Kaapse Spar roer harte met inperking-gebaar

Spar Palm Grove (Foto: Facebook)

Spar Palm Grove het Saterdag aangekondig dat hy twee afdelings in sy winkel sal sluit om klante sodoende aan te moedig om ander plaaslike sakeondernemings te ondersteun.

Dié winkel wat deel is van die Palm Grove-sentrum in Durbanville het die besluit met ʼn inskrywing op sy Facebook-blad bekend gemaak, en die inskrywing het sosialemediagebruikers se harte behoorlik aangeraak.

“Soos die son vanaand oor ons winkel sak, is ons oorweldig met dankbaarheid dat ons winkel se deure kan oopbly en ons personeel ʼn inkomste kan verdien terwyl ons dit doen waarvoor ons lief is. Ons wil egter ons buurwinkels salueer en met Werkersdag dink aan die mense wat die afgelope paar weke nie meer ‘werkers’ kon wees of ʼn inkomste kon verdien nie.”

Spar Palm Grove het in die lig van dié gebeure besluit om hul skryfbehoefterakke te sluit en vrieskaste met bevrore hamburger-produkte leeg te maak om mense aan te moedig om ook ander sakeondernemings in die Palm Grove-sentrum te ondersteun.

“In plaas van by ons koop vra ons dat jy Hein en sy span by Pen Cafe Stationers en Werner by die RocoMama’s-span sal ondersteun.

“As eienaars van sakeondernemings moet ons nou, meer as tevore, mekaar ondersteun.”

Mense op sosiale media was gaande oor dié inisiatief en het dit sedertdien wyd versprei op verskeie platforms.

Een aanhanger wat kommentaar gelewer het skryf dat dié Spar ʼn goeie voorbeeld stel vir ander winkels om mekaar te ondersteun in moeilike tye.

“Ek het gehuil terwyl ek hierdie plasing gelees het,” skryf ʼn ander in die kommentaarveld. “Wat ʼn pragtige en hartroerende gebaar. Dankie vir julle mooi harte. Dit is as gevolg van mense soos julle dat ons saam hierdeur sal kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Hierdie is nou voorwaar ‘n voorbeeld om jou medemens ook in aanmerking te neem. Absoluut fantasties.

Sarah ·

Dit is n pragtige gedagte…. Maar ek sal dan eerder net nie koop wat ek wou koop nie, dis reeds n groot risiko om by een winkel in te gaan, maar om nou te moet by twee ingaan, is vir van ons wat bang is om die virus huis toe te neem vir ons kinders, net te veel.

Hopelik is daar ander mense wat wel skryfbehoeftes langsaan sal gaan kry.

Ronel ·

Ek hoop meer Spar winkels sal dit doen en dalk ander supermarkte ook. Dis ‘n baie edele gebaar.

Lizanda ·

”n Wonderlike ruimhartige gebaar – laat my dink ek wonder of die regeringe en sy sogenaaamde komitees iets hieruit kan leer – nee!!! dis te veel gevra.

Sandra ·

Spar Palm Grove, God sal julle net ryklik seen vir so ‘n onselfsugtige gebaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.