Kaapse onderwysers bevorder Afrikaans

Onderwysers en oudleerlinge aan die Hoërskool Jan van Riebeeck is Woensdag vereer. Van links is: Ella van Rensburg (Afrikaanse onderwyseres), Le Roux Schoeman (oudleerling, 1996), Maritha Strydom (Afrikaans onderwyseres en FAK-toekenning vir 31 jaar as Afrikaanse onderwyser), Elsabé Daneel (oudleerling, 1974), Sandra Kotze (aktrise en eggenote van Cobus Rossouw maar nie oudleerling nie), Marko van der Colff (oudleerling, 1964), Cobus Rossouw (oudleerling, 1959, Pieter Rademeyer (skoolhoof en FAK-toekenning vir 18 jaar diens as Afrikaanse onderwyser) en Sanet Taljaard (Afrikaanse onderwyseres). (Foto: Verskaf)

Drie onderwysers van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad is Woensdagaand vereer vir hul toegewyde diens in die onderwys en om Afrikaans as vak en taal te bevorder.

Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaap, sê Roosmaryn Schwartz en Marita Strydom, en die nuwe skoolhoof, Pieter Rademeyer, is ook vereer vir “die groot bydrae wat hulle lewer om by hul leerders ’n passie vir Afrikaans te ontwikkel”.

Rademeyer het in Maart verlede jaar as hoof by dié hoërskool aangesluit. Hy is die dryfkrag wat die Afrikaansdepartement by die skool verlede jaar opdrag gegee het om ’n Afrikaansweek te hou wat nou ook ’n jaarlikse instelling by die skool sal word.

Vanjaar se Afrikaansweek het op 1 Maart afgeskop en elke oggend het ’n bekende spreker opgetree wat met die leerders oor ’n aspek van Afrikaans praat. Daar is elke aand ook ’n geleentheid in die skoolsaal aangebied ter viering van die taal.

“So ’n Afrikaansweek spreek boekdele van onderwysers wat erns maak met taalonderrig en in hierdie geval, ons geliefde moedertaal, Afrikaans. Die FAK wil graag aan die drie onderwysers dankie sê vir die bydrae wat julle tot Afrikaans in jul beroep maak.

“Rademeyer, nou skoolhoof, is reeds 18 jaar in die onderwys as Afrikaansonderwyser, terwyl Schwartz al 26 jaar ʼn Afrikaansonderwyser is. Sy is die afgelope twee jaar deel van Hoërskool Jan van Riebeeck se personeel en staan aan die stuur van die Afrikaansweek. Strydom is ook 31 jaar lank ’n Afrikaansonderwyser en gee tans vir gr. 9- en 10-leerders skool,” het Smith gesê.

Strydom was skoon aangedaan oor die toekenning en Rademeyer was ook heeltemal verras.

Smith vertel dat Strydom op haar vraag: “Hoekom Afrikaans?” geantwoord het dat “dit vir haar ’n passie is wat sy graag aan haar leerders wil oordra”.

Tydens Woensdagaand se prestige-kaas-en-wyn-onthaal is vier oudleerders, Marko van der Colff, Elsabé Daneel, Cobus Rossouw en Le Roux Schoeman, ook vereer vir hul besondere bydrae tot Afrikaans.

Van der Colff, ’n akteur bekend vir televisiereekse soos Arende, Vallei van Sluiers en Die Byl, het tydens die ontvangs van sy prys ’n sterk Afrikaansdepartement op universiteit onder leiding van prof. Merwe Scholtz en ’n wêreldklas-dramaskool as redes vir sy sukses uitgesonder.

Schoeman, matrikulant aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in 1996, was in sy skooljare redakteur van die skoolkoerant, Onze Jan. Vir hom was die ervaring wat hy hier opgedoen het en die skool se fotografieklub die twee aspekte wat hom op skool reeds gehelp voorberei het vir ’n loopbaan as joernalis. Schoeman is vandag die redakteur van die Kerkbode.

Daneel is vandag ’n bekende aktrise en kundige op die gebied van kommunikasiekunde. Sy het haar onderwysers bedank en onthou van haar skooljare dat daar altyd by haar ’n behoefte was om toneel te speel. Dit was die bekende aktrise Babs Laker, wat bokant die skool gewoon het, wat haar by ’n dramaskool ingekry het.

Die veteraan-akteur Rossouw, ’n matrikulant van dié skool in 1959, is staande toegejuig.

“Toe hy by die kateder staan, het hy gesê dat hy nou staan waar Anna Neethling-Pohl gestaan het toe sy hulle vertel het hoe om Macbeth te speel. Hy het skrywers, digters en dramaturge bedank wat dit vir akteurs moontlik maak om toneel te speel, vertalers wat dit moontlik gemaak het om Shakespeare in Afrikaans te kon speel en mense soos die Hanekoms wat 100 jaar gelede die pad oopgemaak het vir Afrikaanse toneel,” vertel Smith.

Die FAK het die ontwerp van die oudleerders en onderwysers se sertifikate gedoen en geborg.

Die sangeres Hanna de Wet se besondere vertolking van Afrikaanse liedjies soos “Kring om die maan”, “Beautiful in Beaufort-Wes”, “Lisa se klavier” en van haar eie mooi komposisies met klawerbord- en vioolbegeleiding het luistergenot aan ’n baie mooi geleentheid verleen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Vreemd dat Johan Stemmet (Noot vir Noot) nie vereer is nie. Hy was mos ook daar op skool. Ek sien Laurika Rauch, Randall Wicomb en Charl Pauw was ook daar op skool.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.