Kaapse vrou vertel oor ervaring met Covid-19

Karen Olckers. (Foto: Verskaf)

Karen Olckers, ʼn mediese kundige van Kaapstad wat onlangs positief getoets het vir die koronavirus, glo haar keuse om eerder op die herstelsyfers van Covid-19 te fokus het haar emosioneel deur die siekte gedra.

“Ek het besluit om te fokus op die groot persentasie gevalle in Suid-Afrika wat herstel en nié op die klein persentasie wat sterf nie. Ek wou deel wees van die groot persentasie. Ek het vasgehou aan my geloof en deurentyd gebid, maar om ʼn positiewe gesindheid te behou is nie altyd maklik nie,” vertel die ma van twee.

“ʼn Mens se psige speel ʼn baie groot rol. Die media vertel ons net van almal wat sterf aan Covid-19. En jy wonder of dit met jou gaan gebeur, want jy weet nie regtig nie. Jy skrik vir elke ding wat jou liggaam doen en is bekommerd of dinge môre beter of slegter gaan wees.”

Olckers (44) vertel haar man en twee dogters, onderskeidelik 13 en tien jaar oud, het haar aangemoedig om haar te laat toets vir die virus omdat sy erge griepsimptome gehad het.

“Die eerste dag het ek opgestaan met ʼn hees stem en ʼn krapperigheid in die keel. My nek en kop was seer en ek het ʼn hoesie gehad. Op dag twee en drie was dié simptome steeds daar en ek het ʼn benoudheid op my bors gevoel. Teen dag vier het ek kroniese hoofpyn gehad en wou net heeltyd in die bed bly,” sê sy.

Haar gesin is ook dadelik vir die virus getoets nadat sy reeds vier dae lank simptome getoon het, maar al drie het wonderbaarlik negatief getoets.

“Dan begin jy teruggaan in jou spore en jy besef jy het geen benul waar jy dit kon kry of wie die virus aan jou kon oordra nie. En dan begin jy ook skuldig voel as jy hoor hoe jou hartsmense rondom jou gaan vir toetse, want jy weet jy kon dit aan hulle oorgedra het. Dit is nie lekker nie. Al weet jy dit is nie jou skuld nie, het dit steeds ʼn uitwerking op jou psige en die alleenheid gee jou baie om oor te dink,” sê sy.

“Ek weet nie waar ek dit sou kon optel nie, want ek dra my masker en was my hande en alles wat in ons huis kom, word eers ontsmet. Dit wys jou net hoe uitgeslape die virus is,” sê sy.

Volgens Olckers is daar geen brosjures of inligtingstukke oor selfisolasie en hoe om besmetting in die huis te voorkom wanneer jy positief getoets het nie. Olckers het egter kennis oor infeksiebeheer en het geweet watter maatreëls om in haar huis toe te pas om die besmetting van haar gesin te beperk.

Sy vertel dat hulle ʼn ruim huis het waar sy haar met gemak kon afsonder met haar eie slaap- en badkamer. “Ek kon nie self kos maak in die kombuis nie, so die res van die gesin het vir my kos gemaak. Daar is ʼn tafeltjie waar hulle my kos vir my gelos het en ek het elke keer die breekware en eetgerei wat ek gebruik het met bleikmiddel gewas voordat ek dit weer op dieselfde tafeltjie gelos het.”

Volgens Olckers het sy en haar gesin nie angstig geraak oor haar diagnose nie, maar gee wel toe dat elke gesin dié gesondheidskrisis anders sal benader. “Hoewel sekere mense reageer het asof ek ʼn doodsvonnis gekry het, het ons gesin dit glad nie só hanteer nie.”

Hoewel sy nie so siek was dat sy nie na haarself kon omsien nie, het sy met tye behoorlik oes gevoel, sê sy. “My jongste erken dat sy my nog nooit so baie pille sien drink het nie. Panado, Disprin, ACC200, sinkaanvullings, vitamien C-aanvullings, antibiotika en Halls – so gereeld moontlik.”

Sy bieg dat sy tog soms menslike aanraking gemis het terwyl sy siek was, hoewel sy baie ondersteuning van familie en vriende gekry het. “Die siek mense in die hospitale moet baie swaar kry. Ons menslike kontak is dikwels die ding wat ons die sterkste maak, maar met Covid-19 is dit onmoontlik. My hart gaan uit aan die pasiënte wat alleen die virus in hospitale moet beveg.”

Olckers sê hoewel sy nie gereed is om strawwe oefening aan te pak nie, het sy teen die tiende dag beter begin voel en die virus so te sê heeltemal hokgeslaan.

“Die goeie nuus is dat my gesin my ook gemis het – hulle sê daar moet ʼn reël wees wat bepaal dat ʼn ma nie Covid-19 mag kry nie!”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pieterweskaap ·

Karen, die Hoër Hand, asook jou gesin, familie en vriende se ondersteuning , was onontbeerlik.

Dankie vir so ‘n positiewe verslag in hierdie tyd wat ons voortdurend met negatiewe statistiek bestook word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.