Kaapse sjef skitter in Asië

Sjef Etienne Truter (Foto: Verskaf)

Etienne Truter (36) het groot geword in Kaapstad, maar deesdae bly hy in die Suid-Koreaanse stad van Busan, waar hy sy passie vir kosmaak uitleef as die uitvoerende sjef by Park Hyatt Bustan Hotel.

Truter het sy skoolloopbaan by Hoërskool Zwaanswyk in Tokai voltooi en daarna by die destydse The Culinary Academy in Paarl studeer om ʼn sjef te word.

Hy sê vir hom was daar nooit ʼn vraag oor wat hy gaan doen nie, kosmaak is in sy bloed. “Om ʼn sjef te wees, is in my familie se bloed. My pa en ouma was albei ook in die gasvryheidbedryf, en dít is waar dit alles begin het. Om na my pa en my ouma in die kombuis te kyk, het vir my baie selfvertroue gegee. Dit het my gemaklik gemaak, ek het gevoel of ek in die kombuis hoort. Ek wou van dag een af meer daaroor leer,” het hy aan Maroela Media gesê.

Truter het in 2004 besluit om Suid-Afrika te verlaat en in die buiteland gaan werk.

“Ek het vir myself gesê ek kan óf in Suid-Afrika bly en net ʼn kok wees, of ek kan Suid-Afrika verlaat en meer ondervinding opdoen sodat ek ʼn gesoute sjef met kennis kan word,” het hy gesê.

Hy het sedertdien al vir tien jaar in Doebai gewerk, asook in die Maldives, Hongkong, Singapoer, Japan en nou in Suid-Korea. Hy het ook al met bekende sjefs soos Jan-Hendrik van der Westhuizen, Massimo Boturra, Helen Darroze en Thomas Bühner skouers geskuur.

Een van Sjef Etienne Truter se disse (Foto: Verskaf)

Truter sê hy, sy vrou en twee dogters geniet dit om in Suid-Korea te bly. “Ons het vir drie jaar in Kyoto gebly en nou is ons gereed om ons nuwe reis in Busan te begin. Ons is mal daaroor om verskillende kosse te leer ken en om, soos ek werk, deur Asië te reis,” vertel hy.

“Ek is mal oor Asiatiese kosse. Dit is ʼn mengsel tussen bitter, sout, soet en gegiste kosse. Ek is mal oor die oordadige kreatiwiteit, die geure is intens en verskeie tegnieke word gebruik om geure eie aan spesifieke groentes uit te bring.”

Truter sê alhoewel hy lief is vir Asiatiese kosse, sal hy nie nee sê vir bobotie of ʼn lekker stuk volstruisbiltong nie.

Sy raad aan wat graag ʼn sjef wil word is om eers enige werkie in ʼn restaurant se kombuis te gaan doen voordat hulle ʼn beroep as ʼn sjef najaag.

“Gaan was die skottelgoed, wees ʼn kelner, maak kos, maak nie saak wat nie, maar kry net ʼn gevoel van wat dit verg om in die industrie te werk. Dit lyk maklik meer glansryk van buite as van binne. As jy dit doen om bekend te word, moet dit nie doen nie, want dit gaan tien teen een nie gebeur nie. Maar wanneer jy besef dit is vir jou lekker omdat dit jou gelukkig maak om vir mense kos te maak, en omdat dit jou lewe verryk, is dit die regte beroep vir jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.