Kaapse man wil vir haweloses ʼn stem gee

Danny Diliberto van Ladles of Love poog om R48 000 vir sy niewinsgewende sopkombuis in te samel. (Foto: Verskaf)

Danny Diliberto van Ladles of Love poog om R48 000 vir sy niewinsgewende sopkombuis in te samel. (Foto: Verskaf)

Danny Diliberto (49), stigter van die niewinsgewende sopkombuis Ladles of Love, het onderneem om vir 48 uur soos ʼn hawelose persoon te leef om te ervaar hoe dit is om te leef soos die meer as 7 000 hawelose individue in Kaapstad.

Diliberto sal sonder geld of bankkaarte, ʼn selfoon of enige ander hulpbronne op 29 en 30 November op straat woon.

“Ek is passievol oor die land en sy mense,” het Diliberto luidens ʼn mediaverklaring deur BackaBuddy gesê. “Maar daar is ʼn gedeelte van ons samelewing wat oor die hoof gesien word en ek wil dit graag verander. Ek hoop om slegs ʼn blik in die lewe van dié mense te wys en hoe die lewe werklik is vir mense wat niks het nie, sodat ons dit beter kan verstaan.”

Diliberto beplan om sy ervarings met ʼn GoPro-kamera vas te vang, om sodoende later ʼn dokumentêr te kan maak oor die uitdagings wat dié gemarginaliseerde mense daagliks beleef.

“Gedurende my tyd op die straat, sal ek ʼn kamera aan my bors dra om my ervaringe op te neem en sal ek ook onderhoude voer met van die mense met wie ek in aanraking kom. Ek sal skuilings, sopkombuise en rehabilitasiesentrums besoek en wys hoe daardie instansies werk. Ek is nie seker waar ek sal kan was of ʼn badkamer kan gebruik nie, maar dit is deel van die groter prentjie wat ek wil verstaan,” het Diliberto gesê.

Diliberto hoop om R48 000 vir sy sopkombuis in te samel met dié eksperiment. Ladles of Love bedien tans sowat 2 000 etes aan minderbevoorregte individue by skole en in die gemeenskap.

Haweloses word gevoer deur Ladles of Love. (Foto: Verskaf)

Haweloses word gevoer deur Ladles of Love. (Foto: Verskaf)

“Ek hoop dat mense deur dié inisiatief meer deernis met haweloses sal hê en ʼn beter begrip sal hê vir hulle uitdagings en nie net bloot vir hulle sê hulle moet ʼn werk gaan kry nie,” het Diliberto bygevoeg.

“Ek glo dit sal almal meer verdraagsaam maak teenoor haweloses. Ek wil graag vir haweloses ʼn stem gee en hulle stories vertel. Ons kan nie langer van die owerhede verwag om eiehandig die probleem op te los nie. Ons moet proaktief wees in ons benadering tot die situasie en dit probeer verbeter vir almal se onthalwe, die wat haweloos is en selfs die wat nie is nie.”

Diegene wat graag wil bydra tot Diliberto se inisiatief, kan sy profiel besoek op die skarefinansieringswebwerf BackaBuddy. Tot dusver kon hy daarin slaag om R27 000 in te samel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mrs.B ·

2 dae is nie genoeg nie. Leef soos die straat mense vir ‘n maand, dan eers kan jy kommentaar lewer. Ek weet dit is vir goeie doel maar geen mens kan praat na net 2 dae nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.