Kaapstad se bewaringsgebiede, parke nou weer oop

Die Stad Kaapstad het pas al sy natuurreservate, bewaringsgebiede en parke vir besoekers geopen, wat wil stap en oefen. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media.)

Kapenaars word vandag af weer in die meeste van die Stad Kaapstad se natuurreservate, bewaringsgebiede en parke vir oefening in die ope lug toegelaat.

Volgens Dan Plato, uitvoerende burgemeester van Kaapstad, sal al die gebiede onder die bestuur van die Stad Kaapstad op die laatste teen Vrydag weer gereed wees om inwoners te ontvang.

“Ons is verheug om die groot aanvraag na toegang tot ons wonderlike natuurgebiede te sien en die stad is bly om mense terug in hierdie spesiale plekke te verwelkom. Ons vra al ʼn geruime tyd dat hierdie ruimtes, wat parke insluit, weer geopen moet word omdat dit maklik is om sosiale afstand daarin te handhaaf,” het Plato gesê.

Hy het bygevoeg die Stad Kaapstad weet dat inwoners sedert die instelling van die afsonderingtydperk op 27 Maart desperaat was om die stad se natuurreservate en ander natuurgebiede te besoek om daar te gaan stap of draf.

“Ons verwelkom inwoners nou terug in al hierdie gebiede maar vra besoekers om asseblief by die nodige gesondheid- en veiligheidsprotokolle vir Covid-19 te hou. Dra ʼn masker of lap wat jou neus en mond ten alle tye bedek en moenie in groepe vergader nie. Vermy ook enige sosiale kontak.

“Dit is belangrik dat ons almal die nodige voorsorgmaatreëls tref in hierdie tyd en verantwoordelikheid neem vir ons eie gesondheid en veiligheid,” het Marian Nieuwoudt, burgermeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, bygevoeg.

Volgens die Stad Kaapstad sal natuurreservate by hul normale openingstye hou en toegangsfooie word soos normaal, en waar van toepassing, gehef.

“Die gebiede is slegs oopgestel vir oefening en geen piekniek of braaigeriewe mag gebruik word nie. Alle waterpoele, strome of riviere binne die parke en bewaringsgebiede kan vir oefen- en ontspanningsdoeleindes gebruik word en beperkte ablusiegeriewe sal beskikbaar wees,” het Niewoudt bygevoeg.

Die Stad Kaapstad het bevestig dat hy by al die nodige voorkomingsmaatreëls sal hou om besoekers teen Covid-19 in die ruimtes te help beskerm.

“Besoekers sal egter ook hulle deel moet doen deur hulle hande te was voordat hulle hierdie terreine besoek en deur maskers te dra. As ons saamwerk kan ons die verspreiding van Covid-19 bekamp,” het Nieuwoudt gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre ·

Maar jy mag nie see toe nie! Daar’s nog meer spasie vir sosiale afstand hou. O ja – jy mag “surf”, moet net nie op die strand trap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.