Kaapse waterkrisis: Veldtog op sosiale media maak wêreldwyd opslae

Water 4 CPT (Foto: Facebook)

Talita van der Heever, ʼn vrou van Oos-Londen, wou ook haar deel bydra ten opsigte van Kaapstad se waterkrisis en het om dié rede ʼn veldtog op sosiale media van stapel gestuur.

Water 4 CPT is ʼn projek wat deel is van Talita Cumi, die nieregeringsorganisasie wat sy op die been gebring het en wat op sosiale media gedryf word. Haar oogmerk met dié projek is om water van reg oor die land na Kaapstad te stuur.

Van der Heever, ʼn huweliksfotograaf van beroep, het dié projek begin nadat sy ʼn stemboodskap op WhatsApp uitgestuur het.

“Ek was op ʼn dag in my huis en moes vir my 18 maande oue dogtertjies formulemelk aanmaak. Ek het die nuus op my selfoon gelees terwyl ek gewag het vir die ketel om te kook. Dit is tóé dat ek die eerste keer van Kaapstad se ‘Dag Zero’ gehoor het,” het Van der Heever gesê.

“Ek het op daardie oomblik gedink aan die honderde duisende mammas wat nie kan borsvoed nie, wat heeltemal afhanklik van formulemelk is. My moederlike instink het net ingeskop. Ek het na die badkamer toe gegaan en ʼn stemboodskap opgeneem om mense aan te moedig om water te skenk en dit op WhatsApp uitgestuur na 300 van my kontakte toe.”

Binne ʼn paar uur het mense vir Van der Heever begin bel en gevra waar hulle die water kan kom aflewer.

Water 4 CPT (Foto: Facebook)

“Ek het gedink ons sal dalk so bietjie water Kaap toe kan stuur, maar teen die tweede dag was daar al só baie mense wat my gekontak het. Mense van ander stede en dele van die land ook,” het Van der Heever gesê.

Van der Heever het mense wat haar gekontak het gevra of hulle bereid sal wees om versamelingspunte te begin. Mense het ingestem en só die projek aan die gang gekry.

“Verskeie private vervoermaatskappye het betrokke geraak, en ook private boere wat boorgatwater kan verskaf. Die ding het eintlik homself aan die gang gesit. Dit wys net dat die Here op snaakse maniere werk.”

Van der Heever het gesê sy is dankbaar vir die terugvoer wat dié boodskap nou al tot gevolg gehad het. CNN en die BBC het intussen ook al oor Van der Heever se veldtog berig.

“So baie mense het hul harte en hul krane vir Kaapstad oopgemaak. Ek is oorweldig daaroor dat ek deel is hiervan. Dit wys net Suid-Afrikaners kán saamstaan as hulle in nood is. Dié saak is groter as politiek en groter as ras, en dán staan ons saam,” het sy gesê.

Van der Heever het gesê sy sal aanhou met die projek totdat daar weer genoeg water in Kaapstad is.

“Dit is iets baie na aan my hart. Ek sal vir altyd aanhou. Wanneer die Kaap uitgesorteer is, sal ons ook ander dele van die land help waar dit baie droog is,” het sy gesê.

Die eerste aflewering het verlede week plaasgevind toe 20 ton water na ouetehuise in Kaapstad geneem is. Van der Heever het gesê nog 30 ton gaan Woensdag by veiligheidshuise vir babas en dierehawens afgelewer word.

Van der Heever vra mense wat betrokke wil raak by die projek vir leë waterkanne.

“Ons het ʼn verskriklike tekort aan waterkanne, van vyf tot 25 liter kanne. Daar is boere wat bereid is om water te gee, maar ons kan nie water vervoer as ons nie kanne daarvoor het nie.”

Om ʼn versamelpunt op te spoor of om meer uit te vind oor die Water 4 CPT-projek, besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Piet Pompies ·

Puik werk, die regering skitter in hul afwesigheid. Ryk jou hnad uit om ander te help.

Haan ·

Daar bestaan watertenk lorries wat 20 tot 40 kiloliter water kan vervoer .
Dit is twee duisend tot vierduisend plastiekbottels wat nie op ashope of in die see gaan eindig nie. Ek verstaan die goeie bedoelings, maar die probleem word op n on-pragmatiese wyse aangepak

Lol ·

Korrek Haan. Almal se bedoelings is reg maar die indiwiduele pogings moet gekoordineer word wat ‘n groter en suksesvolle impak sal he. Ek hoop ook al die water wat versamel word word geklassifiseer vir gebruik aangesien water wat nie in korrekte toestande verpak word nie gesondheidsprobleme kan veroorsaak indien gedrink word.

Carol ·

Haan, nou toe, raak betrokke!
Hierdie dame het ongelooflike insig en ons in die Kaap is bitter dankbaar. Dis glad nie nou tyd vir nodelose rusbank-kommentaar nie.

Dark.O ·

@Haan, kan jy moontlik so voertuig/voertuie beskikbaar stel? Dan word die probleem pragmaties aangepak.

Adeltjie ·

Baie dankie, elke liter water maak ‘n verskil – ons Kapenaars waardeer dit opreg

Artimus ·

HAAN, So bly jy het n praktiese plan om water tenk lorries te reel vir hierdie wonderlikke projek. Baie baie dankie vir jou hulp. Almal in Suid Afrika is trots op jou!!?

Annakapat ·

Maroela, kan julle dalk die versamelpunte bekendmaak – ons wil graag bydra maar ek is nie op facebook nie?

Annakapat ·

Maroela, kan julle dalk die versamelpunte bekendmaak – ons wil graag bydrae maar ek is nie op facebook nie.

Jack ·

Dankie aan die wat hulp verleen! Dit word regtig waardeer!
Hierdie kon egter vermy gewees het. Kapenaars spandeer duisende rande net om water te spaar en hergebruik! Ons swembaddens is besig om leeg te raak. Krake en barste sal gebeur – dis net n kwessie van tyd. Daar is sekerlik n plastiek bedekking wat mens kan opsit maar dit kos n helse spul geld; ook kan mens water laat aflewer – dit is net so vrek duur.
Gaan die regering ons vergoed vir die skade gely onder hulle uiters swak beplanning en hulle onvermoë om vooruit te dink en n potensiële probleem te vermy!
Ons stort net 2 keer n week – tussenin “bad” ons Met baby wipes! Is dit die dank wat mens van jou regering kry omdat jy n kleinhuisie vol geld afstaan aan belasting?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.