Kamp te Koffiefontein ‘leerskool van denkers’

Renaud Booysen by sy pa, wat ‘n stormjaer was, se ring wat hy geskenk het. (Foto: Verskaf)

“Die Koffiefontein-interneringskamp het eintlik ʼn reddingsliga vir Suid-Afrika geskep.”

Dit is die mening van Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, wie se familie self in die interneringskamp tydens die Tweede Wêreldoorlog (1942 – 1945) was.

Volgens Noëth moet daar meer oor die geskiedenis van die Ossewabrandwag (OB), waarvan baie lede in dié interneringskamp was, gepraat word.

Noëth het tydens ʼn lesing by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria lig gewerp op leierskapsontwikkeling en wat in die Koffiefontein-interneringskamp plaasgevind het.

Wat min mense besef, is die geweldige invloed wat die OB en die aanhouding van OB-lede in interneringskampe soos Koffiefontein en Ganspan op die Afrikaner en Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad het.

Een so ʼn voorbeeld is dié van John Vorster, eerste minister en later president van Suid-Afrika, wat op die ouderdom van 24 waarskynlik een van die jongste hoofgeneraals in die OB was en wat ook vir ʼn jaar en twee maande op Koffiefontein aangehou is.

“HG Stoker (beskou as grootste filosoof in Suid-Afrika), BJ Vorster, ‘Lang’ Hendrik van den Berg (stigter van buro vir staatsveiligheid, 1968 – 1978) en FC Erasmus (minister van verdediging en justisie) se paaie het almal op een slag gekruis.

“Wanneer 27 mense in een kampong vir twee of drie jaar in ʼn kamp so saam is, beïnvloed ʼn mens mekaar se denke en sienings. Hulle het mekaar se lesings bygewoon. Dit was werklik ʼn teelaarde vir kennis.”

Hannes Noeth en Renaud Booysen. (Foto: Verskaf)

Noëth is van mening dat die idee vir ʼn republiek op Koffiefontein gebore is.

Die manne op Koffiefontein het gereeld na die interneringskamp verwys as die “Boere-Republiekie van Koffiefontein.”

“Ek glo Koffiefontein is waar Republiekwording gebore is. As 800 mense van die Kaap, Natal, Vrystaat en Transvaal wat dieselfde siening het, van wat ek glo anti-Brits was, dan vrylaat en terugstuur word waar hulle vandaan kom, en hulle is ook invloedryk, wat dink jy gaan gebeur? Dit was ʼn gemeenskap van mense, ʼn slypskool wat mekaar gevorm het.”

Die OB het sy ontstaan as kultuurorganisasie gehad met die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938. Dié beweging het vinnig tienduisende Suid-Afrikaners se steun gewen.

Ná die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het genl. Jan Smuts aangekondig dat Suid-Afrika Engeland sou steun en hulp aan die oorlogspoging verleen wat die verset van die OB uitgelok het.

Die vraag word nou gevra: Was OB-ondersteuners pro-Adolf Hitler en -Nazi-oortuigings of het hulle hulself slegs verset teen die Britse ryk?

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn lessenaar en teleskoop van die OB-leier, Hans van Rensburg, asook ʼn paar selfgemaakte items wat OB-lede in interneringskampe gemaak het, van die items is wat op die oomblik by die Erfenisstigting in Pretoria uitgestal word. Die 1942-uitstalling is oop vir die publiek en sal nog geruime tyd te sien wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.