse nie, maar ek vertrou dat my kinders en hul maatjies dit sal beleef.”

  • Vir meer inligting oor die Erfenisstigting se landwye komitees en hoe om betrokke te raak, kontak Riana Mulder by
  • Vir inligting oor die OH Frewin-museum op Middelburg, kontak Tobie van den Bergh by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.