Kaapse koffiewinkel om dowes te ondersteun

Helen Zille tydens die opening van i love coffee (Foto: African News Agency)

Helen Zille tydens die opening van i love coffee (Foto: African News Agency)

Die Moederstad het Dinsdag die deure van nóg ʼn koffiewinkel geopen, wat dié keer wil sorg vir werkskepping vir dowes.

Dit volg nadat die restaurant Brownies & Downies in Februarie vanjaar sy deure vir werknemers met Downsindroom oopgemaak het om hulle op te lei in die restaurant- en gasvryheidsbedryf.

Die nuwe koffiewinkel, i love coffee, is in die X Body Fitness-gimnasium in Claremont,  Kaapstad, geleë. Die stigter Gary Hopkins en mede-eienaar Lesego Modutle, het by die opening van die koffiewinkel gesê die idee agter die winkel het ontstaan ná ʼn gesprek met die Wes-Kaapse provinsiale direkteur van Deaf SA, Jabaar Mohamed.

Modutle het self die toespraak by die opening, wat bygewoon is deur verskeie persone met gehoorgestremdhede, getolk.

Volgens Hopkins het Mohammed hom vertel só ʼn koffiewinkel kan help met werkskepping vir dowe mense, wat in die reeds swak ekonomiese toestand sukkel om werk te kry.

Twee van die dowe werkers by i love coffee (Foto: African News Agency)

Twee van die dowe werkers by i love coffee (Foto: African News Agency)

Die twee eienaars het reeds drie dowe baristas, Kaye-Lynne Goddard, Shanlee Arendse en Thembelihle Quzu, opgelei en aangestel.

Hy het gesê die dowe gemeenskap was betrokke by elke aspek van die winkel se oprigting en opening. Die strategie en ontwikkeling is deur dowes gedoen, sommige van die boumateriaal, soos die swart bakstene in die winkel, is geverf en verskaf deur dowes en selfs die eetgoed is deur dowe sjefs- en sake-eienaars verskaf.

Hopkins het gesê i love coffee gaan deurgaans die gehoorgestremde gemeenskap betrokke hou.

Die opening is ook bygewoon deur Helen Zille, die Wes-Kaapse premier. Zille, wie se sussie doof is, het gesê sy is spyt dat sy nie voorheen gebaretaal geleer het nie. “Dit is ʼn voorreg om hier te wees. Niemand is vandag hier uit simpatie of medelye nie. Ons is hier om entrepreneurskap en ʼn goeie idee vir werkskepping te vier,” het sy gesê.

Zille het voorgestel die dowe gemeenskap ontmoet haar een keer per maand by die koffiewinkel om van aangesig tot aangesig te praat oor kwessies wat die gemeenskap raak.

i love coffee beplan ook die verdere indiensneming van persone met gehoorgestremdhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.