Kakamas-leerders kraai koning op dramafees

Kakamas-leerders kraai koning op dramafees. (Foto: verskaf)

Hoërskool Martin Oosthuizen van Kakamas het vanjaar weer die toekenning vir beste tienertoneelproduksie by die Hoërskool Dramafees in Kaapstad losgeslaan.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat leerders van dié hoërskool as die beste op die fees aangewys is.

Die fees word jaarliks deur Kunstekaap en die Suidoosterfees aangebied. Agt skole het van 18 tot 20 Augustus aan die eindronde van die kompetisie deelgeneem.

Vanjaar is Hoërskool Martin Oosthuizen se Skaakmat die wenner, en verlede jaar het hul toneelstuk Neer daal die reën ook dié gesogte toekenning gewen. Skaakmat het ook die prys vir beste teks ontvang.

Die produksie sal volgende jaar ingesluit word in die Suidoosterfees se NATi Jeugteater-program.

Skole van Worcester het die beste akteur en beste aktrise op die fees opgelewer. Olwam Cona van Vusisizwe Sekondêre Skool en Jadha Abrahams van die Pionierskool vir Gesiggestremdes is onderskeidelik as beste akteur en beste aktrise aangewys. Dié skole het ook in ander kategorieë presteer: Vuyani Jantjies van Vusisizwe Sekondêr is as beste regisseur aangewys vir die produksie Survival of the Fittest, en die Pionierskool het die beoordelaarstoekening vir beste ensemble-spel vir Talentaand ontvang.

Ander skole en tienertoneelgroepe wat aan die Dramafees deelgeneem het, is Bernadino Heights van Scottsdene, Harry Gwala Sekondêre Skool en die Ikhwezi Teatergroep van Khayelitsha, Immaculata Hoërskool in Wynberg en Hoërskool Langa.

Marlene le Roux, Kunstekaap se uitvoerende hoof, het gesê sy is trots op die deelnemers se prestasies. Die Pionierskool vir Gesiggestremdes lê haar veral na aan die hart.

“Kunstekaap beywer hom om ’n tuiste te bied vir mense met gestremdhede. Nie net vir gehoorlede nie, maar ook vir deelnemers. Watter wonderlike ervaring om hierdie skool se produksie as deel van die fees te kon hê.”

Die Suidoosterfees-direksievoorsitter, prof. Brian Figaji, was beïndruk met die gehalte van inskrywings.

“Afgesien van die uiteenlopende temas wat gedek is, was die toneelspel van die boonste rakke. Ook die tegniese versorging van die stukke was puik,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.