Kaapse meisieskool brei vir liefdadigheid

Die meisies van die Rhenish Girls’ High School in Stellenbosch in die Wes-Kaap brei al vir die afgelope 23 jaar elke jaar blokkies vir komberse as deel van ʼn jaarlikse gemeenskapsliefdadigheidsprojek, en vanjaar is geen uitsondering nie.

Sharon Hershaw, kommunikasiebeampte van dié skool wat reeds in 1860 as ʼn privaatskool vir Duitse sendelinge in Suid-Afrika se dogters gestig is, vertel aan Maroela Media een van die skool se waardes is deernis en dat dít die waarde is wat geheg word aan die skool se tradisionele en jaarlikse Blanket Assembly-projek.

“Die projek skop gewoonlik in April af en strek tot Augustus. Die projek is in 1995 deur Regina van Zyl, ʼn wetenskaponderwyseres van die skool, van stapel gestuur,” vertel Hershaw.

“Sy het ʼn behoefte in die gemeenskap raakgesien wat sy geglo het maklik deur vrywillige Rhenishers opgelos kon word. Die projek word sedert sy aanvang wyd en syd deur die leerders van die skool, hul onderwysers en familielede ondersteun.”

Die leerders van die skool brei blokkies tydens die eksamen. (Foto: Facebook)

Die leerders van die skool brei blokkies tydens die eksamen. (Foto: Facebook)

Volgens Hershaw neem al die meisies deel aan die projek en is daar strawwe kompetisie tussen die klasse oor wie die meeste blokkies kan brei. Elke blokkie is 15 x 15 cm groot en word aanmekaar vasgewerk om komberse te vorm. Elke kombers bestaan uit 63 blokkies.

“Soms is die blokkies maar krom en skeef,” skerts Hershaw, “maar almal neem deel en sodra die blokkies ingesamel is, begin die harde werk om die komberse aanmekaar te sit.”

Beth Smart, ʼn wiskundeonderwyseres en voormalige hoofmeisie van dié skool, is een van die projek se mees passievolle ondersteuners. “Dit is die deelname aan ʼn projek soos die Blanket Assembly wat van ons ʼn hegte familie maak, aangesien families gestig word uit gedeelde ondervindings. Al die Rhenishers kan in die gange en op die stoepe van die skool gevind word waar hulle tydens pouses en na eksamens ʼn blaaskans vat deur te sit en blokkies brei.”

Die leerders van die skool brei blokkies tydens die eksamen. (Foto: Facebook)

Die leerders van die skool brei blokkies tydens die eksamen. (Foto: Facebook)

Smart sê sy herinner ook gereeld die meisies daaraan dat hulle geseënd is om die breinaalde in die hand te hê en nie aan die ontvangkant van die komberse te staan nie. “Dit is ʼn baie geliefde projek van die Rhenish-gemeenskap.”

Hershaw voeg by dat die graad 8-leerders skugter is vir die gebreiery totdat hulle die ouer meisies se deelname raaksien. Die skool bied ook nie breilesse as deel van ʼn vak aan nie, maar word die leerders deur Smart of hul registeronderwyseresse touwys gemaak met die basiese breitegnieke.

“Dit sou maklik wees om net komberse in grootmaat aan te koop en te skenk, maar die komberse wat geskep word deur die brei van die blokkies deur die Rhenish-familie kom uit die hart en daar is ʼn deel van elke Rhenisher in die komberse wat verligting bring vir mense in nood.”

Die leerders van die skool brei blokkies tydens die eksamen. (Foto: Facebook)

Die leerders van die skool brei blokkies tydens die eksamen. (Foto: Facebook)

Volgens Hershaw verskaf die skool nie breinaalde of wol aan die leerders nie. “Ons help hulle om dit te bekom indien hulle dit nie kan kry nie. Beth sal grootmaat wol en naalde aankoop en dit teen kosprys aan die meisies by die skool verkoop.”

Elke jaar kies die betrokke onderwyseres wat aan die stuur staan van die projek ʼn liefdadigheidsorganisasie wat baat kan vind uit die komberse, soos ouetehuise, skuilings en kleuterskole. Die aantal komberse wat die skool jaarliks saamflans verskil van jaar tot jaar, maar Hershaw sê daar is nooit minder as 220 komberse nie. “Die blokkies word deur vrywilligers of deur sommige van die leerders se ma’s en ouma’s aanmekaar vasgewerk om die komberse te maak.​”

“Die meisies leer soveel meer as net om te brei,” voeg Hershaw by. “Hulle ontwikkel vriendskappe terwyl die blokkies op die koue skoolstoepe gebrei word. Hulle leer ook hoe om ander se behoeftes voor hul eie te plaas én leer ken die eenvoudige vreugde van gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaycee ·

Hierdie is ‘n ware riem-onder-die-hart-storie. Dankie aan hierdie mense.

B-man ·

As dit ‘n Afrikaanse skool was sou hulle seker gebrrei het ook! Ek kan sien hoe mooi brei hulle vir liefdadigheid… veral in laaste foto.

CAROL ·

Hahaha ek sien ook. Kan seker nie brei nie – dalk tolletjie brei

Marietjie ·

B-man het dit ook gesien. Maar dit is wonderlik dat die meisies so brei.
Dis lekker en hulle raak sommer van stress ontslae ook

Amelia ·

Hahahaaaa en almal let mooi op in die klas.. My gedagte was net, ek is mos gewoond aan KRY, waarom sal ek GEE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.