Kalenders help geld insamel vir dokumentere rolprent oor SA renosters

stroop-kalender-bonne-onderhoud-met-veldwagter

Bonné voer ‘n onderhoud met ‘n Veldwagter in die spesiale teen-stropingseenheid (vir sekuriteits-redes word die naam nie bekend gemaak nie) wat sy al ‘n hele paar jaar volg vir STROOP. Foto: Verskaf.

STROOP, die belangrike dokumentêre rolprent oor ons renosters, stel in Desember ʼn kalender vir 2017 bekend. Maroela Media het met Bonné de Bod, bekende en bekroonde televisie-aanbieder en ster van STROOP gesels om meer uit te vind.

MM: Die kalenders lyk fantasties met foto’s van die krisis wat regdeur gebruik word. Daar is geen foto’s wat die werklikheid grafies uitbeeld nie en daar is ‘n tema vir elke maand. Hoekom het jy gevoel daar moet ʼn STROOP-kalender wees?

BdB: Soos jy weet, word ons rolprent finansieel deur die publiek gesteun en vir hierdie rede voel ek dat die publiek deurentyd deel van die prent se proses moet wees. Dit is ook die rede vir ons sterk teenwoordigheid op sosiale media, op Facebook, Twitter en Instagram waar ons daardie konneksie maak met diegene aan wie die prent behoort – die publiek. As ons ʼn inhegtenisneming saam met die veldwagters in die Krugerwildtuin verfilm of saam met die staatsaanklaers in die hof, kan ons natuurlik nie regstreeks twiet nie. Die laaste ding wat ons wil doen is om ʼn saak in gevaar te stel. Maar die kalender het na ʼn wonderlike manier gelyk om iets aan die publiek terug te gee. Ons vennoot in die drukwerk, Burblepix, het regtig ʼn groot bydrae gelewer en die prys drasties verminder sodat ons dit vir so min as R199 en gratis aflewering vir twee of meer kalenders in Suid-Afrika kan doen. Jy kan dit kwalik klop en die kwaliteit is uitstekend.

MM: Ek sien Januarie gaan oor die Krugerwildtuin en September is veldwagter-maand, en julle het ʼn paar pragtige foto’s met diep woorde uit die veld oor jou tyd saam met die veldwagters in die park.

BdB: Ja, en om die waarheid te sê, ek is pas terug van die Krugerwildtuin waar ek tyd saam met die spesiale veldwagter teen-stropings en honde-eenheid deurgebring het en ek moet dit net benadruk – die aanslag op ons renosters is genadeloos. Die intensiteit in die park is ongelooflik hoog en daar is daagliks tot 15 groepe bendes stropers wat die park binnedring. Dit is ongelukkig waarmee ons renosters en hul beskermers tydens die feesseisoen te doene het. Stropers wil ʼn vinnige paar rand verdien en die sindikate weet dit. Dit is ongetwyfeld die beste tyd van die jaar vir kriminele sindikate. As jy daaraan dink dat die Krugerwildtuin die grootte van Israel is, kan ʼn mens verstaan dat dit nie ʼn maklike taak is om die park te verdedig nie. Twee miljoen hektaar met moeilike terrein. Maar selfs onder hierdie moeilike omstandighede het die veldwagters ʼn rekord aantal arrestasies die afgelope maand gedoen – in een week was daar 18.

Die veldwagters het my verseker dat hulle gereed is vir wat die volgende paar weke voorlê, maar vra die publiek om bewus te wees van hul teenwoordigheid. Baie keer kom die veldwagters op ʼn klomp motors in die pad af waar toeriste byvoorbeeld leeus dophou en dan kan hulle nie verbykom nie. Die toeriste laat hulle eenvoudig nie deur nie. Dit is totaal onaanvaarbaar. Hierdie veldwagters reageer duidelik op ʼn stropingsvoorval, hulle is gewapen en is op pad na ʼn belangrike toneel. Ek doen ʼn beroep op mense wat die park tydens die feesseisoen besoek om hierdie veldwagters te help wat daagliks hul lewens op die spel plaas om ons erfenis veilig te hou.

Terwyl ons gereed maak om tyd saam met ons geliefdes deur te bring, kom ons dink aan hierdie helde daar in die voorste linies.

Ondersteun die rolprent en help om dit onafhanklik te hou deur ʼn 2017 STROOP– kalender van www.sdbfilms.com/stroop-film te koop.

Meer oor die kalenders

Die mooi hoë-resolusie foto’s in die kalender is almal van die verfilming van STROOP afkomstig.

Van die slagvelde van die Krugerwildtuin en iMfolozi waar die veldwagters sonder verwyl werk om ons renosters te beskerm, die plase en private reservate van renoster-eienaars, diegene wat na getraumatiseerde wees-renostertjies omsien en rehabiliteer, die veeartse, wetenskaplikes en navorsers wat renosters in die veld behandel, onthoring en selfs operasies op hulle uitvoer, tot die hofsale waar die slagveld verander om stropers en sindikaatleiers suksesvol te vervolg … hierdie is beeldmateriaal van die rolprent nog voordat dit uitgereik is.

Al die belangrike omgewingsdae is op die kalender aangedui, sowel as volmaan wat ons keer op keer herinner aan die pogings om ons renosters in hierdie tyd te beskerm. Die volkleurkalenders is van omgewings-vriendelike papier gemaak wat van volhoubare bosboupraktyke afkomstig is.

Boonop gaan die opbrengs van die kalenders om die rolprent te voltooi en om dit onafhanklik te hou, om vir die publiek te sê dit is hulle prent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gustav ·

Die renoster se grootste bestaanskrisis is die verbod op horingverkope. Dit bring mee dat hulle meer waarde vir stropers as vir boere het. As die wildsboere van die land toegelaat was om die horings te verkoop, het hulle die geld gehad om die diere te teel en te beskerm. Wildsboere het voorheen die wit renoster van uitwissing gered – omdat hulle kon geld maak uit die diere. Die regering, IUCN en CITES moet liewers uit hulle pad uitkom sodat hulle kan doen wat hulle doen, en dit is om spesies te red.

John ·

?.. en hoeveel ander klim ook op die trein om geld te maak…

Johann ·

Nobele gedagte. Ek sou baie graag so ‘n almanak wil hê, maar ek skenk eerder dubbel die geld, want selfs die aanskou van die foto’s is nie vir my nie, Ek het net so een, daar op bladsy twee gevang, en ek hon dit beswaarlik hanteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.