Kaapse brouery maak ‘bier’ vir jou én jou viervoetige vriend

Die Dorshond en Ipalot-hondebiere is nou by The Kennel Brewery beskikbaar. (Foto: Verskaf)

Die Dorshond- en Ipalot-hondebiere is nou by The Kennel Brewery beskikbaar. (Foto: Verskaf)

Toe die Kaapse bierbrouer Paul Freysen ná ʼn stappie met sy geliefde hond, Gibson, ʼn yskoue bier vir homself knak, het hy die hond só jammer gekry dat hy ʼn vervelige bak water moet drink, dat hy net daar en dan besluit het om ondersoek in te stel oor die moontlikheid om vir sy beste maat ook ʼn bier te brou.

Freysen, eienaar en bierbrouer van The Kennel Brewery in die Wes-Kaap, vertel aan Maroela Media só het sy idee vir die hondebiere ontstaan. Hy het vinnig aan die werk gespring om dié biere, wat heeltemal veilig is vir honde, te brou.

Die Dorshond- en Ipalot-hondebiere is nou beskikbaar in twee geure, hoender of biefstuk. Die biere is niealkoholies, sonder gas en bevat geen hop of kunsmatige suiker nie.

“Dit is basies ʼn aftreksel wat veilig is om oor hulle pille gegooi of net so gedrink te word. Jy kan selfs van die ‘bier’ wat oorbly in jou eie potjiekos gebruik,” verduidelik Freysen.

The Kennel Brewery se brouery, wat in 2017 op die been gebring is, is in Durbanville geleë, maar bierliefhebbers kan die boetiekbiere wat daar gebrou word oor naweke by die taphuis op die perseel van die Mountain Shadows-gastehuis in die Paarl saam met tradisionele Duitse kos geniet.

Al die boetiekbiere het ook name wat sinspeel op honderasse soos Porter Collie, Maltyeast Poodle, Beernard, Alesatian en Lagerdor.

Jy kan nou saam met jou viervoetige vriend 'n 'bier' geniet. (Foto: Verskaf)

Jy kan nou saam met jou viervoetige vriend ‘n ‘bier’ geniet. (Foto: Verskaf)

“Ek wou graag iets unieks doen wat steeds tydloos sal wees en het een aand laat op die idee van die hondename vir die biere afgekom. Ek het op die stoep by my ouers se huis gesit, na hulle skaaphond (Border collie) gekyk en die naam vir die Porter Collie-bier het by my opgekom, want Porter is ʼn styl van bier. Vandaar het die naam vir die brouery natuurlik gekom. Die meeste mense is baie lief vir honde en diere en daarom het ek gedink dit sal goed werk,” vertel Freysen.

Hy voeg by dat hy opgewonde is om die hondebiere tot sy boetiekbierversameling toe te voeg. “Mense stel baie belang in die biere en die mark vir diereprodukte is groot. Honde is vir baie mense ʼn familielid en mense is bereid om uit te haal en te wys vir hulle kinders.”

Die boetiekbiere is by die taphuis in die Paarl beskikbaar, sowel as by uitgesoekte winkels in die Wes-Kaap. Die hondebiere sal ook binnekort in winkels beskikbaar wees.

Volgens Freysen beplan hulle ook om ʼn reeks hondekoekies genaamd Good Boy later vanjaar bekend te stel. “Ons gaan die afvalgraan van die biere gebruik om dié koekies te vervaardig.”

Die boetiekbiere kos R25 vir 280 ml en R40 vir 500 ml. Die hondebiere kos R32 elk.

Meer inligting oor die brouery of die biere is beskikbaar by Freysen, [email protected]. Besoek ook die brouery se Facebook-blad of Instagram-profiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michelle ·

Geld mors diere het nie hierdie soort verrassing nodig nie. Gee jou diere water die regte gebalanseerde kos baie aandag en liefde.

Michelle ·

Met dagga wat ook nou vrylik beskikbaar is wil ek nie more met ‘n skok hoor wat is daar uitgehaal en wat is daarvan gemaak vir die vier voetige diertjies nie, as jy van alkohol hou gebruik dit maar los weerlose diere wat nie kan praat nie uit dit uit. Diere is jou beste vriend hul het liefde en die beste versorging nodig dis die enigste lewende diertjie wat altyd daar is vir jou en wat nooit veel vra nie. Die biere vir diere is nie kostelik nie dis ‘n skande.

GM ·

Michelle, het jy gelees dat die hondebiere nie-alkoholies en sonder gas is? Dit bevat ook geen hops of kunsmatige suikers nie.
Dis nie asof die goed in die hond se keel afgegooi word nie, die dier het ‘n keuse of hy/sy dit gaan drink of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.