Kanker stuit nie UP-dosent se PhD-droom

Dr. Lorette Arendse (Foto: Verskaf)

Toe borskanker in 2015 by Lorette Arendse, ʼn senior dosent in regswetenskap by die Universiteit van Pretoria, gediagnoseer is, het sy nie veel hoop gehad dat sy dié stryd sou oorleef nie.

“My eerste gedagte was dat ek soos my ouer suster vroeg sou doodgaan,” vertel sy.

Arendse het in 2014 vir ʼn doktorsgraad in regte (LLD) ingeskryf, maar moes noodgedwonge haar studie staak toe borskanker ʼn jaar later by haar gediagnoseer is.

“Binne ʼn week na my diagnose het ek met chemoterapie begin,” onthou sy. Vir ses maande het Arendse behandeling ontvang wat ʼn geweldige invloed op haar liggaam gehad het.

“Die middels wat in my liggaam gepomp is, het soms veroorsaak dat ek vir dae nie kon loop nie.” Arendse sê sy is innig dankbaar vir haar ma wat haar deurentyd versorg het. “As gevolg van my ma se krag, wysheid en geloof het ek oorleef.”

Arendse het ná haar chemoterapie ʼn mastektomie, twee rekonstruktiewe operasies en ses weke lank bestraling ondergaan. Toe sy in 2016 terug is werk toe, was sy steeds met aggressiewe kankerbehandeling besig.

Dit het Arendse ʼn jaar geneem voordat sy weer op haar doktorale studie kon fokus. In 2017 het sy die onderwerp van haar proefskrif verander en die graad later onder leiding van prof. Ann Skelton behaal.

Arendse meen dat sy hierdeur opnuut haar eie krag en veerkragtigheid ontdek het.

“Ek is baie hardkoppig en ek weier om ʼn nederlaag te aanvaar,” sê sy. “Dit maak nie saak hoe moeilik dinge raak nie. Ek weet dat ek die krag het om van dié moeilikste uitdagings in die lewe te oorleef.”

Hoewel sy dikwels handdoek wou ingooi, sê Arendse dat sy om vier redes nié opgegee het nie: Sy het geglo dat haar lewe ʼn doel het en dat sy bestem is om ʼn positiewe impak op mense se lewens te maak; haar geloof in God het haar gedra, veral op dae toe sy gevoel het dat sy nie uit die bed kon klim nie; sy wou ʼn goeie voorbeeld wees vir die inwoners van Roodewal, wat nie baie rolmodelle het om na op te sien nie; en uiteindelik wou sy haar ouers trots maak. Arends se pa kon gelukkig ʼn paar van haar gradeplegtighede bygewoon voor sy dood in 2011.

Arendse het onder moeilike omstandighede in Roodewal, ʼn township naby Worcester in die Wes-Kaap, grootgeword.

Lorette Arends het in 2014 vir ʼn doktorsgraad in regte (LLD) ingeskryf, maar moes noodgedwonge haar studie staak toe borskanker ʼn jaar later by haar gediagnoseer is (Foto: Verskaf)

“My pa het nie sy laerskoolloopbaan voltooi nie en my ma het aan die einde van gr. 8 skool verlaat,” vertel Arendse. Haar ouers moes albei werk om sodoende na hul families om te sien. Ondanks vele struikelblokke en uitdagings het Arendse se ouers daarin geslaag om hul kinders groot te maak en te laat matrikuleer.

Arendse was een van haar skool se top-matrikulante en sy is gekeur om regte aan al die Wes-Kaapse universiteite te gaan studeer. Maar haar ouers het nie die finansies gehad om daarvoor te betaal nie.

“Ek het verskeie banke om ʼn studielening genader, maar hulle het my almal [my aansoeke] van die hand gewys omdat my ouers nie die borg kon voorsien wat leners gewoonlik benodig nie,” sê sy. Trouens, sy onthou dat sy by bankbestuurders gepleit het om op haar uitstekende studierekord as borg te vertrou.

“Ek het geweet dat ek suksesvol sou wees met my studie en dat ek dit ná die gradeplegtigheid sou kon terugbetaal, maar hulle het botweg geweier,” sê Arendse.

Sy het toe vir sewe jaar gewerk om die geld bymekaar te maak wat sy nodig gehad het om vir ʼn LLB-graad by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) in te skryf. Arendse het nie geweet hoe sy die res van haar studie sou betaal nie, maar haar besluit het vrugte afgewerp.

“Binne ʼn maand nadat ek by UWK ingeskryf het, het ek ʼn beurs van ʼn Britse instelling ontvang,” vertel sy. “Die beurs het nie net die studie- en verblyfkoste van my eerste jaar gedek het nie, maar al vier jaar van my graad.”

Arendse het in 2007 haar regsgraad voltooi en in 2009 haar meestersgraad met lof behaal. In dieselfde jaar is sy deur die konstitusionele hof van Suid-Afrika as regsklerk aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petrus ·

Doktor Arendse, jy’s ‘n sprankelende inspirasie. Baie seën vir u en die geliefdes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.