Kaapse ouma (80) en haar Tazz op pad terug van Londen

Julia Albu (Foto: Facebook)

Die 80-jarige Kaapstadse ouma wat die lang pad tussen die Kaap en Kaïro voorheen in haar 20 jaar oue Toyota Tazz aangepak het, het nou in dié einste motortjie weer van die Kaap tot in Londen gery – en nou is sy reeds weer op pad terug huis toe.

Dit was die beste ervaring ooit, het Julia Albu voorheen in ʼn onderhoud met Maroela Media vertel. Dáárom het sy besluit om weer met haar motortjie – wat sy Tracy gedoop het – die pad te vat; dié keer na Londen.

Sy beskou haarself as ʼn multimiljoenêr ná dié “lewensveranderende ervarings”, skryf Albu op Facebook. Net oor een ding is sy spyt: Sy het toe nié die geleentheid gekry om koningin Elizabeth II te ontmoet soos wat sy gehoop het nie.

Albu het dié reis weer aangepak om geld vir twee liefdadigheidsorganisasies in te samel: die organisasie Shine wat hom beywer vir die bewusmaking van geletterdheid en die Save the Rhino-organisasie wat renosterstropery wil bekamp.

“Dit was ongelooflik om Londen te verlaat,” skryf Albu op haar blog. “Ek is verheug oor en geëerd deur al die wonderlike goed wat mense die afgelope jaar aan my gesê het. Vir diegene wat ek nié kon sien nie – die koningin inkluis – ek sien julle volgende keer. My liefde aan julle almal; ek wens ek kon langer bly. Maar nou berei ons voor vir die lang pad.”

Albu het op sosiale media gesê haar Tracy is deur ʼn Toyota-handelaar in Engeland gediens en gereed om die pad na die suidpunt van Afrika aan te pak. Maar sy het glo reeds nuwe planne wat sy nie in dié stadium gaan verklap nie.

Tracy buite Buckingham-paleis in sentraal Londen (Foto: Facebook)

Oor Tracy se vermoë op dié lang en uitmergelende pad het Albu voorheen gesê: “As daar een ding is wat ek in die lewe geleer het, is dit dat jy ʼn geleentheid moet aangryp wanneer daar een is. My beste vriendin – natuurlik Tracy – gaan vir ʼn groot diens, dan gaan ons die pad vat.

“Mense vra my wat ek met Tracy gaan doen as ek nou wel in Londen gekuier het en of ek haar dalk by ʼn skrootwerf gaan los. Maar dis malligheid! Jy los mos nie jou beste vriendin alleen êrens in ʼn vreemde plek nie. Ons gaan saam terugry en dan kyk wat hou die toekoms in.”

Albu kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie. Hou Maroela Media dop vir ʼn onderhoud oor die ervarings tydens haar jongste reis.

Diegene wat met haar in verbinding wil tree, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Besoek ook haar amptelike blad, My African Conquest, op Facebook.

Albu tydens haar reis na Engeland (Foto: Facebook)

Tracy buite Buckingham-paleis in sentraal Londen (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

My ou lelike karretjie, ‘n 1993 Conquest 160i RS, (Blitsempie) sal dit ook doen. Het sy eienaar al naby R1miljoen aan karpaaiemente gespaar. Nog net 155 000 km gedoen. Net jammer dit word so moeilik om in en uit te klim…

pieter Burgess ·

Waar in die V.K, kan ons vir Julia Albu gaan groet.
Dit sal n groot vooreg wees, omdat ek al dieselfde reis per motorfiets voltooi het.
Dit sal ongelooflik wees om haar te sien.

Grotman ·

Julia, hoe lyk dit met n taxi besigheid? En n vraag, is daar nie see of n kanaal tussen Engeland en SA nie?

Michelle ·

Daar is ja. Sy het seker n ferry gebruik om daar oor te kom

EP ·

Groot inspirasie vir almal. Die feit dat sy 80 jaar oud is keer haar nie om haar lewe voluit te lewe nie.

Chris Ws ·

Toyota het nooit weer die verkope gehaal met passasiers voertuie soos met die Conquest nie.Waarom hulle daai wenresep weggegooi het weet net hulle.Nes hulle gedoen het met die eerste reeks Camry.Sy opvolgers is maar baie skaars op die paaie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.