Kaapstad wink vir kankerbruid

Larami Meyer hoor sy gaan Kaapstad toe vir haar wittebrood. (Foto: Marlow du Plessis)

Larami Meyer, die 36-jarige terminale kankerlyer van Pretoria wat in Mei vanjaar verras is met ʼn droomtroue deur die Centurion Hospice, en haar man, Otto Meyer, is vroeër vandeesweek verras met ʼn wittebrood deur GROOTfm 90.5 se omgeeprojek, Jou Mense, My Mense.

Dié radioprogram het vliegtuigkaartjies na Kaapstad en kaartjies vir onder meer ʼn besoek aan Tafelberg aan die pasgetroude paartjie oorhandig.

Dié oorhandiging van die geskenk is tydens ʼn insetsel gedoen. Nie net Larami en Otto se trane het geloop nie, maar ook dié van almal wat by die opname betrokke was.

Annette Reed, uitvoerende hoof van Centurion Hospice, het ook ʼn koevert met kontant aan hulle oorhandig.

“Ek kan dit nie glo nie. My droom is bewaarheid,” het Larami gesê. Sy is in Desember verlede jaar met ʼn seldsame kankerkarnisoom gediagnoseer is.

“Ek was nog nooit in Kaapstad nie, maar ʼn besoek aan Tafelberg was nog altyd op my emmerskoplys. Om op Bloubergstrand te gaan stap, al is dit sukkelend, gaan die ervaring van ʼn leeftyd wees.”

Aangesien die paartjie se geldsake dit nie sou toelaat nie, sou hulle nie op ʼn wittebrood gegaan het nie. Hulle gaan egter nou, danksy die publiek, op 25 Junie vir vyf dae na Kaapstad reis. Die paartjie se etes, verblyf, vliegtuigkaartjies, uitstappies en sakgeld word ingesluit by die geskenk.

Van links (voor) Annette Reed, Larami en Otto Meyer. Agter van links: Yolanda Lemmer en Sonet Stofberg. (Foto: Marlow du Plessis)

Larami se paaie het in April vanjaar met dié van Centurion Hospice gekruis nadat sy navraag gedoen het oor dié hospice se binnepasiënte-eenheid.

“Ek het besef dat ek moontlik in ʼn hospice opgeneem sal moet word, en die Centurion Hospice is die beste in die land.”

Haar en Otto se liefdesverhaal, wat begin het toe sy maar dertien jaar oud was, het die Centurion Hospice-personeel só ontroer dat hulle binne nege dae ʼn troue vir die paartjie gereël het.

Sy het vroeër vertel sy en Otto (38) het as tieners aan die Kwaggasrand-skool in Pretoria-Wes op mekaar verlief geraak.

“Ek was dertien jaar oud toe Otto my gesoen het. Dit was ook my heel eerste soen – en nou moontlik ook my laaste soen,” het Larami gesê.

Sy het later na ʼn ander provinsie verhuis en hulle liefde moes oor gesteelde telefoonoomblikke en briewe gedy. Die lewe het egter sy verloop geneem en Larami is later getroud, alhoewel dié verhouding nie uitgewerk het nie, terwyl Otto enkellopend gebly het.

Sowat twee jaar gelede het hul liefde weer op Facebook begin blom. Kort nadat die tweetjies saam ingetrek het, het Larami siek geword.

Ná 18 operasies, waartydens haar baarmoeder en eierstokke verwyder is, kon die dokters eers verlede Desember vasgestel het dat sy kanker het.

Otto het haar kort na dié diagnose gevra om met hom te trou.

Otto en Larami Meyer voor die kansel. (Foto: Iolande Baker Photography)

Na dié twee se troue het skenkings van reg oor die land ingestroom om Larami se droom van ʼn wittebrood in Kaapstad te bewaarheid. GROOTfm 90.5 het ook betrokke geraak.

Sonet Stofberg, die gemeenskapsprojek-koördineerder van Jou Mense, My Mense, het gesê dis ʼn goedvoel-storie en dat Larami en Otto hulle geïnspireer het om weer in ware liefde te glo.

“Dit is ʼn mooi storie wat hulle kan vertel en daardie storie moet gedeel word.”

Nerina Smith, gastehuiseienaar van Smithland Guesthouse Apartments in Parow, het dadelik gratis verblyf aangebied.

“Ek het die fasiliteite en ek help graag mense. Larami en Otto se verhaal het my diep geraak.”

Nerina het ook aangebied om hulle op die lughawe te gaan haal en hulle op die uitstappies te vergesel. “Ek sien baie daarna uit om hulle te ontmoet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Baie dankie aan almal wat hierdie paartjie se droom help waar word. Dis so verblyend om te weet daar is nog omgee mense in ons land.

Niklaas ·

Dis lekker om te lees van sulke weldoeners en hul mooi gebare. Mag sy nog lank gespaar wees.

CHARMAINE ·

Dit is so lekker om van sulke omgee mense te lees. Dis lekker om te gee en te deel. Baie dankie aan almal wat dit vir hul moontlik maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.