Kakiebos: trots Afrikaans

screen-shot-2017-02-07-at-8-46-04-am

Welkom by die Klipkouers-potgooi. Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, gesels elke maand met ʼn ander Klipkouer-aanhouer-en-uithouer vir Maroela Media. Vandag se onderhoud is met Hardus Blignaut en in hierdie onderhoud vertel hy my meer van sy eksklusiewe handelsnaam, Kakiebos.  

Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself.

Ek het ʼn effens ander agtergrond want ek kom nie uit die tekstiel- en klerebedryf nie. Ek woon in Pretoria waar ek eintlik maar meeste van my hoërskool- en naskoollewe was. As kind het ons baie rondgetrek en ek was in sewe laerskole binne ses jaar. Ek moes dus maar baie vinnig leer maatjies maak en nuwe goedjies uitdink om my mee besig te hou as die nuwe maatjies nie regtig met my wou speel nie. Familiegewys is ek gelukkig want ek het nog my eerste vroutjie al vir die laaste 20 jaar, en twee super-amazing kinders saam met haar. Die een skryf nou matriek en my dogter gaan standerd sewe toe. 

  1. Gee ons ʼn opsomming van die soort onderneming en bedryf?

Dis half ʼn nuwe ding in Suid-Afrika. Die tekstiel- en klerebedryf in Suid-Afrika het eintlik ʼn verskriklike neerlaag gely, maar wat ons gesien het met Kakiebos is dat daar is ʼn geweldige behoefte is aan kwaliteit in die bedryf. Ek moes onwillekeurig betrokke raak by sekere bene van die vervaardiging van klere. Vervaardiging van T-hemde wat uit die aard van die saak die eerste been is. So ja, ek baie geleer, ek kom uit ʼn tandtegnikus-agtergrond en waar ek tande gemaak het moes ek begin T-hemde maak! 

kbm122-black

  1. Op watter soort probleem fokus jy?

In ʼn stadium was daar ʼn geweldige klomp blink nuwe handelsname wat verskyn het, nuwe outjies wat regtig hulle stempel afgedruk en in my rigting beweeg het, maar ek dink ʼn ou moet altyd teruggaan en dankie sê omdat dit gebeur het. Die rede vir hierdie dankbaarheid is dat daar maar ʼn persepsie daar buite is dat Afrikaans een of ander nare slagspreuk of eenvoudige sêding móét hê. En ek glo daar is ʼn plek in die mark daarvoor, maar ons het gedink om eerder ʼn handelsnaam vir die Afrikaanse Suid-Afrikaner te stig waarop hy kan trots wees.

  1. En dis ook wat die onderneming anders maak as dié van jou kompetisie?

Ja, ek dink so. Ons het besluit jy het óf ʼn korttermynvisie waar jy jou T-hempies op skoue en plekke soos daardie van die hand kan sit, óf jy het ʼn langtermynvisie, wat hulle in Engels noem longevity, en dit was ons oogmerk. Vir ons was dit iets wat nie tydelik is nie, iets wat nie ʼn vinnige kontantmaker is nie, maar iets wat ons weet oor tien of 15 of 20 jaar nog steeds daar kan wees en koppe kan stamp met ander handelsname; die groot ouens van hierdie wêreld.

  1. Julle teikenmark en ideale kliënt was natuurlik van die begin af die Afrikaanse mark. Sluit dit ook internasionale of toeriste-kopers in? Of is die teikenmark steeds hoofsaaklik die Afrikaner?

Weet jy wat, ja. Wat ek wel kan byvoeg in terme van die teikenmark, is dat ons wel gevind het, en dit is wat nogal fantasties is van die Suid-Afrikaner, dat hy in die laaste paar jaar baie meer begin staan het op sy regte en dít waarin hy glo, met ander woorde hy het al hoe minder skaam begin raak. Ons teikenmark is die ou wat lankal vrede het in homself: Hy is trots Afrikaans en dit op sigself skep vir ons ʼn ideale kliënt. 

screen-shot-2017-02-07-at-8-39-54-am
  1. Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Jislaaik, dat ek nie vroeër begin het nie, dink ek. Ek dink dit gebeur net dat ʼn mens uit ʼn beskermde omgewing kom. Jy word grootgemaak met die leuse: “Kry vir jou werk en jy bly daar.” En dit word gewoonlik opgevolg met: “Dis wat jy gaan doen en dis waar jy gaan aftree.” Ek was tien jaar in die weermag en het daar geleer: Niks in die wêreld is ooit verniet nie en niks wat jy doen verskaf nie ook later iets nie. Maar ek dink ek moes definitief vroeër begin het, sommer baie vroeër.

  1. Wat dink jy kan julle nóg beter doen?

Ek dink in dié stadium bly my fokus op kwaliteit, maar ek dink ook aan uitbreiding. Uitbreiding binne die reeks, die wyer mark, deur meer te kyk na internasionale uitbreiding. Uit die aard van die saak gaan dit maar oor koste en die aanbiedinge wat jy het. Ons is bevoorreg in Suid-Afrika om ʼn groot aanbieding te hê, maar ek dink tans gaan dit net om die regte, beter, beste produk daar buite te kan plaas. 

  1. Hoe gaan julle te werk om nuwe klante te werf?

Ons sit met sekere uitdagings, maar in hierdie stadium het ons so 13 tot 17 verteenwoordigers wat toevallig ook by ander handelsname betrokke is. Hulle is almal onafhanklike verteenwoordigers en dan maak ons ook grotendeels staat op word of mouth. Ons was gelukkig genoeg om, toe ons begin het, goeie vriende met ʼn paar Afrikaanse bekendes te wees en hulle het tydens hulle vertonings ons hemde gedra en dit maak ʼn groot verskil. Mense wat dit sien reken as daardie ouens meen dis goed genoeg om te dra, waarom nie ons ook nie? Ons het ook hier en daar ʼn paar advertensies geplaas en winkels en handelaars het dit gesien en gevra of hulle dit in hul winkels kan aanhou. Dit werk regtig goed vir ons want dan sit jy met ʼn koper én ʼn klant wat albei die produk wil hê, en jy het dit nie aan hom afgesmeer nie. 

hardus

Hardus Blignaut.

  1. Wat is tans of histories ʼn groot pyn in die onderneming?

Uitbreiding. Toe ons begin het, het ons sekere beginselbesluite geneem omdat ons die handelsnaam, Kakiebos, ʼn bietjie uniek wou hou. Ons het besluit ons gaan nie in die kettingwinkels soos Edgars en daardie soort plekke in nie, maar inherent beteken dit dat baie winkelsentrums omtrent net uit kettingwinkels bestaan. Daar is dus baie min onafhanklike handelaars, en dit inhibeer groei as jy nie ʼn mall footprint het nie. Ons was gelukkig om verskeie van die kleiner groepe te kon kry om in te kom, groepe soos Trappers en Outdoor Warehouse. Maar daar is ook ʼn voordeel en ʼn nadeel, want aan die een kant kan jy nie verskriklik uitbrei nie, maar die voordeel is jy is nou ook nie in daardie groot kleinhandelwinkels nie, want hulle maak die reëls, en dan vat dit weer die lekker uit die saak en dié twee móét hand aan hand loop. Dit bly maar ʼn delikate balans.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ALIDA COETZEE ·

EK EN MY MAN , DIRK IS BAAAAAAAAAAAAAAAIE GROOT KAKIEBOS “FANS”…………EN EK KON SOWAAR DIE SEUN EN DIE SKOONSEUN OOK AANSTEEK. GEMAKLIK EN TROTS SUID AFRIKAANS………………………KAKIEBOS BO…..!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.