Kaapstad skud vere reg vir grootste kunsteskou in Afrika

(Foto: Verskaf)

Die skone Kaap gaan dié naweek selfs nog meer aanskoulik wees met die room van Afrika se kunstenaars wat by die Investec Cape Town Art Fair sal saamtrek.

Hierdie kunsteskou is al meer as ʼn dekade lank ʼn hoogtepunt op Kaapstad se kunskalender en word vanjaar, van 16 tot 18 Februarie, vir die elfde keer aangebied.

Vanjaar se tema is Unboud (ongebonde) en die Kaapstadse internasionale konferensiesentrum is die hoofkwartier waar meer as 375 kunstenaars en ʼn 100 kunsgalerye hulle kunswerke sal uitstal.

Met ʼn toenemende internasionale deelname aan die skou, word dit ook gereken as ʼn belangrike forum waar kunstenaars en kunsliefhebbers die jongste tendense in die Afrika-kunsmark kan pyl en beter kan verstaan.

Laura Vincenti, direkteur van die kunsteskou, het haar ervaring en kundigheid as argitek ingespan om die uitleg van die skou te doen sodat temas en konsepte saam uitgestal word, eerder as net konvensionele uitstalhokkies in rye. Elke saamgestelde afdeling wat vir besoekers van belang is, sal dus in dieselfde ruimte wees vir gemaklike toegang.

Die kunsteskou bied 24 aktiwiteite aan, wat nie net kunsuitstallings insluit nie, maar ook oorgenoeg besprekings, toekenningsgeleenthede en toere wat besoekers die kans bied om Kaapstad se kuns en kultuur behoorlik te verken.

In ʼn samewerkingsooreenkoms tussen die kunsteskou en die Stad Kaapstad sal jong kunstenaars, wat deel is van die metro se opkomende kunstenaarsprogram, die geleentheid kry om hul werk by die skou uit te stal. So kry die kunstenaars ʼn kans om met kundiges in die bedryf skouers te skuur, die sakekant van die kunswêreld verder te verken en toegang tot hulpbronne om hul kunsloopbane in die bedryf te bevorder.

(Foto: Verskaf)

Daar sal ook onder meer ʼn groot openbare kunsinstallasie wees in die skilderagtige middestad van die Bo-Kaap, wat net weereens sal beklemtoon waarom die stad een van die mees aantreklike en interessantste bestemmings ter wêreld is.

Nog uitstallings by die kunsteskou sluit in:

Die MAIN-afdeling bestaan uit uitstalgalerye van reg oor die wêreld, baie van die uitstallers kom uit die res van die Afrika. Uitstallersgetalle het hierdie jaar toegeneem na die getalle voor die pandemie, wat beteken daar sal ʼn kunswerk vir elke smaak wees.

Die Tomorrows/ Today is ʼn saamgestelde afdeling wat eksponensieel gegroei het en uitgebrei het na twaalf uitstallers. Bekende Spaanse kurator vir hierdie afdeling, dr. Mariella Franzoni, bied ʼn platform vir opkomende en onderverteenwoordigde kunstenaars en tree op as ʼn voorspelling van kunstenaars se toekomstige relevante praktyke en idees. Die afdeling sal twaalf uitgesoekte solo-vertoningsprojekte bevat, met ʼn kontantprys wat gaan aan die kunstenaar met die hoogste gehalte aanbieding. Getiteld Inhabiting the Wild, verken die 2024-uitgawe die herverbeelde konsep van wildheid.

Die SOLO-afdeling word saamgestel deur die Kaapstadse skrywer, kritikus en kurator Sean O’Toole. Dit fokus op skilderkuns en is getiteld: Loopholes in the Walls of Darkness. Nieteenstaande verstommende vooruitgang in digitale kuns, bly skilderkuns, hoewel ʼn eensame praktyk, steeds die kunsvorm wat die pas aangee in galerye en museums, sowel as in die mark. Die tien duurste kunswerke wat wêreldwyd in 2022 verkoop is, was almal steeds skilderye gewees.

GENERATIONS is die kunsteskou se nuutste afdeling wat deur Natasha Becker van die VSA en die Suid-Afrikaanse kurator, Amogelang Maledu, saamgestel is. Die projek vier kunstenaars wat in verskillende stadiums in hul loopbane is en blaas gesprekke oor generasies tussen kunstenaars aan. Die projek is bedoel om kunstenaars na vore te bring wat die gebreke van die verlede aanspreek en ʼn toekoms rekonstrueer wat die talente en kreatiwiteit van alle generasies benut.

(Foto: Verskaf)

ʼn Uitgebreide ALT-afdeling keer vanjaar terug. Dié afdeling word gewy aan projekte wat die vele maniere weerspieël waarop die kunswêreld by omstandighede moet aanpas. Hier kan kunstenaars nie-tradisionele kunsprojekruimtes inspan om hul kuns uit te stal. Die afdeling nooi dialoog uit oor onkonvensionele, nie-tradisionele maniere van doen en dink, en beoog om weg te breek van die gewone kunsteskou-omgewing terwyl dit ook ʼn diversiteit van opkomende stemme lok.

EDITIONS is nog ʼn afdeling wat weer na die kunsteskou terugkeer en dit is hier waar afdrukke van verskeie kunstenaars, sowel as ruimtes vir kunstydskrifte, joernale en publikasies, en gespesialiseerde opvoedkundige instellings uitgestal word, wat ʼn venster aan die breër ekostelsel van kuns bied.

“Kaapstad is ʼn stad met kreatiwiteit en kultuur in oorvloed en dit is ons doelwit om ʼn platform te skep waar kunstenaars hulle werk kan uitstal.

“Ons vennootskap met Cape Town Art Fair verskaf nie net ontwikkelingsgeleenthede vir kunstenaars nie, maar verwelkom ook die hupstoot wat hierdie skou aan die plaaslike ekonomie verskaf,” het JP Smith, burgemeesterskomitee-lid vir veiligheid, gesê.

  • Die 11de Investec Cape Town Art Fair vind van 16 tot 18 Februarie plaas met 112 uitstallers, 375 kunstenaars van 54 verskillende nasionaliteite en kunswerke in 30 verskillende vorms. Die skou word van 11:00 tot 19:00 by die Kaapstadse internasionale konferensiesentrum aangebied. Vir meer inligting of om kaartjies te bespreek besoek www.investeccapetownartfair.co.za.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.